Skip to main content

'n Vriendin kuier by my in Kroasië. Daar word op 'n road trip besluit wat van Trogir en al langs die Makarska Riveria sal kronkel tot in Dubrovnik.

Ons eerste dag van die trippie begin in Trogir, sowat 30 km van Split. Na ‘n luilekker koffietjie en rondslenter in die varsproduktemark val ons in die pad. Die pad slinger heen en weer om die berge al langs die blou van die Adriatiese see en as jy nie wydsbeen oor die wit streep ry nie voel dit asof jy enige oomblik oor ‘n afgrond gaan peil en onverhoeds op ‘n paar baaiers kan beland. Gelukkig het ons ‘n klein karretjie en wanneer ‘n  bus of vragmotor op jou afjaag systap jy netjies na jou eie kant toe – hier regs.  Hier ry almal eintlik in die middel van die pad en swenk net regs as gevaar dreig.

Die dorpies lê soos krale ingeryg en om elke hoek wil jy stop om ‘n nog beter foto van ‘n nog beter baai te neem. Omis met die Cetinarivier wat deur die klowe sy voete in die seewaters steek het ‘n geskiedenis van gevaarlike seerowers. Die dorpie het ‘n lang valerige strandjie, maar is die Kroate se “pride & joy”, want hier is sand maar skaars en meeste strande is eintlike rotsplate of klein ronde klippies. As jy so ‘n uur gelê het lyk jy soos jou Sub B maselfoto – vol kolletjies gedruk van die klippies en skerp punte.

Die eerste oornagplek is Makarska – ‘n groterige vakansiedorp met rye onvanpaste palmbome teen die Riva, talle “made in China” stalletjies vol lelike yskasmagnete, “bright” sonbrille en ‘n rakke vol swemskoene (vir die klippe). ‘n Draai by die naaste reisagent verseker ‘n woonstel vir die aand en op die foto’s lyk dit kort duskant vyfster. Die agent vergeet egter om te noem dat dit op die derde vloer is en geen hyser het nie.  Die woonstelgebou is ingedruk in ‘n hoekie van die ou oorspronklike dorp en onder is ‘n Cafe/bar vir die locals. Binne is ons oornagplek getooi in skakerings van herfs en kantdoilies, maar die balkon het ‘n pragtige uitsig op die hawe en die beddegoed is ten minste kraakvars en skoon. Onder die televisietafeltjie skuil ‘n kleibeeld van ‘n baie vet tannie in ‘n swembroek – so dus die regte plek vir my en my vriendin wat albei hou van eet en gereeld sukkel om rekbroeke te vind.

Onder ons venster kuier mans in vessies en pt-broeke op die cafe/bar se stoep en dit is baie duidelik dat die bier al ‘n hele rukkie lank hier bedien word. Dit sing, swaai arms en klap mekaar tussen die blaaie tussen sigaretrookwolke en Oliver se musieknote. Die gesing word skielik meer luidrigtig en ‘n trekklavier trek los met twee kitare as ondersteuning. Ons leun oor die balkonmuur en onder het die skare nou versamel.

‘n Troupaartjie en al hul gaste staan buite die Cafe/bar en sing Kroatiese volksliedjies. Ons boeremeisies is gesoute bruilofsgaste en sit dadelik af na die gloria. Onder skink die bruidegom vir almal bier uit ‘n vaatjie en die bruid swaai haar rooi rose-ruiker hoog bo haar kop – al op maat van die musiek.

Die bruid se hare is kort/ blond en weggeskeer teen die ore. Sy dra ‘n sy, ivoorkleurige katpak met wye pype wat uitklok oor fyn puntskoene. Die gaste dans ingehaak op die plein in enigiets van jeans tot satyn en lurex. Die orkes begin af beweeg na die hawe en almal stap sing-sing saam deur die nou straatjies, verby die weduwee met die swart klere, tot voor die stadsaal ‘n blok of wat verder.

Hier word nog gesing en die bruid dans met ‘n klein dogtertjie in ‘n rooi-en-wit blomrokkie. Die bruidegom is ingehaak by sy vrinne en het ‘n klein seuntjie op sy skouers. Iemand gee vir die moderne bruid ‘n sigaret aan en sy teug smeulend agter haar Ray Ban sonbril. Die orkes beweeg by die saal in en gaste (of liewer almal wat wil saamkom) volg die bruidspaar na binne. Die bruilof gaan nou EERS begin.

Sononder dwaal ons verby bote, hoor die bruilofsgaste lag en eet bolle roomys voor aandete. 

Sleepvoet laat ons die bruilof agter en stap al met die Riva langs verby snuisterystalletjies en talle restaurante na die skemerstrand.

Die son sit laag en drie kinders is swart silhoeete op ‘n bankie by die strand. Ons eet cevapcici (vleisvingers) en drink tuisgemaakte wyn en weet dat vanaand is daar nog ‘n getroude paartjie meer op aarde.

Leave a Reply