Om 'n historiese dorpie van meer as 2026 jaar, se rioolstelsel te vervang is die taak van 8 geologe, 6 spanne werkers en 'n historiese delegasie hooggeplaasdes uit Split.
Dis ‘n skraal windje wat my begroet teen die begin van Meimaand as ek afklim by Starigrad se bushalte. Die strate lyk na ‘n bourommel slagveld, want die hele rioolstelsel moes vervang word en dit het allerlei probleme veroorsaak
Ou mosaïekvloere van meer as ‘n duisend jaar terug is oopgegrawe en dit beteken net een ding – alle ander aktiwiteite moet terstond tot stilstand kom tot die antieke komitee van ou vloere besluit het wat om met hierdie belangrike fonds te doen. Dit het meer as agt maande geduur.
Alle ou klipplaveisteentjies, wat deur baie voete glad gepoleer is, is nou op stapels en bykans onmoontlik om weer presies terug te sit soos dit was – dus splinternuwe stene. Soos daar opgegrawe word, neem geoloe foto’s en werkers spit weer toe. Die lapwerk lyk soos nuwe high top sneakers by ‘n balrok.
Dit is met hierdie plaveiwerk wat die ware handwerkers van Kroasië na vore tree – net twee manne wat oor 4 strate gelyk werk. Die amptelike invaltyd is negeer en teen tienuur is dit teetyd. Dan plak die manne hul langbeen op jou agterstoepie en word huistoebroodjies en koffie uitgehaal. Twaalfuur is dit middagete en wanneer hulle net na twee weer inval is dat net ‘n uur en half oor voor uitvaltyd.
Die voorman oor twee het ook na goeddunke die elektriese klipsnyer reg onder my kamervenster staan gemaak. Om wakkker te word in ‘n stofwolk van klipstof en ‘n skreiende gezoei is nie enige mens se grootste wens nie. Bure is ook al moerig, want na maande se gestruikel oor sandhope, bourommel en klippe het iemand ‘n pols gebreek, nog iemand ‘n heup beseer en twee babastootwawiele is aan flarde.
Die seisoen vir timmer en werskaf eindig Junie en soos die datum nader kom, begin die werksentoesiame, wat reeds sukkel, verder taan. Gerugte doen die rondte dat niemand op bouersvakansie mag gaan voor die strate nie voltooi is nie.
Twee grootbase daag onverwags een oggend vroeg op en ernstige woorde val. Arms word geswaai en sigaretstompies ergerlik weg geskiet. Daardie dag is daar geen teetyd of middagete. Die volgende dag is alles egter terug na normaal.
As jy ooit gedink het kruiwaens loop besonder stadig in Suid-Afrika het jy nog nooit die Kroatiese weergawe gesien nie. Die handlanger in beheer van sand-aanry stoot 10 tree, rook ‘n sigaret, gesels met die buurman en skop bal saam met die kinders voor hy nog 10 tree aanpak.
Na 5 weke is ons straatjie ( van 150m) klaar geplavei met sandklei tussenin gesmeer (die baie belangrike fuga), droog gewag en weer afgeborsel met ‘n klein kombuishandborsel. Ons straat is heel eerste klaar.
Ek is ‘n vinnige leerder en het gesorg vir koffie en koekies, bier teen middagete en Pelinkovac (knertsie kruiebrandewyn) teen uitvaltyd – elke liewe dag. Nooit gevra wanneer hulle klaarmaak nie – net getrou aangedra.
Die bure is verstom en eintlik bemoerd, want party van hulle wag al ses maande vir hul Brac-plaveisel. As jou oorsprong van Suid-Afrika is verstaan jy die handleidings van werkers…
Die dopstelsel en ongeoorloofde bribes het groot byval gevind hier teen die Adriatiese See.




