Die woord “Indie” ontlok twee soorte reaksies: “Wonderlike land, wanneer gaan jy?” of “O nee, dis die laaste plek wat ek ooit wil besoek – hoor dis vreeslik vuil en deurmekaar.”
Laasgenoemde verbaas my elke keer, want as jy in Afrika bly, is jy alles gewoond. Dis nou nie asof ons strate met goud beslaan is nie. In die Ooskaap kan jy ‘n Getz verloor in een van die vele dongas in die pad en net so ‘n draaitjie deur die townships bied die klassieke voorbeeld van kraaines elektriese bedrading wat oral in die lug hang, oor die pad gele is of sommer net halflyf tussen die plakkershutte hang. Om dus Indie te besoek het ‘n vreemd-bekende gevoel tot gevolg.
Dis middel Maart as ons in Delhi land. ‘n Krans marigolds word om ons nekke gehang en as die taxi wegspring hotel toe, begin die groot avontuur. Ja enige rit hier is gratis vermaak vir ‘n adrenalien junkie. Jy glip voor ander motors in, druk auto-rikshas van die pad af en leer vinnig dat ‘n wit streep eintlik nog ‘n baan is.
Ons toer duur 8 dae, Delhi, Jaipur, Agra en sluit ‘n privaatbestuurder en sy taxibussie in wat jou oral heen karwei. Hy hou soos ‘n werfhaan wag oor ons henne en sy naam is Sohan lul Shwami. Hy is een van die onverwagte hoogtepunte van die toer. Sy Engels is goed en sy wonderlike sin vir humor kikker elke rit op. Nog ‘n bonus is dat hy die god Ganesh op sy dashboard het en dit ons, volgens hom, van sorgvrye veilige ritte verseker. Delhi het ‘n ou en nuwe gedeelte en ‘n dagtoer deur die antieke gedeelte is die beste inisiasie tot die Indiese geure, kleure en leefwyse.
Ons eerste afklimplek is die Jama Masjid-moskee waar elkeen summier in ‘n lelike geblomde oorjurk geskud word en in ‘n paar insteekpantoffels kry om aan te trek. Al wat nog gekort het was ‘n kruller in die kuif, sigaret wat halflyf by die lippe uithang en tannie Stienie se susters sou trots wees. Gelukkig lyk die ander besoekers nie juis beter nie en ons blend lekker in. Die fotonemery van hierdie gewade is liewer agtergelaat.
Die hele kompleks is pragtig – een van Mogul Shah Jahan se laaste argitektoniese opdragte, met drie hekke, vier torings en twee minarette van 40 m elk wat tot 25 000 mense in die binnehof kan huisves. My hoogtepunt is die stapels Korans wat in gekleurde lappe toegedraai le en ‘n ou Moslem man wat vir ure gehurk teen een van die mure sit en bid. Daar is ‘n aparte gedeelte waar verwagtende vroue en vroue met maandstonde moet aanbid en dit lyk baie meer knus so ek val toe ook sommer daar in. Mens mag mos maar ‘n witleuentjie oof twee pleeg so nou en dan.
Ons kry elkeen ‘n persoonlike fiets-riksha om die strate van ou Delhi verder te verken. Dis rye en rye met versierings, klere, krale, juwele en die baldadigste materiale in strate so nou dat jy aan die voorraad kan raak deur net ‘n arm uit te steek. Jy en jou riksha kompeteer met voetgangers, nog ander rikshas en waentjies vol vrugte, kerriepoeiers, klaar geregte en sap. Die trapper het hom misgis met ons gesonde bou en kyk kort-kort swetend om en wys dan bekommerd ‘n stel bruin tande. Oral om jou wapper die helderkleurige pante van Saris agterop motorfietse en die kakofonie van toeters sorg vir straat agtergrondmusiek.
Die middag besoek ons die imposante Outub Minar wat die begin van die Moslemregeringsjare verteenwoordig. Dit is die eerste Moslem-moskee wat in Indië gebou is. Die reuse toring spits 73 meter in die lug en is van sandsteen en marmer. Binne krul die trappe in ‘n duiselende spiraal, maar gesluit vir besoekers. Die kompleks vertel die verhaal van vervloë tye, heerskappy en ingewikkelde leefwyses.
