Soos elke dorp, het Stari Grad, ook sy karakters en bekende figure wat ek jaarliks raakloop tydens my besoek. Elkeen is deel van die laslappieprentjie van die dorp en maak die plek nog meer spesiaal.
BERTIE
Bertie is ‘n maer verskrompelde omie wat elke oggend by Marko Pizza sit. Sommige dae groet hy, maar meestal nie. Om die waarheid te sê ek het hom nog nooit ‘n gesprek sien voer met enige iemand behalwe homself nie. By hierdie restaurant kry hy koffie en ‘n bord kos elke dag. Vandaar af dwaal hy, vir die res van die dag, deur die nou straatjies van die dorp. Hy leef totaal in sy eie wêreld.
By navraag hoor ek hy was jare terug getroud, maar dat sy vrou weg is nadat hul dogtertjie verdrink het. Hy het daarna in ‘n wêreld van sy eie verval. Hy woon alleen in ‘n huisie sonder elektrisiteit en sy suster stuur maandeliks ‘n bedrag aan Marko Pizza om vir sy etes te betaal. Bertie maak messe skerp vir 5 Kuna, maar meeste gee hom 20 as verskoning om seker te maak hy oorleef. Almal ken vir Bertie en betaal vir sy koffie as hy by ‘n cafe/bar gaan sit. Bure gaan versorg sy huisie binne en dra brood en ander proviand aan.
Naskrif: Bertie is twee jaar terug stil in sy slaap oorlede en my buurvrou sê dit was een van die grootste begrafnisse nog op die dorp.
MARGI
Douvoordag sien jy haar teen die see waar sy besig is om seekatte te vang. Sy verkoop aan ‘n plaaslike restaurant. Sy praat ook nie, behalwe as sy dink jy het haar te na gekom. Dan snou sy jou die vreeslikste vloekwoorde toe, maar vyf minute later lag sy weer vrolik.
Half dubbeld gevou krap sy dag na dag deur die asdromme op soek na plastiek of glasbottels. Sy dra nie graag skoene of onderklere nie en haar verhaal is ook maar tragies. Sy is van geboorte af in haar eie bubble en het saam met haar pa groot geword.
Deesdae bly sy net om die draai van my en kom klop gereeld donkeraand aan die deur vir ‘n geldjie. Verlede jaar het iemand haar leer brei en sy het die hele somer op die kerkkloktrappies gesit en knoei. Sy hou niks van oorskietkos nie en het al ‘n vriendin, wat barmhartige samaritaan wou speel, daarmee gegooi. Nee sy is ‘n meisie vir blink geld, bright krale en min onderklere.
OOM VINKO
Hy is ‘n statige man (in sy 80″s) met ‘n wandelstok en ‘n besondere groot neus. Jy kan hom as effens verfynd beskryf, maar niemand weet hoekom hy nooit getrou het nie. Hy groet almal met ‘n kopknik en drink nooit koffie saam met die ander local manne nie.
In sy jeugjare was hy ‘n Olimpiese swematleet en het dit sy lewenstaak gemaak om al vir vyftig+ jare ‘n internasionale langafstand swemkompetisie te reël hier in die baai. Met langafstand bedoel ek 16 myl see-in. Hier daag elke laaste naweek van Augustus swemmers vanoor die hele wêreld op vir die geleentheid. Elke swemmer se verblyf word geborg en kry sy/haar persoonlike ondersteuningsmotorboot om veiligheid te verseker.Hy het sy lewe aan hierdie kompetisie gewy en ons dorpie is ‘n beter plek as gevolg van sy onwrikbare liefde vir swem as sportsoort.
Naskrif: Oom Vinko is ook vanjaar oorlede en ’n groot gees van die dorp is vir altyd weg.
In ‘n dorp vol interessante mense staan ‘n paar altyd uit. Die lewe maak dikwels uitroeptekens bo party mense se koppe en jy vergeet hulle nie sommer nie.
IGOR
Igor is trots daarop dat hy in sy hele lewe nog nooit een dag gewerk het in ‘n beroep nie. Hy lyk soos die held Shogun met n dun bokstertjie bo-op sy kop. Hy is die enigste seun van ‘n pragtige, ryk vrou wat lankal oorlede is. Sy erfenis is drie reuse geboue in die antieke deel van die dorp, maar almal is in verskillende fases van verval.
Elke jaar is daar ‘n restaurantkompetisie in die dorp en alhoewel hy nie een besit nie, wen hy meestal al die pryse tot groot frustrasie van die ander sjefs. Groot name soos Michael Palin het by hom aangedoen en sy naam staan verewig in een van sy reisboeke.
Igor is soos baie lief vir sy drank en skuif so al saam met die son van cafe/bar na cafe/bar. Teen laatmiddag is hy goed gekoring en soek dan skoor oor politiek, laventelpryse en wie die beste olyfolie vervaardig. Eenkeer het die debat so heftig geraak dat hy ‘n ander karakter met ‘n groot plank deur die nou straatjies gejaag het. Albei slingerend en geen raak houe nie.
