Skip to main content

Van houtsneewerk, geskilderde sambrele tot langnekvroue: die omgewing rondom Chang Mai slaan jou asem weg met kleur en ongewone ondervindinge.

Ons stap soek-soek deur die miernes hoofstasie van Bangkok met die mooi vloeiende naam van Hua-lumpong – op soek na die regte platform van die trein na Changmai. ‘n Vinnige stop by die karretjie wat gebraaide vars mieliepitte in papierglasies verkoop en nog ‘n stop by die krom tannietjie wat “flied bananas” (gebraaide piesangs) verkoop. Laasgenoemde is hemels en word in rysmeel en kokosneutmelk gedoop en dan gebraai in olie. Ons het al tasse ingelaai en sitplekke gekry, toe spring ons weer uit vir nog ‘n porsie.

Die trein is ‘n reuse verrassing op sy eie. Die kaartjies is vooraf deur die internet bespreek (tweedeklas…) en het slaapplek vir die nag gespesifiseer, maar al wat ek sien is rye en rye bankies met alle shapes en sizes mense, kinders, ‘n boks vol hoenders en ‘n fiets of twee. Nou waar is die beddens? Vroegaand gaan die lig toe aan, of was dit af? Die bankies en tafel word platgeslaan en bokant jou kop slaan nog ‘n smal (lees baie smal) bankie af, skuif ‘n gordyntjie toe en almal slaap sy-aan-sy in ‘n groot oop treinsaal. Na ‘n heerlike glasie van Woolies se bokswyn dommel ek in en wieg saam met die ysterwiele oor die vlaktes tot in Changmai – oornag vir 14 ure en 700 kilometer.

Chang Mai word gesien as die kulturele hoofstad van Thailand en dit is gou duidelik hoekom. Oral is personeel van openbare plekke geklee in kleurvolle tradisionele drag. Bouvaligge pagodas en verweerde bastions gee jou ‘n kykie op Thailand soos dit eens was.

By Borsang word chinese sambrele geverf wat lyk soos kunswerke wat geraam behoort te word, maar hier in is dit algemene gebruiksartikels. Die houtspeelgoedfabriek is oorlaai met alles waaroor ‘n peuter kan droom en verder af in die straat is die bekende lacquer ware in alle groottes en vorms. Die motor steun as ons laatmiddag by die hotel aankom en dan le die nagmark nog voor. Een tas sal definitief nie werk vir hierdie besoek nie

Sintuig-oorweldigende nag straatmarkte kry van laatnamiddag lewe langs elke vierkante sentimeter van die hoofstraat. Jy stap vir kilometers tussen stalletjies deur en word oorweldig deur geure van lemoengras, kokosneutmelk en gebraaide gemmer en natuurlik ook gefermenteerde vissous… Klere, hoede, handsakke, handwerk en tweedehandse tandeborsels is alles deel van die handelshub. Jy is later so oorweldig deur keuses dat jy summier by die naaste koffiehuis platval en jouself probeer moed inpraat vir nog ‘n uur of wat se kyk en koop.

 

Olifante, ossewaens en ‘n riviervlot in Chang Rai

Ek en my sus is albei op die skaal van 1 tot 10 van buitelugtipes (1 is non-exsistent), baie naby ‘n 3, maar ek kry haar en myself omgepraat om ‘n dagtoer te doen na die Ping Rivier so 60 km van Changmai. Die olifante en hul leiers wag ons reeds in en skielik lyk die idee glad nie meer so lekker nie, want die olifante toring soos rotse bo ons uit en ons is ernstig onsportief aangetrek vir die opklouter en vasklousessies. Toe die olifant my ook nog witoog en sy slurp verergd rondswaai wil ek liewer in die bussie gaan wag, maar ek byt vas en gou-gou balanseer ons wankelrig op ‘n houtbankie net agter oom Grootoor se nek. Lenie merk droog op “dis die grootste slurp wat ek in ‘n baie lang tyd tussen my bene gehad het” en toe laat waai ons sonder ritme met elke hobbeltjie en donga wat voel soos berge en dale. Die boswereld waar ons stap is pragtig groen en met net die olifant se asemhaling en onbekende bosgeluide raak dit ‘n onvergeetlike trippie.

