Igor is 'n man met 'n yl bokstertjie op die kop,'n groot dors en min lus vir werk. Sy grootste spogstorie is dat hy nog nie een dag in sy lewe vir 'n baas gewerk het nie.
Af in die straat, so drie kronkeldraaitjies en ‘n hobbelsteen verder sit die huis van Igor. Of liewer Toranaga San, want hy lyk soos die groot held in die epiese verhaal, Shogun. Yl bokstertjie op die kop, groot van postuur en so ‘n effense afwaartse snorretjie. Die oë het ook ‘n aweregse trekkie na ons Japanese held van die blockbuster.
Igor is gou om vir jou te vertel dat hy in sy hele lewe nog nooit ‘n loopbaan gehad het nie. Wel al hard gewerk – in sy huis, wingerde buite die dorpie en ook om laventel te pluk, maar van kantoorwerk weet hy niks. Hy is die erfgenaam van drie groot geboue in ons dorpie, al drie bouvallig.
Ek sien hom elke oggend koffie drink – eers by Plocé Cafe, dan Cafe Xpresso en net voor twaalf ‘n knertsie raki voor sy eie deur. Sy huis lyk soos ‘n museum – voor is twee vertrekke wat direk straat toe uitkyk. Die een het ‘n groot kroegtoonbank met rye vol tuisgemaakte alkohol van twyfelagtige herkoms en so skuins teen die afgedopte spieel staan ‘n lee Jack Daniels bottel. Hy werk sy “till” uit ‘n houtboksie wat lyk of die eerste Grieke dit hier gelos het en as hy nie self agter die kroegtoonbank is nie, help jy jouself en los die geld in die Griekse skatkis.
Twee klein tafeltjies en ‘n langer een hou aand na somersaand die plaaslike vrinne bymekaar. Een is die direkteur van ‘n operahuis van ‘n stad net oor die waters en hy kom kuier kastig vir Igor – die blaas egter gou sy “cover” en vertel ons luidkeels dat die jong poppie wat hom so oral volg eintlik sy skelm is en hierdie is hul wegkruipplek. Die vertrek langsaan is die eetkamer en heelagter vanuit die vertrek loop die kombuis. Op die deur is ‘n bordjie in wat lees “ Beware, workmen overhead” in Kroaties.
Uit hierdie kombuis tower Igor die heerlikste geregte en as jy ‘n dag voor die tyd vir hom laat weet, kook hy net vir jou en jou geliefde. Ons eerste ete daar is ‘n voorgereg van bruchetta met plaaslike neute, olyfolie en kruie tapenade en nog ander met drie soorte kast – onder andere die bekende skaapmelkkaas van Pag-eiland. Dan word die sop van soetpepers, tamatie, roosmaryn en bief bedien. Dis so dik dat ons dit eers misgis vir bredie. Een van ons eet dit met ‘n vurk en hy kom boos uit die skaduwees gestorm om te se hy het nie nog eetgerei nie, die vurk is vir later – gebruik die lepel!
Skuins teen die muur hang sewe verskillende wekkers aan ‘n rakkie. Almal se tyd staan op vyf oor drie. Die presiese tyd toe Tito dood is. Die kraffies rooiwyn word uit ‘n ou vat getap en as jy vir prosek vra, klouter hy teen ‘n stowwerige trap uit om dit op die solder te gaan haal. Die hoofgereg is ‘n stuk biefstuk met geroosterde groente uit sy tuin. Geen skyfies, aartappels of ander fieterjasies om die pronkstuk onnodig te kamoefleer nie. Ons smul dat die vet by ons kenne afdrup en as die grootte ons oorval word ons weereens vermaan dat die kos vermors word.
Intussen het operabaas en nog drie Kroate in sang uitgebars in die kroegie. Die note dawer teen die houtbalke en die jong dolla sit met sterre in die oë. Manne sing in stemme en vessies van verlore liefdes, vaderlandsoorloë en eensaamaande. Igor is die dirigent van sy eie lewensverhaal. Hy beweeg soos ‘n man wat die lewe hier op Stari Grad tot meesterstuk vervolmaak het. Sy vrou bly in Duitsland en kom twee maande ‘n jaar hiereen. Verder maak Igor kos, drink Pelinkovac en vermaak besoekers met verhale van bekendes wat al hier aangedoen het.
Hy haal ook graag tydskrifte uit wat hom al ge”interview” het en hy word selfs in een van Michael Palin se reisboeke genoem. As jy vir hom vra of hy ‘n chef is, antwoord hy minagtend nee. Vra jy of hy ‘n kroeg besit kyk hy jou aan of jy van lotjie getik is. Vir Igor is sy huis net ‘n verlenging van wie hy is en die musiekblad waarop hy sy lewensverhaal komponeer. As jy gelukkig is kan jy een of twee aande deel uitmaak van hierdie Adriatiese operette.