‘n Hoogtepunt was toe hy een aand spesiaal vir my en Henk gekook het in sy huis. Bruschetta met kruiepatee, biefstuk met trufflesous en panacotta met laventel. Die wyn is bo uit die dak se vate gehaal en later die aand het hy ons vermaak met treurige liefdesliedere – hy en ‘n operasanger van Split.
LUIS ZULU
Luis is soos familie hier by ons huis. Hy verstaan Afrikaans en ken die geskiedenis van hierdie eeue oue dorpie baie goed. Saans kom drink hy ‘n glasie wyn saam met ons en voed dan my man se honger na geskiedenis.
Sy ouers het net na die Eerste Wêreldoorlog saam met soveel ander Kroate ander weivelde gaan soek. So eindig sy familie in Benoni en dis ook waar Luis en sy broer gebore word. Op die ouderdom van 16 sluit hy by die SA Spoorweë aan. Sy ouers besit ‘n klein plaaswinkeltjie net buite die dorp. Luis en sy broer is die enigste wat Afrikaans en Engels kan praat/ verstaan en raak sy ouers se mondstukke in ‘n vreemde land. Later jare verhuis hulle na Scottburgh aan die Natalse Kus. Toe Verwoerd in die 1960’s apartheid afkondig begin die broers vrees dat hulle, as Kroate, ook in gedrang sal kom en begin die terugtog na ‘n klein eilandjie in die Adriatiese Nee. ‘n Vaderland wat hul nog nooit voorheen gesien het nie.
Hier woon Luis nou al meer as 65 jaar en is een van die laaste mense op die dorp wat hoofsaaklik ‘n lewe maak van sy lappie grond af. Elke dag gaan hy na sy landerye toe en werk alles per hand – selfs sy ploeg is handgedrewe en om plante nat te maak beteken water uit ‘n put optrek met ‘n emmer en elkeen individueel natmaak. Daar is gereeld ‘n bossie laventel of kantblomme in my vensterbank as hy weet ek is hier.
Die laaste jaar is die groot liefde van sy lewe, sy vrou waarmee hy op 42 getroud is, oorlede en Luis het ook nou opgegee. Hy gaan nie meer landerye toe nie en leef van sy pensioen en aalmoese in ‘n bouvallige huis sonder verhitting vir die wintermaande.
DAMIR
Damir is die restauranteienaar en deeltydse sjef by Konoba Damir. Hy het al paar keer van plek tot plek geskuif, maar uiteindelik ‘n permanente rusplek gekry op die eerste plein wat mens sien as jy die dorp inkom.Sy plek is een van die restaurante wat dwarsdeur die jaar oop is en wintermaande kry jy elke dag boontjiesop met ‘n gerookte wors op die spyskaart (Fazol). Dit is hemelskos en as ek teen die lente land koop ek hom graag om om die gereg nog tot ten minste in Junie gaar te maak. ‘n Glas rooi huiswyn, varsgebakte brood en ‘n bakkie Fazol sê huis en comfort.
Sy jarelange hoofkelner is eintlik ‘n rapper en dj so Sondagaande kom almal in die piepklein binnekant bymekaar. Daar word gelag en rinkink tot in die nanagure.
As ek iemand dringend soek op die eiland bel ek vir Damir en hy sal binne 10 minute kan verslag doen. Eenmaal het hom selfs op die viswaters naby Viseiland gebel, maar dit was geen probleem. Hy verwelkom ons jaarliks soos lank verlore familie en geen vakansie het amptelik begin voordat jy nie een van sy reuse wiener schnitzels verorber het nie.
Dowe Oom Vino
Solank as wat ek Stari Grad ken is die ritueel dat daar altyd ‘n glasie prosek gedrink word voor Vino, naby die seiljaghawe. Die wynwinkeltjie bestaan al ‘n ewigheid en iemand het die eienaar (ons noem hom sommer Oom Vino) ‘n digitale kamera gegee. Elke seiljag wat aandoen koop hul drank daar en hy is altyd reg met ‘n laggie en flink diens.
Elke jaar by aankoms neem oom Vino ‘n foto van my en vind dit ook nodig om al die voriges 15 jaar s’n vir my te wys. Niemand hou daarvan om jou verval in die spieel dop te hou nie, maar glo my ‘n foto-argief is nog meer depressing.
Oom Vino gooi rojale doppe prosek (rosyntjiesoetwyn) en hou altyd my hand ook ‘n bietjie vas om te welkom te sê. Hy is doof en sy kommunikasie is dus beperk tot aanraking, groot glimlagte en oormatige sopies.
Naskrif: Hy het drie jaar terug gaan visvang op sy bootjie en daar alleen op die see beswyk aan ‘n hartaanval. Ek mis hom baie en die Vino is nie meer dieselfde sonder hom nie.




