Skip to main content

Elke vrou behoort een maal in haar lewe Thailand toe te gaan. Die kakofonie van straatmarkte beleef en aan die slaap raak met die nimmereindigende tuktuktoeters in jou ore.

Thailand met al sy onuitspreeklike lekker strande, kos en shop-till-you-drop stalletjies en winkels is natuurlik op elke vroulike reisiger se wenslys. Dan natuurlik hits die goedkoop vlug- en verblyfpakkette jou nog verder aan om alle verantwoordelikhede (en inhibisies) oorboord te gooi en aan boord te spring.   Erens in jou lewe moet jy Thailand toe!

 Die vooraf navorsing is helfte van die lekkerte – op die internet; boeke en om almal wat al ooit ‘n toon daar gesit het te vra, foto’s te kyk en sommer gou so deurmekaar te wees soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartieboks. So many options, so little time

Een mooi Junie-dag pak ek en my ousus, Lenie die trek Thailand toe aan. Ons hop soos rubberballetjies van excitement. Kan ons geluk nie glo dat ons sonder kind of kraai vir drie weke die land van heerlikheid gaan besoek nie.

Hier lyk die voorportaal soos Saterdag in Roodepoort se inkopiekern. Dis gepak van SA vrouens met groot slotte aan die tasse, nog groter handsakke vir die shopping en ‘n versameling van appliekbloesies, rekmiddellyf denims en crocs om beter te kan stap my kind. ‘n Vrou met ‘n shopping missie is ‘n gevaarlike ding en hier het die menigtes toegesak.

Eers is dit ontbyt en ons pyl veilig verby die noedels en spinasiegereg na die koue vleis en slaai buffet. Vrugte waarmee mens kinders kan bangmaak loer vir jou uit die bak, maar ons hou koers en eet die bekende gekookte eier, kaas en brood.

 

Stadskaskenades

As jy by die voordeur uitstap tref die swaar, klam hitte jou tussen die oe en binne tien minute sleepvoet  ons van tuk-tuk tot tuk-tuk – die klein oop mini-bussies wat jou van een plek na die ander zirts. Jy klou verbete aan die dak as die bestuurder deur duisende motors en motorfietse vleg teen hartstilstand spoed en rakelings voetgangers skraap sover hy jaag. Toeters skel en fietse met bakkievragte is alles deel van die verkeer. ‘n Familie van vier ry almal op een motorfiets – ma en pa netjies aangetrek in snyerspakke, boetie in skooluniform en baba agterop. Almal word padlangs by hul bestemming afgelaai en vanmiddag word die ritueel sekerlik weer herhaal.

Die strate en sypaadjies is kakofonie van geur en kleur. Dit is gepak met stalletjies vol bleekwit hoenders, slange in witblits, die bontste klere & vrugte en groente.  Lietjies is so groot soos suurlemoene en suurlemoene so groot soos spanspekke ens. Oral is sapstalletjies met die ongelooflikste vars vrugte slush-puppy drankies. My eerste bevrore waatlemoensap is so soet en geurig dat ek summier die stalletjie-eienaar verdink van verneukery, maar na deeglike observasie sien ek dit is slegs vars, pas-oopgesnyde waatlemoen wat in die masjien gevoer word – ongelooflik

Die winkels se voorraad word in die dakke gebere en as jy ‘n nommer soek verdwyn die assistent in ‘n obskure gaatjie om dit te vind. Ek vererg my egter bloediglik, want sover ons stap roep almal jou nader en vir my spesifiek met “for you extra big size”. Nouja, my hele familie weet niemand lewer kommentaar oor my kurwes nie – so onnodig om te se dat daardie winkels totaal geignoreer is en my sussie op die sypaadjie gaan sit het om te lag dat die trane loop. Ek weet in elk geval nie wat Thaise mense eet nie, want 99% van hulle is so klein en fyn dat mens versigtig moet wees om hul nie dood te trap nie.

Een van die winkelsentrums het 12 verdiepings en elke vloer bestaan uit duisende stalletjies (nie winkels soos by ons nie). Dis tafellinne, houtpaddas wat kan kwaak en sonbrille vir Afrika. Veral die verskeidenheid denims is oorweldigend, maar gemaak vir mense wat net een maal ‘n week ‘n komkommerskyfie lek. Ek koop dus maar tafelmatjies, perels, ‘n bamboesskinkbord en elke uur nog bevrore waatlemoensap

Die uitstappie na die drywende markte op kanale is vol verrassings en ompaaie. Per bus so een en ‘n half uur, maar eers maak ons ‘n draai by ‘n houtsneefabriek waar demonstreerder se smal skouertjies in ‘n permanente boog getrek is en sy gesig lyk soos ‘n ou knoets in ‘n boomstomp. Krom voete klou die hout vas en sy blitsige handewerk lyk na kulkuns.

Die volgende stop is ‘n groot park waar tradisionele thaise dansers in ‘n houtamfiteater al vinniger en vinniger oorlogsdanse uitvoer op oorverdowende tromslaanritmes. Net daarna kan ons ‘n paar olifante besoek wat verveeld naderstaan vir die daaglikse vertoning. Hulle is kleiner as die Afrika-weergawe, maar net so behendig met die slurp en pootaksies.

In die doolhof kanale ry ons vir kilometers tussen skewe boothuise wat lyk asof die ligste windjie dit kan laat tuimel. Hier gaan die kanaallewe aan soos eeue tevore. Dit is wasgoed was, bad met ‘n koekie seep in die hand en kinders wat uitgelate plas – alles in die vuil modderwater terwyl muskiete soos helikopters om jou kop bewe.

Die Damnoen Saduak drywende mark is selfs nog mooier as enige poskaart wat. Dit is die grootste van die drywende markte en ‘n moet op enige toeris se lys. Lang houtbote is steunvol gelaai met vrugte en groente, vars kruie en souse. Party ander is drywende take-away thaikosrestaurante en nog ‘n paar verkoop die daaglikse basiese artikels wat enige huisvrou alewig op nommer 99 nodig kry. Dis plastieksiwwe, wokpanne, opskeplepels en ‘n magdom rysstomers wat in piramides gebalanseer word vir optimale visuele effek. Ons vleg deur die handelsbote en word verwelkom sover ons vaar. Almal wil graag iets verkoop, maar is glad nie opdringerig of oorlams nie. Die fyn, statige glimlag van ‘n thaise verkoopsvrou kry meer reg as die duurste tv-advertensie ter wêreld.

Te gou is ons tyd in Bangkok verby, maar die treinrit Chang Mai toe lê voor en een laatmiddag vind ons die groot miernes-treinstasie waar die reis moet begin.

Leave a Reply