Skip to main content

Met Albanie wat grens aan Montenegro het dit sin gemaak om ook daar ‘n draai te gaan maak. So ons kort besoek aan Albanie was vier dae en drie nagte langs die Schkodermeer wat van Montenegro tot in Noorde van Albanie le.

Die reis het per baie laat bus en vreeslike donderstorms afgeskop in Budva, Montenegro. Een en ‘n half uur laat, maar dit is ‘n Albaniese busmaatskappy en hulle het blykbaar die memo uit Afrika ontvang – tyd is relatief. Sopnat is ons in ‘n oorvol bus geboender en ek gou besef ek is die enigste bo 50 persoon tussen 100 raserige jongmense wat nou skielik die goedkoop verblyf en kostes van Albanie agtergekom het. Ons ghadjie het ‘n eienaardige skewe kyk op hom en blaf elke nou en dan bevele waarvan niemand iets verstaan nie. Behalwe dit verloop die grensposte glad en almal word goed genoeg bevind om die land te besoek.

Ek het vergeet  om te noem dat ek die 8:30 bus verpas het aangesien ek by die verkeerde stasie afgeklim het. My reisgenoot, niggie Madelein is dus 4 ure voor my reeds fort.

Die bus stop voor ‘n hotel in Shkoder, want daar is nie ‘n busstasie nie en gelukkig is niggie al ingerig en drink lang koffies by restaurant Aroma teen die tyd wat ek aangestap kom. Net een probleempie, sy het die sleutel van ons woonstel aan die binnekant van die deur gelos en toegetrek. Onnodig om te se dat landlord toe bykans die gebou moes redesign om tot ons redding te kom. Om te se dat hy nie gelukkig was nie is effens eufimisties. Onstwee, die culprits, het saamgestem dat foutjies insluip en hy ietwat onnodig nors was.

Dis ‘n lieflike tweeslaapkamer woonstel in die hartjie van die middedorp teen die belaglike prys van 40 Euro per nag.

Ons eerste aandete is by Tradita Geg & Tosk restaurant wat eintlik ingerig is as ‘n museum en ook dien as ‘n hotel. Die donderstorms jaag ons van die dakuitsigtafel binne toe, maar dis in die haak, want later die aand tree daar drie tradisionele musikante op met pofrooibroeke en katotjies op die kop.  Hulle sing van verlore liefdes en skape wat weg is en ons help hulle nie reg dat dit dalk in die restaurant se vuurherd gebraai is nie.  Die kos is heerlik en die ouwereldse plaasimplimente as versiering & atmosfeer verplaas mens honderde jare in die verlede.

Die volgende dag verken ons die ou gedeelte van die dorp en vind die lieflikste voetgangerstraat reg in die middel van alles. Gekleurde kussinkies op krulletjiesysterstoele, slapende straatbrakke en baie babastootwaens tooi die Sondagmiddag en ons is sommer sumier weer honger.  Hierdie keer eet ons Griekse slaai en cevapcici (vleisvingers is hul vertaling) en ontdek die lekkerste suurlemoenkoeldrank vir beer shandy.

Niggie huur ‘n fiets by die jeughostel reg langs ons woonstel en gaan verken die veel besproke kasteel (eintlik ‘n ruine) en die meer.  Ek het die meer deur die venster van die bus gesien en is ook ok om ‘n murasie te skip, so vang ‘n middagslapie.

Die volgende dag is ‘n werksdag vir my digital nomad nig so ek verken die res van die dorp en vind sowaar ‘n LC Waikiki klerewinkel. Gelukkig is daar niks wat my pas nie so ek gaan verdrink my sorge in nog ‘n beer shandy by ‘n plaaslike pub. Die res van die dorp is behep met skoene, veral tekkies en as ek die sewende skoenwinkel binne 200m tel sien ek hier gaan ons definitief nie baie koffiewinkels raakloop nie. As hulle nie skoene koop nie soek hul blykbaar vervoer erens heen, want tweedemeeste is reisagente wat vlugte en buskaartjies adverteer. Ons buskaartjies terug moet uitgedruk word en die een reisagent doen dit verniet terwyl sy assistent my probeer oortuig om ‘n vlug Athene toe te neem “very cheap”. Ek val nie vir die verkoopsfoefie nie, maar niemand is kwaad nie.

Die Albaniers is baie gematig in hul opvatting oor verskillende godsdienste en so ver soos mens verken stap jy verby Rooms Katoliek en Ortodoks Christen kerke asook baie moskees.