Ons maak ook ‘n draai by die Lotus Tempel – Bahai geloofstruktuur, maar dis gesluit vir die dag so ons kyk maar van buite. Volgens die geloof moet daar 9 sirkelvormige kante in hul tempels wees, vandaar die slim ontwerp van ‘n lotusblom wat besig is om oop te gaan.
Ons laaste stop vir die dag is die cottage industries (winkels waar Indiese ware aan toeriste verkoop word teen belaglike pryse). My vriendin koop die eerste van vele lappe, ek ‘n pashmina en ander vriendin ‘n Sari-lap.
Jaipur
Dit is sowat 6 ure se ry na Jaipur – in Indië reken jy ‘n rit volgens hoe lank jy ry nie kilometers nie. Kamele, donkies, vragmotors, mense in optogte en plaastrekkers op die nasionale paaie is algemeen en elkeen het die reg om daar te beweeg al is dit ook soms teen die verkeer op.
Een van my grootste treats is die vragmotors wat van koplig tot agtermodderskerm versier is met die wildste kleure, plastiekblomme, vlaggies, tossels en uitgesnyde patrone op die deure. Party kajuite het ook diskoligte en baie interessante toeters. Een swierige wa het ‘n ou skoen op die modderskerm – baie belangrik vir goeie geluk. Daar is selfs stalletjies langs die pad waar enige vragmotor-eienaar nog versierings kan aankoop. Ons dwing Sohan om stil te hou vir fotos van die opgezoeshte lorries. So moet hy ook stilhou by die wa wat deur ‘n kameel getrek word en nog twee matplekke. Die ses ure word sewe.
Net buite Jaipur pryk die Amber Fort op een van die hoogste koppies en aan die onderpunt laai ons ‘n ander toergids op. Die olifante geverf in verspotte blombeddingontwerpe, dra jou al met die paadjie na bo.
Een binnehof van die fort het die mooiste mosaïekwerk van marmer, ingelegde edelgesteentes en klein spieeltjies. Oral op die hoeke is klein uitkyktorings waar elk van die Moghul se vroue saans verskyn het wanneer dit haar beurt was om hom te vermaak. Daar is ook rye kamers van houvroue en ek is seker die man was op iets sterker as ‘n tabakrolletjie om vir soveel kans te sien. Ons gids vertel dat die vroue en meisies altyd voor ‘n helder lig moes dans sodat hul rokke kon deurskyn. “Men will be men.”
As ons laatnamiddag Jaipur binne ry staan gedroogde beesmiskoeke toringhoog teen die pad. Dis die vooraand van die Holi-fees en hierdie koeke word gebrand as simbool van die slegte wat vernietig word en more, die eerste dag van Holi, is die begin van lente en vernuwing. ‘n Nuwe begin met ‘n fees van kleur en geur. Ons stop by een van die stalletjies met die helderste, gegeurde poeierverf en elkeen kies sy sakkie vol verf vir die volgende dag se feestelikheid.
Jaipur se pragtige Windpaleis asook die vele stadspoorte is iets ouwerelds wat soos ‘n filmstel lyk. Verskil is net dit is die real en deel van die stad se elke dag leefmillieu. Die breë hoofstraat het ‘n laning bome in die middel en hier word van hoenders tot kamme verkoop. Om een van die sirkels pyl ‘n motorfiets reg op my kant van die motor af en terwyl ek gereedmaak vir die slag, swenk ons bestuurder behendig uit en sorg dat ‘n ander motor onverwags tot stilstand gedwing word. Nie een van die bestuurders knip ‘n oog nie en ry voort asof niks gebeur het nie.
Op die eerste dag van Holi trek almal spierwit aan. Ons drywer en sy vriend stap saam met ons deur die feestelike strate. Jy word van oral af bestook met gekleurde poeierverf en waterpistoolstrale. Al wat ‘n man is het ook op hierdie dag toestemming om enige vrou te soen en mens leer sommer gou om die vuil ou omies te sidestep.
By die poloklub word ‘n spesiale toeristeprogram aangebied met toutrek, olifantpolo en mense wat aangetrek is soos die god Shiva, Hanuman en Ganesh.
