Van kampeer en bungalows is 4* hotelle my favourites.
As kind het ons, van ek my oë oopgemaak het, elke Desember by Skaapvlei teen die Weskus (duskant Koekenaap) gaan kamp. Nie met 4X4 off-road voertuie, karavane of kampwaentjies nie. O nee, met ‘n tent, ‘n stellasie met seil oor agterop die lorrie en selfs, vir ‘n wyle, met ‘n regte matjieshuis.
My pa het so ‘n twee weke voor Kersfees die raamwerk vir die matjieshuis gaan opsit, die toiletput gaan grawe en houtstutte en goingsak daarom gedraai. Die dag voor vertrek moes twee petroldromme skoongewas word vir drinkwater wat moet saam, want lopende water was nie deel van die Skaapvlei-kampeerterrein geriewe nie. Daar was nie eens uitgedeelde staanplekke nie, net die kai vlak (soos my Ouma dit genoem het).
Elektrisiteit was dus logies ook nêrens te vinde nie en om vir twee weke vleis, melk, botter en kaas koel te hou in Desember was ‘n oefening in oorlewing. Ons het darem ‘n vleiskas gehad waar die windjie deur die gaas koeligheid verskaf het. Een maal het my ouma vla gemaak en dit onder die koelkas gesit. My kersfeespersent (‘n klein katjie) het daarin geval en amper verdrink. Ons het hom vinnig afgespoel en nie ‘n woord verder gerep nie. Ek en ouma was daardie dag nie lus vir vla nie.
Die dag toe ek uit die skool gaan het ek myself belowe om nooit weer te kamp nie, nooit weer in die sand rond te ploeter nie en nooit weer agter ‘n bos te gaan piepie in die middel van die nag nie. Dit was 30 jaar gelede en tot verlede naweek het ek die belofte getrou gehou. Januarie 2011 breek aan en vier van ons vriende begin opgewonde rondbons elke keer as daar van Paasnaweek gepraat word, want…. hulle gaan kamp in die Sederberge. Ek ignoreer die skimpe botweg en soek ‘n woonstel in Hermanus of ‘n vissershuisie in Paternoster. Die gekerm hou aan en een aand oor te veel glase rooiwyn gee ek in, net om die volgende oggend in ‘n waas van skok wakker te word. Tot my man wat hom verbeel hy is paraat vir enige oorlog of ramp is bitter kwaad, want ons het nie ‘n tent, ‘n grondseil, opslaantafels of opblaasmatrasse nie. In fact ons besit nie eens plastiekbekers of glase nie.
Weke voor die gevreesde Paasnaweek van hel begin bid ek vir slegte weer, oorspoelings in die Sederberg, Cholera in die Sandrivier of selfs skeurbuik onder die Sederberg Bergarende – enigiets wat die kampery kan kanselleer. Helaas is daar ‘n Liewe Vader wat kampeerders hoor en neusoptrek-stadsjapies ignoreer by sulke geleenthede, want die mooiste dae “pop” uit en Weather SA voorspel sonskyn tot die dag as ons net mooi moet terugkom.
Die dag van vertrek breek oop soos ‘n soet lemoen met sonstrale van hier tot, wel… in die Sederberge. Sover ons ry lê die ligblou deinserigheid getrek oor die Swartland en Piketberg se berge staan statig wag vir stringe vakansiekarre. Verder lê selfs ‘n skrefie Sandveld en die blink silwer van die see tot by Elandsbaai
Ons het ‘n pragtige plekkie reg op die rivierwal. Die elektriese punt is slegs 5 meter ver. Daar is heerlike lopende water in die kraan en die gesamentlike braaigeriewe van ons 8 couples en 16 kinders is reg langsaan.