Daar is selfs ‘n stalletjie waar die Lisu bergstam, oorspronklik van Tibet, hul handwerk verkoop en twee die twee stamvroue wag geduldig vir elkeen om sy kopie te maak. Myne is ‘n sakkie wat oor jou skouer kan hang met die mooiste borduurwerk en ‘n koeldrankblikkie hou. Dis nou wat ek noem East meets West. Terug by die beginpunt klim almal op ‘n ossewa. Dis sal ons vervoer wees na die riviervlotte. Ons drywer word skielik weggeroep om ‘n ander ossewa uit die pad te verwyder en daar staan ons gestrand. Plaasvars boeremeisies soos ons verstaan egter van osse en net daar spring Lenie op om die saak te beredder. Toe die drywer weer omkyk: daar gaan die multikulturele groep – ‘n SA ossewadrywer wat ‘n Thaise os moet touwys maak terwyl Franse, Engelse en Japanese toeriste agterop sonder enige benoudheid die natuurskoon bewonder. Een ding is verseker, selfs ‘n Thaise os verstaan hooo-nou!

Die riviertrip op die reuse handgemaakte vlot is ingekleur met sonstrale wat dans op kristalhelder water, ander riviervlotte wat vrolik waai en net die oorverdowende stilte van die natuur.

Die Goue driekhoek en Karen Langnekvroue

Dag twee is vroeg opstaan vir die lang rit na die Mae Khongrivier waar die berugte Bermuda Driehoek hande vat. Hier kom die grense van Thailand, Burma en Laos bymekaar. Ons reis vir meer as drie ure tot daar en vir die klein hopie sand in die middel van die rivier is dit ‘n groot teleurstelling wat vererger word deur die rivier se onstuimige water en ‘n baie twyfelagtige bootjie. Ons sit voet aan wal oorkant die rivier, in Laos, en draf in 20 minute deur die grashut-gehuggie met nog meer sinkende gevoelens van “is this it?” Armoede staan wit in die blom en as ons daar wegry voel my gemoed net so bedruk soos die humiditeit wat jou vasklem

In gebergtes op die grens van Thailand en Burma woon die Tha Ton langnekstam of Karenstam. Om by hulle uit te kom is ‘n halfuur se heuwelagtige stap en net toe my bene onder my begin ingee sien ons die grashutte teen die rand van die heuwels. Hutte is op stelte gebou en die gemeenskaplike bymekaarkomplek lyk soos ‘n lekker Wes-Transvaalse braaivleislapa. Ons ontmoet ‘n groot groep vroue wat oorloop van vriendelikheid. Hul lang sierlike nekke is oorlaai met koperbandewat swaar druk op die sleutelbene. Hierdie kameelagtige figure dra hul las met grasie en vrede. Almal wil aan ons raak en ‘n klein dogtertjie spring dadelik op my skoot. Ons verstaan mekaar se taal glad nie, maar die gemeenskaplike oeroue taal van vrouwees spreek harder as woorde en a great time was had by all! Later lees ek dat die nekke nie werklik gerek word nie, maar dat die swaar juwele die skouerbene afdruk sodat die nekke langer voorkom. Ek sal nooit weer kla oor ‘n las op my skouers nie.

 

Ons kom nooit eers by die ziplining uit nie en mis gelukkig ook die white river rafting , maar as jy ooit die mooiste, mooiste omgewing van Chang Mai en Chang Rai besoek, maak seker jy gebruik elke moontlike geleentheid – tyd vlieg en as ons weer sien is vyf dae verby en die vliegtuig wag na Phuket.

Leave a Reply