Later steek net ons oe uit tussen die verfblertse, maar dit keer ons geensins om by ‘n mathandelaar in te stap en te redekawel oor pryse nie. As ons later probeer om alles af te was tref die werklikheid my in die spieel. Poeierverf, water en blonde hare werk glad nie saam nie. Weke daarna was my kuif nog groen en die res van my kop gehul in ‘n pienk skynsel.
AGRA
Die landskap tusssen Jaipur en Agra is half-woestynagtig, maar besaai met mostertvelde. Dit is aangeplant soos koring en staan omtrent dieselfde hoogte. Sohan vertel as jy ‘n jongman is, is dit die plek waar jy jou geliefde skelm ontmoet. Praat van mostert voor die maal…
Sohan draai van die pad af na ‘n paar huise onder ‘n brug. Hier woon kinderprostitute en as hul die motor gewaar, stroom hulle nader. Die meeste is skaars 16 jaar oud. ‘n Klein seuntjie van 10 of jonger is ook daar om sy liggaam te verkoop en talle jong kinderma’s staan met babas op die heupe. Een van die jong meisietjies vra my sonbril, maar as ek liewer vir haar ‘n pakkie bindi’s aanbied klap sy die fyn handjies vrolik. Blykbaar beweeg hierdie groepe prostitute elke maand na ‘n volgende plek – ‘n soort van roteringstelsel. Meeste van hierdie kinders kom van Kolkatta, een van die armste gebiede in die land. Hul inkomste hou hele families elders aan die lewe.
Agra is ‘n hoogtepunt waarna ons almal uitsien as gevolg van die Taj Mahal. Maar eers besoek ons Fatepur Sikri. Dis ‘n blitstoer en al wat ek onthou is dat hier ‘n Moghul gewoon het met vroue van verskillende gelowe. Elkeen het haar eie kombuis gehad waar haar en haar howelinge se kos voorberei is volgens die geloof se gebruike en wette. Een gebou, ‘n tipe raadsaal, het ‘n uiters ongewone boustyl waar die owerstes op die boonste vlak op houtbalke gesit het vir vergaderings.
Laatmiddag as die son al water trek nader ons die Taj Mahal. Dis ‘n vakansiedag en mense ryg soos stringe krale deur die groot poort. Eers as jy in die poort self staan, sien jy die perfekte simmetrie van die Taj Mahal voor jou met sy pragtige tuine en die lang dun dam voor die gebou waarin die ode aan ewige liefde reflekteer. Niks kan jou voorberei op die onvergeetlike gesig van prag en grootsheid nie. Die Moghul Shah Jahan het hierdie kompleks vir sy derde en mees geliefde vrou gebou na haar die dood. Die besoekers druk en stoot om die graf self van naderby te sien, maar dis tydmors, want die een bo die grond is vals. Die regte graf is ver onder die grond.
Die inlegwerk in die marmer ongelooflik mooi en ingewikkeld en die gids vertel dat die kompleks elke Vrydag sluit sodat juweliers van die omgewing gratis restourasiewerk kan kom doen van edelgesteentes wat met die tyd uitgeval het.
Die beroemde bankie reg voor die Taj Mahal was die Shah se geliefkoosde plek om na die gebou te sit en kyk en die rye is dus lank vir ‘n foto daar ook. Ongelukkig het die Shah so obsessief geraak oor die bouwerk dat sy seun hom later moes laat opsluit voordat hy die hele nasie se geld verder verkwis het om vir homself ‘n soortgelyke mausoleum te bou.
Daardie aan neem Sohan ons uit vir eet en ons trek nuwe uitrustings aan wat daardie dag in twee uur se tyd gemaak is. Om liries te raak oor Indië se kos, speserye en geure klink na ‘n cliché. Die eenvoudige naanbrood met komynsaad en ghie smelt in jou mond en elke gereg se geure ontplof op die tong.
Die laaste dag in Agra is my vriendin Wilma se verjaardag en vroegoggend bring ons drywer vir haar ‘n ruiker blomme hotel toe. Met sy eie geld gekoop. Sy motor is ook versier met risssies en lemmetjies en om Ganesh se nek hang ‘n string roosblare. Dit alles om net seker te maak ons reise is veilig en geseend.
Te gou het ons tyd uitgeloop in die Goue Driehoek van Indië. Die volgende stop is Goa.




