Wat het Space Mountain, Indiana Jones en Minnie Muis in gemeen? Hulle almal maak kinders (en grootmense) se helde 'n werklikheid by Euro Disney.
Dis ‘n windstil dag in Julie as ons die Vallee de Marne stasie ingly vir ‘n besoek aan die Europese mekka van oorlede Walt Disney. Mense stroom soos dun stroop by die stasie uit en oral drafstap ouers met kleintjies vir die kortste ry van Euro Disney.
Rye vir die wat nog kaartjies moet koop en rye vir die wat net hul voorafbespreekte kaartjies moet wys. Hier by die hekke al begin die kammawêreld met kaartjiemeisies wat aangetrek is soos Mary Poppins – lang wye rompe, toerygde hoehakskoentjies en ‘n getaileerde kort baadjies. Die vriendelike groet en “have a nice day” laat jou egter gou besef dis Amerikaanse ingevoerde gasvryheid. Die Franse sal jou definitief nie so breed beglimlag 10uur in die oggend nie.
Die mooiste kammawinkels, regte winkels en lamppale wat vol blommandjies en foto’s van Disneysterre hang – Doringrosie, Die Prins van Persië en Lilo loer op jou af. Hier tussen perfek gemanikuurde malvas en grasangeliere is dit is maar net die eerste straat. Ek en die twee seuns is skoon verbyster deur die gesig van die reuse kasteel wat in die middel van die park staan. Die kasteel is ligpienk en blou en sy torinkies skiet die hemel in terwyl die paadjie daarna kronkel oor ‘n lieflike hangbrug. Ek verbeel my selfs ek sien vir Raponsie loer deur een van die vensters. Ons het ‘n kaart van die park, maar weet nie waarop wat om eerste af te peil nie.
Frontierland, Adventureland, Fantasyland of Spaceland? Oral in die lug klou die opgewondenheid van kinders soos taai “candyfloss”. Space Mountain is ons eerste rollercoaster rit en as die meisie die sware ysterharnas oor my laat sak en my vra om my handsak tussen my voete vas te klou weet ek hier kom probleme. Ons vlieg weg in stikdonkerte en stop dan skielik. ‘n Onheilspellende gerammel volg en ons begin stadig weer spoed optel, al vinniger en vinniger tot die volmaan bo die “heuweltjie” verskyn. Van hier af is dit afdraend, skuinsdraend en gat-oor-kop. Meteoriete vlieg verby jou, stikdonkerte omhul jou en hier en daar val ‘n maanrots langs jou. Sterre verskiet (of dalk was dit maar net ek wat so hard gegil het) en dan stop jy weer. Dankie tog dis klaar, maar nee, dan vlieg jou karretjie-trein weer weg en met suisende wind in die ore hang jy soos Batman aan jou ysterharnas – die enigste ding tussen jou en die dood. Skielik pyl ons deur die helder lig en karplaks – daar stop ons. Alles oor. Ek waggel soos ‘n ou alkie oor die plaveisel en met suisende ore en ‘n naarkol op die maag steier ek die helder sonskyndag in. Het ek regtig geld betaal hiervoor? Die seuns is so opgewonde dat hul dadelik weer wil gaan Space Mountain, maar ek boender hulle na die Video spelonk waar Cars 2 se voorskou salige lafenis bied op baie groot skerms. My bene herstel ietwat en ons kan aanbeweeg. Die rye is so lank dat jy soms meer as ‘n uur moet toustaan, maar ons ontdek the Fast Pass kiosks en hier bespreek jy ‘n tyd vir ‘n rit en kan dan later terugkom as dit jou tyd is. Dit beteken jy kan tussenin rondloop en vergaap. By Frontierland stap jy deur ‘n poort gebou van dryfhout, afvalstukke en word verwelkom deur kopbene, bokhorings en verweerde waens wat jou dadelik in die Wilde Weste bui sit. Hier staan lewensgrootte skeepswrakke en hangbrûe en erens in ‘n hoek wag nog ‘n lang tou vir die Tarzan show om te begin.