Die saamkuier om die vuur is sielsverkwikkend en nuwe vriende voel sommer gou soos ou geliefdes. Daar word gehoender, gechop en elke aand haal een van die gesoute kampvroue slaaie uit wat vir 7 weke by kamertemperatuur kan hou – ingelê in ‘n sousie van asyn, olie en lank gekook of ietsie gejel, gesuur of dalk geskreeu is “into submission”? My boksies kerrieboontjies en flessies beetslaai hou ek maar eers in ‘n krat.
Eerste nag piepie ek agter die boom naby ons tent, want vir operasie ablusie sien ek nie kans. Dis bietjie afdraend en soos glad nie voorsien , loop dit onder my voete in en hang my pajamapyp ook daarin. Voel-voel oor die matrasse op soek na droë broek. Trap in die proses my seun plat en stamp my kop teen die opslaantafeltjie. Slaap maar kaalkoejawel en hoop geen storm jaag my die oop vlaktes in voor dagbreek nie.
Die groot trek van 31 mense ry Saterdagoggend Sanddrif (Dwarsrivier) toe om van David Niewoudt se ongelooflike wyne te proe. Ons verneem dat sy plaas net die week tevore tot “Best Wine Estate in SA” gekroon is vir 2011. Nie sleg vir sinkplaatpaaie en droë rivierlopies nie sou ek dink. Ons proe so entoesiasties dat ek by die vierde glasie lag vir goed wat glad nie snaaks is nie en ons groep vroue David se ernstige aanbieding summier onderbreek met ‘n Mej Dwarsrivier kompetisie. Die vroue kan nie vroliker en die manne kan hul geluk nie glo. Oppad terug eet ons kaas en beskuitjies onder ‘n boom en drink van ons persent-wyn. Na daar R30 000 plus by die wynkelder spandeer is, het ons gekwalifiseer vir 12 bottels gratis wyn. Dit was nie ‘n goeie ding gewees nie – glo my. Die aand trek almal weer laer om die vuur en daar word tot laat gelag – veral toe Foekie “Ek’s ‘n blommretjie met ‘n stammetjie” op ‘n rap-ritme vir die groep dans.
Sondag breek die groot potjiekoskompetisie onder die manne aan en dit is duidelik dat hierdie geen vredeliewende saamkooksessie gaan wees nie. Manne ruk atjars,chakalakas, ninjastokkies, thaisouse en beesstert uit en daar word gekerf, gekap en gesoteer. Die mammas dra skottels bestandele aan en die manne stook vure wat die hel na Liebendal se Sondagskoolpiekniek laat lyk. Arend maak vir die eerste keer in sy lewe pot, maar bemoei hom hoofsaaklik met aanmerkings op sy mededeelnemers. In so ‘n mate dat die res van die deelnemers sy pot oorneem en dit staan dan ook later bekend as die “kamppot”.
Ek en manlief het geen pot en word as beoordelaars ingespan. Dit was ‘n fout, want ons drink by elke deelnemer wyn, sing saam met elke ondersteunende wederhelfte en verstaan nie die helfte van die “ingredients” nie. Intussen het ons ter ondersteuning ook ‘n eie pot opgesit – met water en drie klippe in. Net na sononder (5 ure later) neem Henk stelling in en neem sy taak as beoordelaar heeltemal te ernstig op. Sy toesprake vir en oor elke deelnemer is so lank dat party gaste sommer begin eet.
Sondagnag word ons wakker met die gevreesde kletter van reëndruppels op die tentseile. Voel-voel benoud vir nattigheid, maar gelukkig is swaer Jan se tent solied en waterdig. Dis ‘n sussende wegdommel so deur die reëndruppels – salig.
Maandagoggend is dit oppak. Ek vervolmaak die tegniek van inbondel, opfrommel en in gaatjies prop. Net na tien vertrek die pakkasie al klingelend oor die sinkplaat – terug huistoe. Kampeer vir die eerste maal na 30 jaar – die “verdict”? Dit was heerlik, verfrissend en leersaam. Die geselskap heerlik, die Sederbergluggie verfrissend en die feit dat piepie maklik afdragend onder jou voete inloop onnodig leersaam.




