Skip to main content

Die blinkgladde water in die hawe van ons klein Kroatiese dorpie, Stari Grad word weinig versteur. Vroegsoggens prut ‘n paar visserbote terug na ‘n nag se vangs en hier en daar gly ‘n taksiboot tussen hotelle en die besigheidsentrum. Die water roer skaars, want branders is hier ongehoord en brullende motorbote met skiërs word glad nie toegelaat nie.

Namiddae teen die latenstyd wieg seiljagte met vlaggies vanoor die hele wêreld teen die vasmeerplekke en oral drink die vaarders en hul reisgenote glasies op nog ‘n dag se salige dobber op ‘n geruislose, turkooisblou Adriatiese See.

Wel, dit was nou tot vanmiddag. Binne ‘n uur trek loodwolke saam en ‘n ongeskikte wind warrel vanuit elke rigting. Dit is sommer die Bura en Maestral (twee woeste winde van die Balkan) alles in een. Bote wat tot ‘n paar minute gelede rustig oppad was na die hawe  is skielik in rep in roer. ‘n Storm soos laas op die see van Galilea bring benoude roepe en deurmekaar toue.

Daar is dreigende branders, dwars seestrome en ongedissiplineerde seiljagkapteins net waar jy kyk. Die hawemeester en sy makkers jaag James Bondstyl op ‘n klein potsierlike rubberboot om die inkomende seiljagte bymekaar te skraap, te orden en mooi in gelid staan te maak. Toue word gegooi, onervare vakansievaarders ry in mekaar vas vir die beste spot”en die hawemeester skree bevele in Kroaties. Niemand verstaan ‘n woord nie.

Meester is rooi van stres en sweetkolle slaan op sy rug en onder die arms uit. Hy weet nie waar om eerste te keer of laaste te los nie. Nouja elke vaarder het gewoonlik ook ‘n mooi vrou in ‘n bikini om sy boot te versier, maar ongelukkig is hul van min nut in sulke krisissituasies. Een Engelse langbeendolla skreeu op ‘n ander een “don’t bump into our yacht!”, maar minute tevore het haar einste seeman-pappie met goue-medalje-om-die-nek in ‘n ander boot vasgery. Daar is selfs ‘n ongure oliestreep op dolla se wang en die grimering is nou geruïneer.

In die verhaal van ontberinge verspin ‘n boersen van Suid-Afrika op die toneel. Hy help toue gryp en vasmaak,  skreeu  bevele in Engels wat almal kan verstaan en soos ‘n wafferse treinrangeerder help parkeer hy sowat agt bote onder moeite. 

By verdere ondersoek na die held se akkreditasie as seevaarder moet ek tot my spyt verneem dat hy nog nooit in sy lewe op ‘n seiljag was nie. Hy erken wel dat hy as laerskoolseun saam met sy boesemvriend, Danie Baard, eenmaal ‘n miniatuur seiljag gebou het uit die dorp se biblioteekboek. Tot hul stomme verbasing het egter terstond gesink toe dit te water gelaat is.

Hy is egter ‘n struktuur-ingenieur en werk dinge sistematies uit, kan Engels praat en het ‘n spesiale vaardigheid vir probleemoplossing.

Vroegaand drink die hawemeester ‘n stywe dop Pelinkovac om sy senuwees se flarde bymekaar te skraap,  by die naaste cafebar. Hy is omring deur ‘n paar locals en vertel die verhaal van die hawestorm en die Suid-Afrikaanse Wolraad Woltemade vir sy makkers. Wat hy nie weet nie is dat die man op sy fiets oorleef het sonder om ooit ‘n voet in die water te sit.

Leave a Reply