Die seuns mik vir die volgende rollercoaster – Indiana Jones se tog deur die tempel van verdoemenis. Ek laat my wragtag weer ompraat en skuifel sleepvoet tussen al die toue deur na die voorkant. Oppad daarheen hang Indiana se wasgoed oor ‘n draad en sy Jeep is geparkeer tussen ‘n klomp bosse. Sy tent staan gereed met al sy aparaat en beddegoed en jy verwag enige tyd die man homself aangestap kom tussen die struike deur. As ek sien klim ek alweer ‘n treintjie en woerrr daar gaat ons. Die keer loop die spoor buite oor berge en dale, maar nie te lank of ons hang weer kop onderstebo. Die trein kort definitief ‘n goeie diens, want dit kraak en raas so dat ek elke nou en dan loer of my medepassassiers se waentjie nog voor my is. Hierdie treintjie spesialiseer in die afpyl op baie skerp, klein onmoontlik draaitjies en lig dan skoon uit die spore om halfskuins na die afgrond te hel. Ek gil so hard dat my stem skoon wegraak en as ons op die derde rivierpoel afduik ,teen dolle vaart, maak ek maar die oë toe en wag vir die einde – wat dit ookal mag beteken. Dit is eintlik so lekker dat ons sommer weer tweemaal gaan toustaan!
Die park is vol winkeltjies wat al die karakters verkoop, hetsy op bekers, strooitjies, as sagte speelgoed of in videospeletjieformaat. Daar is klomp stalletjies met kostuums en gou is die strate vol Sneeuwitjies, prinse, Peter Pans en Dr Hook’s. Kleintjies leef in ‘n wêreld van die verbeelding hier en ouers swaai die kredietkaarte om hierdie wêreld vir ‘n dag lank te realiseer.
As ek op ‘n bankie gaan sit om koeldrank te drink, plons Minnie Muis haar langs my neer, met ore-haarband, rooi polkadot broekie en swart kruisbande. Sy lyk soos ‘n sprokie, maar as sy begin skree oor haar roomys wat geval het weet ek sprokies het ook soms voete van klei.
Die Buzz Lightyear-rit raak my en die seuns se hoogtepunt. Dit is eintlik bedoel vir kleiner kinders en die treintjie beweeg maar rustig in vergelyking met oom Indiana se afkoptrein, maar die lasergewere is net wat ons nodig het en al drie van ons mik, skiet en skreeu vir die obstacles soos gesoute speelgoedland-soldate. Ons oorwin die vyand en kry elk ‘n medalje vir ons pogings.
Die son sit hoog as die straatparade om 19h00 plaasvind. Ek gaan soek solank staanplek langs die vlotroete, want die seuns is vir die vyfde keer op die Space Mountain-rit. Die wonderwêreld van reuse vlotte vol karakters seil deur die skare. Dis Big Ben, bome, blomtuine, teepotte wat sing, Winnie the Pooh met haar heuningpot en elke kinderstoriekarater wat gevolg word deur straatdansers, reënfeetjies en die aaklikge Dr Hook.
Kinders word uit die skare genooi om saam te dans en Goofy knip selfs vir my oog. Ek neem foto’s tot my vinger seer is en as die vlotte om die laaste draai verdwyn stroom die skare nog vir oulaas agterna. Ons eet Meksikaanse chips en drink Coke deur Buzz Lightyear strooitjies. Ons koop yskasmagnete en skiet mekaar nog ‘n keer met die lasergewere in speelgoedwinkel. Francois sien ‘n Mickey Muis-rugsak en spandeer helfte van sy sakgeld vir Frankryk daarop.
Die son sak uiteindelik 22h15 en vyf minute later begin die finale vlotoptog van die aand. Hierdie keer is alle waens in reënboogliggies gedoop
Skoonlief en Ondier dans tussen die vuurvliegies en Sneeuwitjie en haar Prins soen onder ‘n reuse kandelaar. Dit is pragtig en die skare staan begogeld en kyk hoe een wa na die ander ‘n wonderwêreld nog verder omtower in liggies en neonkleure. Die aand word afgesluit met ‘n vuurwerkvertoning wat gekombineer word met ‘n laservertoning van blomme en patrone wat al langs die groot sprokiespaleis afgly. Vuurpyle suis die lug in en ontplof in ‘n reënboog sterre doer ver bo in die lug – alles saam met die bekendse temaliedjies van Disneyflieks. Dit hou vir meer as ‘n halfuur aan en as jy dink die laaste vuurspatsels is nou gesien, ontplof daar net nog ‘n groter vonkkrans bo jou kop.
Hier en daar was die opwinding van die dag te veel en slaap ‘n mini-prinses of baba Buzz Lightyear op Pa se skouers, maar Pa bly staan, want vir hom was die dag eintlik nog lekkerder as vir boeta of sus – veral noudat hulle slaap.




