Skip to main content

Julie 2020
Tot 'n maand of vyf terug het die woord lockdown (of vir die puriste... grendeltyd) visioene van Robbeneiland opgeroep. Fotos van Nelson Mandela wat by 'n klein tralievenstertjie uitstaar was vir my die verpersoonliking van hierdie idee. In hierdie tyd het daar 'n nuwe groepering mense te voorskyn gekom in Suid-Afrika.

Straatklikbekke

Hulle sit heeldag met hul verkykers om jou uit te vang as jy dalk jou voet oor die drumpel waag. Dit word opgevolg met FB updates waar gal gebraak word oor jou onverantwoordelikheid, waarskuwings van arrestasie op straat whatsapp-groepe of selfs persoonlike oproepe waar die totale nuutste staatsdokument voorgelees word. Parate Middelklas Voortrekkervrou Linda, wat in die laaste 25 jaar nog nooit sonder ‘n huishulp klaargekom het nie, pos nou fotos van haarself en kinders in huisjasse, kopdoeke en mops om almal te beindruk met hoe fluks hulle werk. Huistake word soos ‘n weermagstoorkamer geskeduleer, uitgemeet en afgetik. Kyk hoe fluks is ons. Pappa moet die huis afskuur, uitverf en sommer drie stelle tuinmeubels ook vervaardig voor slaaptyd. Die man het laas op skool ‘n D in houtwerk gekry en weet nie eens watter kant van die verfroller om in die blik te druk nie.

Meesterbakkers, Huisvlyt- en ander ingewikkelde stokperdjies

Facebook vries daagliks weens die oorvloed fotos van koeke met 27 bestandele, truie wat in kabels en glipsteke vervaardig is en kinders van 5 jaar oud wat skielik, deur middel van YouTube, die fynere kunsies van Ikebana blommerangskikking (met droe takke en patrysvere) bemeester het.

Die oefenollies en hul poppies

Die selfoonmaatskappye behoort ‘n blok te sit op mense se kameras in hierdie traumatiese tye. Die videos van oefenklere, manoeuvers in rek, strek, spring en afkoel is senutergend. ‘n Boepmagie en sellulietboude het nog nooit goed gelyk in lycra nie. Gladde materiaal verdra nie onreg nie – dis ‘n feit. ‘n Stelletjie yl hare lyk nie goed met ‘n kopband nie en nog minder is jou bolwange gemaak vir rooiwarm wasems in die kameralens.

Triestige tuiniers in tunieks

Drie maande terug nog het jou vriendekring se favourite landskapargitek vir jou ‘n hele nuwe tuin kom bou teen ‘n duurder prys as ‘n Kia. Nou spit jy gehawend in die agterplaas om wortels, blaarslaai en komkommers te plant. Die winter kom aan en die reen le voor, maar jy sien harsenskimme van organiese groente op Royal Albert-eetstelborde. Organies beteken wurmgate in die blare en verskrompelde wortels wat glad nie so mooi ewe groot soos Woolworths se klaar geskilde weergawes gaan uitkom nie.

Covid19 Doomsday sayers en ander Spookgestaltes

Hierdie groep stuur daagliks boodskappe aan van Chinese wat die wêreldorde wil oorneem, die Laaste Dae waar die Antichris virusse gaan stuur sodat jy ‘n chip moet kry wat jou gesond kan hou en sommer ook kan manipuleer soos ‘n Pinnochiopoppie. Die rykste mense in die wereld word beskuldig van markmanipulasie en wegsteek van entstof om hul miljarde verder te versterk. So asof hul grafte nou ekstra plek vir geld gaan he.

Die Sanitasie Sannies

Hulle dra ‘n ander masker in elke vertrek en drie bo-oor mekaar in winkels. Handreinigingsmiddels is die nuwe parfuum en klere, karre, hele vertrekke en die tuinmeubels word daagliks gespuit, gewas en weer gespuit. Daar is ‘n botteltjie handreiniger in elke vertrek, elke motor en drie in ‘n handsak. As een van hulle jou sien kop uitsteek sonder ‘n masker, bel hulle die Wêreldgesondheidsraad om jou te verkla.

