Skip to main content

Tzatsiki, blou waters en mooi argitektuur: Korfu ‘n verrassing in elke opsig.

Soos dikwels tevore kry ek skielik op ‘n dag net ‘n naam van ‘n plek in my kop en moet dan teen wil en dank soontoe. Daar is spesifieke rede nie, maar dis asof die heelal vir my se dis tyd vir soontoe gaan. Hierdie keer was dit egter ook omdat dit ‘n goedkoop retoer was van Zagreb af.

My navorsing oor Korfu was beperk tot die feit dat Gerald Durrel die oulikste boeke geskryf het oor hierdie eiland,  dat iemand die naam Paleokastritsa genoem het en ek gedink het dis veilig  om in die “hoofdorp, Korfu Old Town” te begin.

 Op ‘n Vrydagmiddag vlieg ek en my niggie van Zagreb af met Ryanair en as jy die handbagasiereel  van 10kg nie oortree nie is die volle bedrag 100 Euros retoer.

Korfu as eiland:

Die eiland is baie groen en heuwelagtig met poskaart mooi baaitjies oral om die kuslyn.

 Dit is die grootste Griekse eiland  en gelee in die Ioniese See. Dit  beslaan 619.3km2.

Die Venesiers het vir meer as 400 jaar hier geheers en dit het ook onder Franse en Britse heerskappy verskillende invloede beleef. In 1864 is dit weer ingelyf by Griekeland.

Al hierdie nasies het Korfu ‘n unieke identiteit gegee wat heeltemal verfrissend verskil van die ander Griekse eilande.

Korfu Ou Stad (Kerkyra)

Ons eerste 4 nagte word hier spandeer en as mens net eers oor die skok van die taxi pryse van die lughawe af is, wag hier ‘n lieflike verrassing.  Bree voetgangerstrate met winkels vol klere, juwele en selfs chemies gegenereerde dagga begroet jou.  Die linneklere is van goeie gehalte en aangesien Griekeland ook bekend is vir sy leerprodukte vaar ons sommer in die eerste  skoen & handsakwinkels in. Boeta kry ‘n “man bag” en mamma koop vir haarself ‘n grasgroen handsak.  Gelukkig geen koeie naby nie.

Kerkyra (Old Town) is verklaar tot UNESCO erfenisstad en dit is by verre die skoonste strate wat ek nog beleef het.  Die hele stad is eintlik ‘n opelug museum met Venesiese boustyl, ‘n ou en nuwer fort, argeologiese museum en pragtige dorpspleine Liston en Spianada.

Dit word gou duidelik dat hier byna geen vuillisdromme is nie. As jy ‘n roomys in ‘n bakkie gekoop het gaan jy terug na die winkeltjie en gaan gooi die bakkie daar weg.  ‘n Vuillislorrietjie (bitter klein) doen wel twee maal ‘n dag die rondtes deur die strate.

Dit is bougeanvilla-tyd en die baldadige skelpienk trosse hang van geboue en mure af. Elke hoekie het ‘n Instagram-oomblik.

Die eerste aand eet ons by Taverna Marina en proe die lekkerste moussaka tot op hede.  Jy proe sommer die kaneel en Belchamelsous. Ons eet natuurlik ook  griekse slaai en tzatsiki en laasgenoemde word stapelvoedsel by elke ete vir die res van ons tyd in Korfu.

Dae word spandeer met rondsnuffel in die talle winkeltjies en een van die grootste verrassings is die pragtige handgemaakte juwele. Vir ‘n oorbel “freak” soos ek is dit soos ‘n verkleurmannetjie op ‘n Smartieboks. Waar, hoeveel en watter kies mens?

Ons volgende ontdekking is Nino’s – die huis of liewer klein vertrekkie waar die vrou wat Gyros tot ‘n kuns vervolmaak het heers. Dit is ‘n plat pita broodjie waarop gesnyde lams of hoendervleis, aartappelskyfies, tzatsiki en slaai gelaai word.  Dit word dan in ‘n “cone” gedraai in papier en jy eet dat die sous by jou ken afdrup. Ons is so beindruk dat ons sommer nog ‘n aand teruggaan vir meer. Die kelners is useless en een van die werkers knip permanent albei oe, maar jy sien alles oor, want Gyros is lip-aflek-kos.

Ons het in een van die heel oudste straatjies gebly in Kerkyra en my niggie het ons bederf met ‘n luukse tweeslaapkamer woonstel. Reg onder ons woonstel het ek elke dag ‘n uur of wat verwyl by die koffiewinkel Porselina met die pikanste porseleineetgerei, lekkerste koffie en plaaslike kuns teen die mure.  Die meubels is alles ou stoele wat weer stoffeer is met skakerings van blou materiale. Daar is werklik min dinge wat my meer gelukkig maak as ‘n mooi koffiewinkel met goeie koffie.

