Huisuitruil is een van die lekkerste Lucky packets wat mens jouself kan gee. Ons ruil ons Kroatiese posseel vir 'n vierslaapkamerhuis in die Loire-Vallei vir 10 volle Dae.
Die Franse Platteland-seisoen het vir my en die seuns aangebreek.
Ons het gister van Montparnasse na Tours gereis en ‘n 210km trippie in 1uur en 10 min gedoen – die wonder van vinnige treine. By aankoms wag Pierre, die huisbaas se seun, ons in en as al 7 stukke bagasie in die Clio gestop is, kyk hy half benoud rond vir ‘n gaatjie om te kan bestuur.
Strate glip vinnig onder ons uit, want die eindpunt is Savonnierres, ‘n klein gehuggie, 15 km van Tours in die Loire-Vallei. Op ‘n kronkelpad ry ons verby ‘n plaat sonneblomme, wat koppe skeefgedraai na die son toe kyk. Oral is koringstoppellande en akkerlanings en die een village na die ander.
Ons huis vir die volgende 10 dae is heerlik gerieflik, op die kant van die dorp met volop kamers, geriewe en ‘n reuse tuin. Dit het die mooiste uitsig op ‘n reuse kasteel wat verweg waghou op ‘n heuweltjie. Pierre is ‘n bakker en het vir ons ‘n kraakvars baguette op die kombuistafel gelos.
Laatmiddag ry ons deur Savonnierres self en ontdek die “Caves Petrified” met wegkruipgaatjies, klammerige muf mure en heerlikste wyn. Ons kruip deur die tonnels en verkyk ons aan die stalagtiete en mini-watervalletjies wat oral afstroom.
Dag 2: Ek en die seuns pak padkos vir ons eerste uitstappie na ‘n kasteel of twee. Hier in die Loire-vallei is meer as 50 kastele en ongeveer 20 is oop vir besoekers. Die naaste een aan ons is Chateau Villandry, maar ons wil graag Leonardo da Vinci se laaste aftree-kasteel gaan verken. Wel, erens tussen La Riche en Tours het ons toe die pad byster geraak en as ons weer sien is ons in die middel van Tours se sakekern. Dit gebeur natuurlik as ‘n mens in ‘n wildvreemde gebied wil ry sonder ‘n kaart, maar gelukkig is ook ‘n fout ‘n avontuur in ‘n vreemde land. Ons eindig toe maar in ‘n winkelsentrum waar die seuns ure ronddwaal in die winkel met elektroniese “gadgets” en ek my vermaak het met kennis oor wat die Franse eet, gebruik vir waspoeier en onder hul arms spuit. Nog ‘n entjie aan sien ek my favourite winkel in Europa – IKEA.
Die toebroodjies en koeldrank word voor die ingang van IKEA geeet en die seuns drentel sleepvoet agter my aan, want dis meestal huisware en meubels. Later vind ek hulle in die kinderafdeling by die sagte speelgoed. Francois het vir Paultjie in die reuse houer met sagte speelgoed geboender en net sy voete steek uit tussen die bere, slange en donkies. Dit was definitief tyd vir huis-toe-gaan
Alles is vreemd en effens oorweldigend, maar dis die begin van ‘n nuwe avontuur en ons is gereed vir enigiets. More probeer ons weer om oom Leonardo se kasteel te vind.
Dag 3 is ons meer ingestudeer in Google Maps en gereed vir Chateau Clos Luce. Dis hier waar Leonardo da Vinci die laatste drie jaar van sy lewe spandeer het op uitnodiging van Koning Francis I en sy gade. Da Vinci het die studente hier onderig en saam aan levensgrote modelle van sy bekendste werke gewerk wat oral in die Chateau en tuine te sien is. Hierdie is so in enige veertienjarige seun se kraal en alle modelle word bekyk en uitgetoets – soos dit bedoel is vir besoekers.
Dit raak later skemeraand, maar ons verkyk aan die geniale kontrapsies en leer selfs dat die lewensreddingsboei deur hom uitgedink en geprakseer is.
Chateau de Villlandry is naby aan ons dorpie, Savonnieres en dag 4 is ons besoekdag.
Die tuine is asemwegslaan mooi en in afdelings geplant. Daar is ‘n gedeeltes met kruie, inheemse blomme en bome, uitheemse blomme, groentetuine en hopeloos te veel om op te noem. Elke akker is netjies omhein met rankplante en tot perfeksie gemanikuur om deel van ‘n algehele lappieskombers uit te maak. Dit is soos ons eie Babylonstoren op steroïde maal 20.
Laatmiddag verken ons die walle van die Loirerivier en eet heerlike pasta in ‘n klein restaurantjie met blokkiestafeldoeke en goedkoop wyn.




