Skip to main content

Dis nou al meer as 6 jaar dat my obsessie met Facebook Marketplace floreer. ’n Dag kan nie verbygaan sonder dat ek nie daar rondsnuffel vir meubels, plante of antieke koppies wat ek geensins benodig nie.

Die heel wonderlikste van hierdie aanlyn koop- en verkoopwinkel (van hoofsaaklik tweedehandse ware) is dat jy dit kan stel vir enige plek in die wêreld waar jy ookal bly of soek. Op hierdie platform het ek al stoele en nogmaals stoele gekoop en dit in wilde kleure laat verf en oortrek sodat die oorspronklike eienaar dit nooit weer sal herken die. Die stoelkopery het so entoesiasties aangegaan tot my man ’n stokkie daarvoor gesteek het. Ek kan hom ook nie eintlik verkwalik nie – nege stoele van verskeie vorms en gebruikswaarde is dalk ’n bietjie erg.

So ’n rukkie gelede vang my oog ’n outydse vertoonkas van twyfelagtige kwaliteit, maar teen die spotgoedkoop prys van R1000 is dit presies wat ek benodig vir my versameling 1950’s gekleurde blompotte wat by elke snuisterywinkel regoor Suid-Afrika aangekoop is. Ek stuur onmiddelik ‘n aanbod aan die koper en vind gou uit sy het intussen na ‘n ander dorp verhuis, maar die kassie by bure gelos.

Telefoonnommers word geruil, geld oorbetaal en ek reël met die kasoppasser om dit op ’n sekere namiddag af te haal. Sy noem dat haar man heeldag tuis is, maar dat sy my self sal ontvang vir die oplaaisessie.

Op die voorhekkie  is ’n bordjie “Naturist lovers” en ek is baie beïndruk met die inwoners se liefde vir die natuur. Die tuin lyk egter baie verwaarloos en so by myselwers dink ek hulle moet liewer die bordje afhaal. So ’n paar minute vroeg, maar haar man is dan tuis so lui maar die deurklokkie. Toe die deur opswaai staan die man poedelnakend daar.

Kaalman: Sorry I am blind

Ek: Well I am not, but I can see you are happy to see me.

Hy nooi my gulhartig in, maar ek gee ’n vinnige trutreetjie en besluit om liewer op die stoepie sal wag vir sy vrou. Om oor ditjies en datjies te gesels met ’n kaal man en sy ereksie is nie heeltemal wat ek vir die spesifieke Woensdagnamiddag beplan het nie.

’n Paar minute later kom sy vrou aangedraf en vra vrolik dat ek asb haar man moet verskoon. Hulle is albei nudiste en hy dra glad nie meer klere vandat hy van die huis af werk nie. Sy vertel ook met groot smaak dat hulle mekaar so 5 jaar gelede by ’n nudistenaweek ontmoet het en sy dadelikk dolverlief op hom geraak het.Ek wonder op watter deel, maar hou maar my vrae vir myself. Ek voel veral dankbaar dat hy nie kan sien nie, want sy is definitief nie ’n oil painting nie

Die kassie is intussen mooi afgeskuur en ’n sagte geelgroen geverf met rakke vol baldadige blompotte. Na vele oordenking staan dit nou in die spaarkamer, want hier trek ook gereeld mense aan of uit en die kassie sal dus nie so uit sy plek voel nie.

Leave a Reply