Sowat 67% van die bevolking is Islam, maar alkohol word oral bedien en hulle respekteer mekaar se feeste en spesiale dae.

Straatlewe toon duidelik dat hierdie nog die mekka vir die manlike geslag is.  Oral sit mans by kafees en bitter min vroue sosialiseer in die openbaar. Dit is baie goed vir ons egos om letterlik aangestaar te word en niggie kry heelwat uitnodigings na sosiale geleenthede.  Ek is natuurlik die chaperone en doen my taak heeltemal te deeglik na die jongmanne se smaak.  Een was selfs so vindingryk om vir my ook ‘n date te probeer reel, maar soms, net soms is dit gerieflik om getroud te wees.

Ons tweede aand nooi juis een van die jongmanne ons na die restaurant Manifatura waar hy werk, want daar is ‘n bekende Albaniese orkes en sanger en ons moet dit nie misloop nie.  Die musiek klink baie Turks en die sanger hou daarvan om note lank uit te rek en sy fyn handjies vrolik saam te klap.  Ons eet heerlik in die tuin en hou ‘n tafel met vroue dop wat sowaar opspring en dans. Hulle is seker protestants.

Laataand stap ons na ‘n bekende kroeg in die ou stad en die drankies is nie goedkoop nie. Ons is die laaste gaste in die neonpers ligte en aangesien ons bietjie blou om die kiewe lyk, kuier ons nie lank nie. Het darem gewag vir twaalfuur om niggie se verjaardag in te lyf met Happy birthday in Albanies.

Shkoder het ‘n armoede wat vlak in elke gebou sit en dit is duidelik dat mense hier met die minste klaarkom. Hier en daar is ‘n duur hotel gesprinkel, maar dis vir toeriste wat deesdae soos vliee toesak aangesien die land so bekostigbaar is.  Die stad het bree, boomryke strate en groot geboue, maar die gemiddelde winkeleienaar verkoop sy ware uit ‘n klein vertrekkie en die verskeidenheid is min. Vroegaand stap leef en beef deur die strate, maar niemand van die locals hang rond in restaurante of kroee nie.

Ons laaste aand word daar verjaardag gevier en aangesien Albanie ‘n sterk Italiaanse invloed het besoek ons ‘n bekende pastarestaurant (Pasta de Zenga).  Die kos is heerlik, maar die klein snotkop van ‘n waiter is of besig met sy kuif of dink onvanpaste kommentaar uit as ons vrae vra. Hy word summier verkla by die eienaar se seun en ek hoop hy  het ‘n goeie talk gekry.

Ons sluit die aand af met cocktails by die Retro Pub in die middedorp.  Die dakkroeg sit reg langs die mooiste ortodokse kerk en die diep rusbanke en dj vorm ‘n skrille kontras met die koepels van die kerkdak.

Deur die loop van ons dae het ons gereeld by Aroma restaurant gekofffie, geontbyt of sommer net aanlyn gewerk.  Die diens was absoluut vyfster en die kos ook uit die boonste rakke. Om so ‘n lieflike plek raak te loop tussen die afgeleefde geboue was voorwaar ‘n heerlike geskenk van die dorp.

Op dag vier kry ons weer ons bus terug Montenegro toe, maar hierdie keer is dit ‘n kleinerige 20 sitplek en ek vryf een dametjie verkeerd op toe ek haar nie toelaat om haar sitplek tot op my skoot te recline nie.  Sy belsuit om reg langs my te kom sit en ongelukkig is haar kerel reg voor haar toe gerecline tot op haar skoot. Karma is ‘n bitch.

Tydens die rit van amper vier ure stop ons drie maal vir ‘n smoke break (bestuurder) en eenkeer vir ‘n trop skape wat in die middel van die “hoofpad” rustig voortsuiker.  Dit veroorsaak ‘n verkeersknoop en ‘n paar armswaai omies met warm humeure.

Shkoder, Albanie is ‘n mengelmoes van kerke, 70s winkelvensters, kroee, eng leefwyses,‘n paar groot hotelle en ‘n groot meer.  Dit was ‘n belewenis en ons tyd daar was interessant. Ons het gehoor die suide van Albanie skilder weer prentjiemooi strande en baie seelewe wat  totaal verskil van die binneland.  Ek hoop om mettertyd ook Tirana en die kus van Albanie te verken.

Leave a Reply