Die Bedgekluisterde Hiberneerders

Hier moet ek nou bieg… my eie kategorie. Ek glo as ek net lank genoeg en laat genoeg slaap sal dit alles verby wees een mooiweersoggend. Daar word geskuif van bed na rusbank na tuin en kanne tee gedrink. Saans is dit gin of die oorskiet van die drankkabinet. Ons groepie vang op met die laaste drie jaar se Netflix voorraad en kyk programme oor dekor, reis en mense wat hul gatte afvries om van spanning en angs ontslae te raak. 

Oom Cyril leer ons drink

In hierdie huis is ons sosiale drinkers.  Ja slegs as iemand kom kuier of daar gebraai word en ook met matigheid. Ok ek gaan wel bietjie oorboord tydens die maandelikse Vrienginne byeenkoms, maar dis ‘n heel ander blog.

‘n Paar dae voor lockdown het die nuus versprei dat alle drankwinkels gesluit gaan word tot verdere kennisgewing.  Blykbaar kan mens verstik in jou drankie as jy hoes – of soiets. In my hele lewe het ek nog nooit soveel paniek gesien onder Suid-Afrikaners oor alle grense heen nie. Nie eens die nuus van die gevreesde Covid19 kon mense so ontstel soos die nuus oor die drankslotte nie.

Venterwaentjies is gehaak en teen die drankwinkels getrek.  Wyn, brandewyn en bier is in bokse en kiste uitgedra en party het meer as een maal gery. Menige mens wat enigsins ‘n wynplaas in die omgewing gewaar het, is op nooduitstappies van vinnige proporsies.

So paar weke in en toe begin die ruiltransaksies, skelm aankope en pakkies in koerantpapier opdaag by vriende.

Die heel eienaardigste ding gebeur in ons huis.  Ek het skielik elke liewe aand lus vir ‘n glas wyn of enige iets alkoholies. Van halfses af namiddae begin ek al die horlosie dophou en as manlief nie vinnig genoeg skink nie help ek sommer myself. In my dag des lewens nog nooit in die week gedrink, maar hier het oom Cyril my nou laat ontaard in ‘n dopstelselvrou.  Staan eintlik reg met die glas as die klok ses slaan.

Wanneer ek ookal ‘ n bekende raakloop by die koswinkels is die eerste onderwerp dat die mense van die townships glad nie veilige afstand verstaan nie en tweede op die lys is die drankdilemma.  Tot die dominee het ook sy kommer oor voorraad uitgespreek daar langs die broodrak. 

Elke week as oom Cyril sy speech begin sit almal in afwagting om te hoor wanneer die drankwinkels oopmaak. Niemand luister na die aantal aangesteektes of hoeveel nou al hyg na asem nie, nee…. wanneer maak die flippen drankwinkels oop!

Nouja soos die weke aanstap raak voorrade nog opper as op en smokkelaars al gieriger. So die tweede beste stap is pynappelbier.  My mond het oopgehang toe ek by ‘n bekende winkel ‘n hele rak vol brouersgis op hoofuitstallingspasie vind. Pynappels het skielik baie duur en skaars geraak, maar die stories van bottels wat ontplof en dakwaarts skiet al meer volop. Ek verneem  ‘n  baie stylvolle vriendin is  sowaar besig om ‘n konfytkastrol vol pynappelbrousel te staan en omroer – op weeklikse basis.

Ons trek nou by dag 54 en oom Cyril en sy adjudanttante skop nog viervoet vas al verloor die land miljoene aan drankbelasting.  Almal drink meer skelm ooit tevore aan twyfelagtige brousels. In ons huis het ek persoonlik  wit wyn  agter in ‘n donker kas ontdek wat 7 jaar terug al ‘n slegte kleurtjie ontwikkel het en dit flink verdun met sodawater.

As die gemiddelde vrou van die suburbs so obsessief kan raak oor drank wil ek nie weet wat die bogemiddelde alkoholis doen om hom besig te hou nie. Hy/sy  kan nie  eens oorskakel na sigarette toe nie…

 

Leave a Reply