Indie vervolg/...
GOA
Dit lê aan die weskus van Indie en is sowat twee uur se vlug van New Delhi. Dit het ‘n tropiese klimaat en ‘n sterk Portugese invloed op die boustyle, geregte en gebruike.
Ons hotel is ongeveer ‘n uur noord van die lughawe en as jy met die kus langs ry groet sjokoladebruin kinders jou al hardlopende langs die motor. Hier staan villas, bouvalle en grashutte styf teen mekaar. Niemand is te goed om jou buurman te wees nie en almal leef voluit op straat, vir almal om te sien. Die haarkapper se gebreekte spieel staan skuins teen ‘n boomstam en ‘n klient is toe onder die skeerskuim vir ‘n opkikker en haarsny. ‘n Entjie verder is ‘n ou man besig om iemand se ore skoon te maak met ‘n dubbelgevoude draad. Heilige koeie wei onverstoord tussen die mense en een kyk traag op van sy lêplek in die middel van die pad.
Die hotel, Sonesta Inn, is in die dorpie Candolim en het ‘n koloniale boustyl. Dit is weggesteek in ‘n stegie sowat 200 meter van die strand. Langs die skoonheidsalon is ‘n piepklein Katolieke kerkie met ‘n vreeslike groot kruis teen die buitemuur. Net oorkant is ‘n opelugrestaurant met poeierblou tafels en die beste kalamari. Dis gestop met neute en garnale en ek verorber twee borde. Die skemerkelkies op die strand is waterig, maar die view van die grasdakrondawels is mooi teen sonsondergang. Drie mans stap in die vlak branders met opgerolde pype en arms bymekaar ingehaak.
Elke dag verken ons ‘n ander area met ‘n taxi wat ons self kies tussen die menigte geparkeerdes. Dit veroorsaak groot konsternasie, want jy is veronderstel om die eerste een in die ry te kies. By die Donna Paulo jetty staan 10 Hinduvroue in hul mooiste saris en wag geduldig vir die fotograaf om alle angles af te neem. Die Mandovi en Zuari-riviere vloei hier bymekaar en in die see. ‘n Antieke kassie by ‘n opelugwinkeltjie wink my, maar ek hou maar verlangend verby. Erens steek ‘n ander taxi ons verby met “God is good” agter op die ruit.
Die basilika Bon Jesus is uit die Portugese era en nog in volle gebruik. Die liggaam van Xavier St Francis word hier gehuisves. Hy was ‘n klein van postuur priester wat hier kom arbei het onder die nasie. Volgens oorvertelling het sy liggaam om een of ander rede nooit heeltemal gedisintegreer nie al was dit twee maal begrawe. Die mense beskou hom as ‘n heilige en sy standbeeld buite die kerk is heeltemal oortrek van marigold blomstringe.
Die dorpies flits verby die taxivenster en kort-kort talm ons vir fotos van veelkleurige, bouvallige huise. Die meisies se kooplus oorval hul weer en ons word vir ‘n hele paar uur afgelaai by die dekadentste winkel wat van handsakke tot tandeborsels verkoop. My fondse is die mooiste skulpaandhandsakkie, bling sandale en regte Jumka-oorbelle.
Die laaste dag is weer stranddag vir oulaas se ontspan. ‘n Pure kind vra om ons voete te masseer in die strandstoele. Sy gee vir elkeen ‘n enkelketting om die dag mee perfek af te sluit. Te gou is die soel aande van Goa net spookasem en die reuk van frangipanis net ‘n memory.
Indië is nie vir sissies nie. Indië is vir mense met ‘n passie vir die lewe en oop arms vir die ongewone. Gaan eenmaal in jou lewe en verryk jou sintuie, jou uitkyk op die lewe en skud die geykte denke van ‘n Westerling af – al is dit ook net vir ‘n paar dae. Toe wees dapper.




