Skip to main content

Van geroesde antieke sodaspritsers en oranje telefone tot bejaarde egpare wat op die straathoek tango - San Telmo het dit alles.

Dis 3 Januarie en ek bespreek my kaartjie – Kaapstad na Buenos Aires – vir September. Die epos word uitgestuur na alle vriendinne met die datum, vlugtye en nommers, want ek verjaar en wil dit êrens vier waar ek nog nooit was nie.

Vrydagmiddag, 17 September, 17h35 land ek en nog drie vriendinne van SA op Buenos Aires lughawe. Ruben, die Argentynse gids laai ons op en my sy gekleurde kwaf en slap polse vee hy summier my kopfoto van smeulende Argentynse studs tot ‘n ink blur. Sy vriendelikheid en georganiseerdheid maak darem op vir die gebrek aan haarstyl en rittelende spiere. Ons huur ‘n huis in San Telmo, die ou deel van Buenos Aires, wat bekend is vir sy antieke winkels en Sondag straatmarkte. Voor die deur staan en trippel drie ander vriendinne van Kanada reeds toe ons stop en almal ontmoet, herontmoet en lag gelyk

So lyk die vriendekring vir die volgende 7 nagte:

Calima, Bellville – enkellopend, opinionated en in beheer van groot projekte by ‘n Northlink kollege.

Shirley van Tokai – enkellopend, no-nonsense girl met groot konneksies onder die struggle elite en pas afgetree as hoof van Corporate Education.

Merlene – enkellopend, suksesvolle besigheidsvrou van Mouillepunt met ‘n sterk aar Joodse-boerebloed.

 

Ziza – Portugese ma van drie met ‘n Hollandse man en kunsgalery in British Columbia, Kanada.

Ann – Australiese ma van uit-die-huis kinders, getroud en woon in Hope ‘n deurwinterde wereldreisiger en omgee- engel

Anelia – oorspronklik van Piketberg, maar vir 20 jaar reeds in  Kanada. Free spirit, in serious need of Ritalin, kunstenares en eens superatleet.

Keiko – enkellopende Japanese skoonheidsterapeut met ‘n onblusbare lus vir organisasie, skoonmaak en rooiwyn.

Myself – boeremeisie, grootgeword in Vredendal en tans woonagtig in Welgemoed. Onblusbare lus vir die onbekende, mense en om herinneringe te versamel. Met meeste van hierdie groep is ek die enigste gemene deler – dws almal ken nie vir almal nie.

Ons huurhuis in Estados Unidos het vyf slaapkamers, drie onthaalareas, vier badkamers en ‘n daktuin wat uitkyk op die bure se reuse satellietskottels. Daar word uitgepak, nesgeskrop en voorraad gekoop by die naaste supermark. So gou moontlik sit ons almal in die binnehof met ‘n glas SA wyn (al die pad saamgevlieg) en ruil snippets van ons lewens uit. Daar hang afwagting en opgewondenheid oor ons, want die volgende 7 dae is net ons vrouens s’n – vir ontdekkings, saamkuier en wegraak in Buenos Aires.

 

Sondag in San Telmo: Op die natgedoude plaveistene van ‘n bree San Telmostraat pak informele handelaars reeds van vroegmore af hul ware uit – tafels en vertoonrakke is oorbodig – hier gooi jy net ‘n gekleurde lap neer en rangskik juwele, sponsdiere of ‘n marionet tot finansiele voordeel vir elk. Rastas, gypsies, ou verkreukelde argentynse tannies en snotkoptieners staan skouer-aan skouer met iets te koop, iets te eet of iets te sien – alles teen ‘n minimale prys. Op die een straathoek dans ‘n bejaarde Gardella-lookalike met homself ‘n tango en verder af sit ‘n afkop straat ”standbeeld” op ‘n stoel langs sy geroeste blikkie vir geld. ‘n Man en vrou met oostewind jaspante, ‘n wegwaai das en ‘n sambreel wat omdop in die wind stap verby, maar iets pla, want hier waai geen wind – dis ook straat performers en ek is seker hul show lees ‘n Argentyns “windverwaai”. Deur op deur lei na antieke stukke van ‘n tyd toe die elite van hul skatte moes verkwansel om te oorleefDie regering van daardie tyd het al die geld in banke gevat – ja, letterlik gevat en dit was al manier om inkomste te kry – verkoop jou perels, verkoop jou kristal en bied jou 1962 oranje telefoon te koop aan vir versamelaars van die verlede.

 

Van ver af hoor jy reeds die geroffel van tromme – al nader trom dit tot die aarde onder jou voete dril en dan sien jy die 30 stuks tromspelers afloop in ‘n oorvol straat. Oral langs hulle dans vroue spontaan tango steppies – ‘n kop word skalks gedraai, ‘n heup wulps geswaai en ‘n statige ou dame (diep in die 70) skop die voet guitig vorentoe en agtertoe met ‘n glimlag wat draal

Op die plein staan ry op ry antieke ware stalletjies, maar werklike winskopies is skaars en slegs rye en rye spritzer bottels wag in gelid. Tog snuffel almal verbete vir die verborge bargain of ‘n stukkie nostalgie om huistoe te neem.

Op die ander hoek speel die oeroue taffereel van ‘n liefdesdriehoek hom af op ‘n tangodansvloer van 2m by 2m. ‘n Bejaarde tangodanser smeul wang teen wang met ‘n veel jonger dame op die dansvloer. ‘n Deurleefde dame met geelblonde hare, ‘n te klein royal blue strappiesrok en te veel rooi lipstiffie tik die jonger dame op die skouer en wys haar die deur (of liewer die rand van die dansvloer) en begin self die dans van liefde met haar amper-verlore dansmaat. Hul lywe word een en hul passies ‘n geheel – soos net ou getroudes weet na jare van saamtrap. By die laaste note van die konsertina klap die skare spontaan hande en gooi hande vol geld in die hoed. Laer af in die straat staan rye gepak met Buenos foto’s, skiderye in waterverf, olieverf en self papierplakwerk.

Ek koop ‘n triptiek met ‘n straatkafeetoneel wat oopvou om ‘n tangopaar te onthul en erens agter ‘n potplant loer ‘n swart kat uit. Mate (kruietee) bekers van elke ontwerp staan ingeryg en geblomde leerware wink in elke vorm en kleur na jou sintuie. Jy draal by elke stalletjie – nie omdat jy iets wil koop, maar om ‘n ‘n geheuefoto te neem wat gevul is met kleur, geur en atmosfeer. Laatmiddag speel ‘n groot orkes tangomusiek voor die plaaslike katedraal en jy raak saam met vyftig of meer vreemdelinge weemoedig oor die trekklavierklanke wat huil van verlore liefdes en passievolle tangonagte wat dalk nooit weer sal wees nie. Teen aandskemering begin elkeen stadig hul ware oppak – die einde van nog ‘n Sondag in San Telmo.

Oppad huistoe loop ek trompop in Johnny Depp se Dr Hook vas – iemand neem ‘n foto en ek smile. Vir oulaas huiwer ek nog ‘n rukkie by ‘n straatkafee met ‘n Coronabier en ‘n 1966 Fordbakkie met vier verskillende kleure.

 

Leave a Reply