‘n Kliphuisie op ‘n webwerf – dis waar dit begin het.
Wie het nog nie gedroom van ‘n lang ruskans op ‘n verre, vreemde eiland êrens tussen hier en nêrens nie?
In Oktober 2003 pak ek en Francois (6 jaar oud) ons wieletjietasse in vir die lang ompadreis na Hvar-eiland, Kroasië. Ons is op pad na ’n klein kliphuisie op ’n eiland in die Adriatiese See – vir meer as drie maande.
Ons reis is ‘n vlug na Londen en via Bologne klim ons op die trein na Ancona. Daarna ‘n nagreis ver op die San Marina-veerboot tussen Ancona (Italiaanse kus) na Split en verder met die Jadrolinija-veerboot na Stari Grad (Kroasië.). Onnodig om te së dat Kroasië vir my tot op daardie stadium so duister lyk/klink soos ‘n inbreker in donkermaan.
Aankoms op Stari Grad: Zeljko die verhuringsagent versuim om ons by die hawe te ontmoet, dus maar met ‘n huurmotor na die dorpie se kern. Om 13h00 hier te land is ‘n toneel uit ‘n poskaart wat gevries het. Klein vissersbootjies wat dobber op spieëlgladde water, katte wat hulle lui uitsrek op eeue oue klipstene, maar verder … stilte en g’n siel. Die boodskap van siësta het ook hierdie dorpie bereik. Net ‘n paar lam vlieë sleepvoet verby ons natgeswete neuse. Weer op die foon en hierdie keer antwoord Zjelko darem. Baie verbaas dat ons gearriveer het – wonder hoekom. Hy is binne minute daar vir huis wys en sleuteloorhandigingseremonie. Zeljko is definitief ‘n paar sigarette voor, want sy tande lyk soos ‘n steenkoolmyn.
Ons sien ons nuwe tuiste vir die volgende drie maande en dis nog mooier as op die foto’s van die webwerf. Twee olyfbome in die voortuin, roosmarynbos by die agterdeur, gedroogde vye (smokva) op die eetkamertafel, en ‘n 180°-uitsig oor die baai. “Heaven is a place on earth” – of hoe gaan daai liedjie nou weer? Dit sit op die rand van Stari Grad se woongebied en met ‘n verhewe stoepie is jy daagliks in “pole position” om die veerbote te sien instoom.
Saam-saam toets ek en Francois die fietse in die motorhuis (ek val af), die stort met ‘n prop (vergeet om prop uit te haal en vloer oorstroom) en lemoene uit die buurman se tuin toe hy seekatte vang (smaaklik, maar darem nie Citrusdal s’n nie). Laatnamiddag stap ons die mooiste kronkelseepaadjie na die dorpie se hartklop vir brood, kaas en ‘n bottel wyn vir Ma. Hierdie paadjie (1 km) stap ons die volgende drie maande byna elke dag. Dis ook op dié paadjie waar ‘n gevriesde hoender in ‘n inkopiesak later soos ‘n sak sement voel.
‘n Boeremeisie maak egter ‘n plan … Maandag van week twee: ons koop ‘n fiets vir Francois en die 350 kuna (ongeveer R370) is my beste belegging sedert die platformskoene in matriek. Soggens vroeg gaan koop Boeta die brood en melk (soms ook toiletpapier) terwyl ek nog slaperig die eerste ferry uit Split dophou op die 180° view stoepie – stomende koffie in die hand.
Francois ry die dorpie vol, want in die nou straatjies kan geen ander voertuie ry nie en almal parkeer buite die sakesentrum. Hy verdwyn soms vir ure en wanneer ek benoud oral rondvra, kan elke tannie of oom my wys waar hy is en vertel wat hy die afgelope uur of wat gedoen het. Sommer so ‘n gemeenskaps-babysitting-sessie. My klein stadskind is soos ‘n klein hondjie wat op ‘n groot plaaswerf losgelaat is. Hy steek sy neus by elke deur in, word deur almal kos gegee. Hy ken binne ‘n maand al twee baie lelike woorde in Kroaties en weet hoe om brood te help knie by Ivana se bakkery. ‘n Kinderparadys – geen misdaad, geen jagende motors en ‘n kerkplein vol sokkermal maatjies.
Stokke in die Kroatiese wiel – eerste paar weke: Wanneer maak winkels hier oop en toe? Mis vir ‘n hele week die slagter se werksure. Wanneer is die bank/poskantoor oop? Hoe laat is die internetkafee oop? Kan niemand dan Engels praat of verstaan nie? ‘n Gewone koppie koffie met warm melk raak ‘n oefening in gebaretaal en praktiese demonstrasie in die Café/Bar se kombuisie. Met woordeboek in die hand leer ek dat groot koppie koffie met warm melk eintlik “Dupla duga kava sam mjelko” is – verander sommer na twee dae na plein Turkish Coffee.
Twee weke na aankoms: Barba (oom) Lorko en teta (tannie) Marija doen huisbesoek. Sy moet die beddegoed weekliks omruil en bietjie skoonmaak – gelukkig ingesluit in die prys. Geen Engels nie, maar na ‘n oproep is hul aanstaande skoondogter daar vir die vertaalwerk. Magda word vir die res van ons verblyf elke keer saamgebring vir meer effektiewe geselsies. Oom Lorko bring ook die volgende dag, op eie inisiatief, sy seun se kleur-TV, want “hoe sal Francesco dan nou kan cartoons kyk?” Cartoon Network klink natuurlik heelwat anders in Kroaties.
Twee aande na eerste huisbesoek: Ete by teta (tannie) Marija en familie. Ek’s uitgevat in my Sunday Best en Francois se kuifie is platgespoeg vir die geleentheid, maar teta Marija staan nie op seremonie nie en ontvang ons hartlik met slippers en ‘n kruller in die kuifie. (Sy het ’n hartprobleem en voel seker maar meer veilig in die slippers.)
Vir hierdie geleentheid is haar oujongkêrel-broer ook genooi, want ‘n mens weet mos nooit wat die vreemde vrou (dis nou ek) se potensiaal is nie. Ek wapper egter my trouring so duidelik dat hy hopeloos te gou die aftog blaas. Ook maar net so wel, hy kan in elk geval ook nie Engels praat nie en hoe knoop mens nou ook ’n affair aan in ‘n vreemde taal? Die spyskaart: Cevapcici (langwerpige lang frikkadelle) met bykosse – paprikapuree, rou uieringe en lekker brosgebakte chips. Almal kry koeldrankglase met wyn en water gemeng. Francois kyk my grootoog aan, maar soos die spreekwoord sê, “When in Rome …” Hierdie wyn is natuurlik tuisgemaak en die alkoholinhoud draai kort duskant een-sluk-een-hoenderkop. Sluit die aand af met sjokoladegevulde pannekoeke en regopstaan Turkse koffie. Drie ure lank gekuier sonder dat enige van ons mekaar kon verstaan. Kos – die groot gelykmaker.
Laataand neem barba Lorko ons terug na ons eilandhuisie op die rand van die dorp. Al stampende oor die kronkelpad, met ’n sak vol lemoene uit hul tuin en oorskietpannekoeke vir brekfis.