Ek was al voorheen by ander griekse eilande, maar die bedagsaamheid, vriendeliklikheid en mooi maniere van die Korfuiete slaan ons asem weg. Die winkeleienaars is altyd reg vir raad oor beste restaurante en gee glad nie om dat jy aanpas nie.  By een winkel ontmoet ons tannie Georgia wat al diep in haar 70s is. Sy het die heel mooiste juwele, maar vergewe ons maklik vir probeer en niks koop nie.

Blou Grot en Paxos

Op ‘n dagreis per boot verken ons die Blou Grot (ja elke kus in die wereld het blykbaar een), maar dis ‘n grou dag en die water lyk alles behalwe blou. Die kranse is egter imposant en die rit werd.  Middagete anker ons vas by die eiland Paxos wat nou super gewild is as gevolg van die Netflix series “Maestro in Blue”.  Ek het so koud gekry op die boot dat ek ter nouer nood ‘n kikoi koop en toe eindig met 2. Hier ontdek ons ‘n eg griekse restaurantjie verder weg van die waterfront en ja julle het reg geraai… ons eet griekse slaai en tzatsiki.

Paleokastritsa

Die kusdorpie le so 35km van Kerkyra af en na ‘n lelike misgis oor waar die busterminaal is strompel ons die Green busstasie in. Twee km later, natgesweet en flou tasse gesleep.  Gelukkig is die busrit na Paleokastritsa verder sonder voorval, behalwe dat ons die busstop naby ons huisie mis en weer ‘n ent moet terugry nadat die bus al sy laaste stop gemaak het.

Ek was verantwoordelik vir hierdie verblyfbespreking en hoewel die gebou soos ‘n prentjie uit ‘n griekse tydskrif lyk met wit mure, blou  deure en pienk bougeanvillas is die stort so klein dat jy buite moet omdraai en getooi in ‘n nuttelose blou frilletjiesgordyn.

Die lekker stoepie met tafeltjie en niggie se stash gin maak gou op vir eerste minder positiewe  indrukke.

Die blou strande en geheime baaitjies is onbeskryflik mooi en op dag twee huur niggie ‘n bromponie om ons te vervoer. Nou laat ek maar noem dat ek nie juis die flinkvoetigste of kleinste passasier is om te “lift” nie.  Verder het ek ook al te veel bangmaakstories gehoor.  Arme niggie moes my behoorlik eers train voor ek rymateriaal was.  Om alles te kroon besluit ons dat die eerste stop ‘n wynproelokaal is.  Ek het daarna ekstra styf vasgehou, want ‘n dronk vrou wat in die pad le is nie mooi nie.

Ons volgende stop was die mooie klein gehuggie in die klowe nl. Lekades. Hier moet een van die restauranteienaars elke keer sy sambrele afslaan voor ‘n bus kan verbyry en op daardie dag sien ons drie businsidente. Ons besoek ook die pragtige monastery terug in Paleokastritsa. Dit dateeer uit 1255 en  ons geniet die gebou en ikone in die klein museum met oorgade.  ‘n Paar bokke se gebler trek ons nader toe ons die klokke verwar met ‘n Hari Khrisna byeenkoms. Daar is lammertjies wat gulsig drink en ook ‘n hele hok met poue wat vermakerig pose om die ander kleintjies af te skrik.

By dag twee is ek so mak dat ek sommer saamry sonder om vas te hou. Ons pak ‘n bergpas aan met ‘n kronkelpaadjie so hoog soos Tafelberg. Die pad is so nou dat ons vir twee ure vertraag word omdat hul eskom aan ‘n draad werk verder op in die bergpad. Van bo af sien ons die heel mooiste natuurtonele en ‘n geheelbeeld van al die baaie, inhamme en gewilde strande. Ons middagete is by Il Pozzo restaurant driekwart op teen die berg.  Die terras se uitsig is 180 grade en die mooie eienaar-kelner sorg vir die res van die view.  Die pasta is onverbeterlik en ons gaan sleepvoet daar weg.  Die laaste been van ons rit kronkel tussen gehuggies wat vasklou aan die berg. Ons ry tot heel bo waar die bekende Angels Castle wag hou op die heel hoogste bergspits. Die daguitstappie was definitief my hoogtepunt van die hele tyd se verblyf hier.

Niggie is meer aangelê vir swem en strandlewe en het elke dag ‘n nuwe plekkie verken.  Hier is ‘n lysie van haar moet-swem spots: Paleokastritsastrand/ La Grottastrand/ Roviniastrand/ Limnistrand/ Agios Petrosstrand.Daar is ook taxibote wat jou na meeste van die versteekte strande kan neem deur die loop van die dag.

Die laaste aand draf niggie ‘n restaurant met die mooiste uitsig raak en ons  en word nie teleurgestel deur Nikos nie.  Dit kyk uit oor Paleokastritsastrand. Teen sononder gloei die laaste strale oor die stil baai en tooi alles in ‘n goud-oranje mantel. Die kos is lekker, die ambiance perfek en die huiswyn bekostigbaar.

Korfu se heuwelagtige natuurskoon,  vriendelike inwoners, mooiste strande en onvergeetlike landskappe kruip in jou hart en dit is op my lys van weersienplekke.

Leave a Reply