Dis 'n triestige wintersaand in Stari Grad. Die Bura-wind huil om die hoeke . Hierdie wind kom uit die noordooste, oor die Velebitberge, en vries jou bloed. Ek en klein Francois woon noual 'n maand op die buitewyke van die dorp en gaan soek warm boontjiesop by Marko Pizza.
Hier en daar sit ‘n paar manne (vroue kuier nie in restaurante op hul eie hier nie). Almal is gepleister voor die sokker tv. Ek probeer my onsigbaar hou, maar boeta gesels oral soos net ‘n sesjarige kan en binne ‘n halfuur ken die hele restaurant die familiegeskiedenis.
As die laaste fluitjie blaas kom staan ‘n reus met wit hare en ‘n baard langs ons tafel en stel homself voor. Hy wieg ‘n bietjie op sy voete, maar die engels is die beste sover op die eiland en ons groet vriendelik. Hy stel homself bekend as Marijan Hodak.
Marijan (72) woon eintlik voltyds in Zagreb, maar hy is op siekteverlof as gevolg van depressie. Sy klein vakansiehuisie is in die middel van die ou historiese gedeelte. Gou vind ek uit dis eintlik drank se skuld dat hy so onkapabel is. Ek ontdek ook dat hy ‘n televisie filmmaker is wat spesialiseer in dokumentêre reekse oor Kroasië. In een van die hoenderkopgesprekke vertel hy van sy werk tydens die Domovinski War (Vaderlandsoorlog van 1992) en “I was fighting war with camera”.
Die dorpie is bitter klein en as ek weer hoor het Francois saam met Marijan en die dorpskinders sokker gespeel op die kerkplein, vuur gemaak teen die see of ‘n paar lelike vloekwoorde geoefen.
Marijan sit van kafee tot kafee en rook twee pakkies sigarette per dag, drink talle glasies Pelinkovac (kruiebrandewyn) en love vir Elvis. Hy voel dit is sy plig om vir ons die eiland te wys en kom laai ons ten minste een maal ‘n week op met sy rooi Ford stasiewa. Ek bied maar elke keer aan om te bestuur, want is nie lekker seker hoe Henk sal voel as hy hoor sy vrou en seun het oor ‘n krans gestort met ‘n winddronk Kroat nie. Tydens elke trippie hoor ek “any parking is good parking”. Ons is veilig en Marijan drink nog meer vryelik.
By hom leer ek dat immortelle oral in die veld groei en een van die duurste produkte is wat in Franse gesigserums gebruik word. Oreganum, roosmaryn en laventel groei welig en is medisyne vir meeste inwoners. Hy vertel dat hier byna geen slange op die eiland is nie en die wat wel rondseil totaal skadeloos is. So leer ek van die Bura-wind wat mense tot selfmoord kan dryf, skepe laat omdraai en ook van die Maestral, Jugo en ander.
As ons inloer by sy huis is hy besig met skilder, houtbrandwerk of spotprente teken van sokkerspelers en politici. Kreatief, talentvol en so ‘n interessante persoon, maar ai, drank en anti-depressante werk nie goed saam nie.
Sy humeur is nog korter as ‘n sigaretstompie en talle woordewisselings breek uit as hy in die geselskap is. So jaag hy en ander lief-vir-drink Igor mekaar een aand met planke deur die strate. Igor is ‘n Serbiër van geboorte en enk hoor net hoe snou Marijan hom toe: “A good Serb is a dead Serb!” Gelukkig is albei te onvas op hul voete om enige skade aan te rig.
Sommige koue wintersaande daag hy by ons op met ‘n kannetjie wyn en ‘n cd speler vol Kroatiese minnesangers. Halfpad deur die aand sing holle hom aan die huil en dan troos ek en boeta maar. Hy vertel ook graag van sy lovers en is baie rojaal met die fyner detail. So leer ek van Anitsa, ‘n operasangeres, een van sy conquests. Hy vertel met smaak hoe hy gereeld by haar gaan kuier het en so twee aande voor elke besoek gebel het met die opdrag: “Anitsa, don’t wash!”
Drie maande na ons aankoms sluit Henk, my man, by ons aan en die twee vind mekaar ewe amusant. Een aand tydens ‘n jolige kuier is sy ander kunstenaarsvriend ook by en met ‘n klap agter sy kop wys Marijan daarop dat hy ‘n tipiese Balkan head het. Dis ‘n baie plat agterkop. Hulle albei draai vir Francois sorgvuldig in die rondte en slaan mekaar op die blaaie as hul ontdek dat klein Francois gelukkig ‘n Aerian head het.
Op die voorlaaste aand van ons vertrek bespreek Marijan ‘n restaurant in Hvar Town. Ons en twee gehuurde musikante is die enigste gaste en smul aan heerlike seekos. Die wyn trek en hy sing harder as die orkes met so ‘n tuitmondjie na regs. As nuwe, ongenooide gaste instap en hom stilmaak is daar amper oorlog. Hy skreeu so hard dat dit drie mans vat om hom te kalmeer.
die Plitvice mere voor die terugtog SA toe. Dit is ‘n sneeuwonderwêreld en Kersoggend hou ons al vier pajamapartytjie en deel geskenke uit.
So skryf Marijan gereeld lang briewe na Suid-Afrika. Vir Francois stuur hy ‘n spotprent van ‘n seuntjie wat teen die wind piepie en van kop tot tone natgespat is. Daar is ook middernagtelike dronk oproepe en lang, onsamehangende gesprekke waar mens maar net suutjies die foon dooddruk.
Twee jaar later kry ek ‘n oproep. Marijan wil sy huisie in Stari Grad verkoop, want sy geld is min. Op ‘n lieflike lentedag teken ek die kontrak in Stari Grad. Daardie aand sing die twee musikante weer by die restaurant. Die bure kla en ons kuier agter geslote deure tot in die nanag.
Ses jaar later: Marijan bel om te sê hy het kanker. Hy het vrede in sy hart en voel dis ‘n welkome verligting vir die hel van depressie. Die dag van sy dood bel my Stari Grad buurvrou my om te laat weet. Ons brand ‘n kers in Afrika, luister na sy geliefkoosde Kroatiese sanger, Oliver en Amazing Grace van Elvis.




