Slovenia is omring deur Kroasie, Hongarye en Oostenryk. Dit is 'n katspoegie van Split af per motor, maar om per trein daar uit te kom... Wel, dis 'n heel ander stel wiele.
Op die kaart lê Budapest en Slovenië baie naby mekaar, maar om een of ander rede het die treinspoorbouers dit goed gevind om heelwat kronkels en opskure oorklimstasies as obstacles daar te sit. As jy met ‘n motor sou ry van Budapest na Ljubljana is dit slegs 377 km, maar die treine van burokrasie neem my via Wene (noord), Maribor (suid) en dan Ljubljana (wes) – ‘n volle 9 uur en 12 minute. By elke oorklimstasie maak ek die volgende trein met sekondes. By Maribor sien ek my volgende trein twee peronne en ‘n duikweg ver en waai vervaard vir die kondukteur om te wys ek is oppad. Een van die stasievëers sien hier kom ‘n fout en gryp my tas terwyl ons altwee soos in ‘n fliek na die stadig-bewegende trein hardloop. Ek spring op en vëer gooi tas agterna; kondukteur wys vir my vinger en tik op sy horlosie terwyl die metaalwiele al vinniger onder die perron uitgly.
Ek het geen hotelbesprekings gemaak nie en vertrou (alweer) op ‘n taxidrywer om my na ‘n dak oor my kop te neem. Erens het ek gelees van die een jeughostel wat voorheen ‘n tronk was en vra dat hy my soontoe moet neem, maar nee, hy blaas sy wange koelrond op en herhaal talle male “phoei-phoei”. Neem my eintlik op ‘n toer daar verby om te wys dat die plek van buite baie vuil lyk en demonstreer ook sommer duidelik hoe ‘n spuitnaald in jou arm gekap kan word. Onstwee besluit saam dis dalk nie die regte plek vir my nie en taximan neem my na Hotel Park (elke groot dorp in Kroasie en Slovenie het ‘n hotel Park, g’n mens weet waarom). Dit is heel repektabel en die prys sorg ook dat ek nie honger aan die lakens hoef te knaag vir die volgende paar dae nie.
Miskien is dit omdat die hele land Slovenië net 2 miljoen mense het dat ‘n dorp soos Ljubljana net 20 000 mense hoef te hê om stadwaardig verklaar te word. My visioene van lang kronkelstrate en ingewikkelde woonbuurte word die eerste aand die nek ingeslaan, want al wat jy hoef te doen is om al langs die Lubljanica-rivier te loop (wat meer soos ‘n diep kanaal lyk) en jy sal verseker uitkom by die restaurante, kuierplekke, historiese geboue en die oudste gedeelte van die dorp.
Dis skemeraand as ek my eerste tree waag oppad na die rivier, die hartsnaar, van Ljubljana. Reg bo-op ‘n groot heuwel sit die Ljubljana kasteel en sy vensters glinster oranjerooi in die sonsondergang. Deur ‘n skewe straatjie stap ek aan soos beduie. Skielik voel ek onveilig en ontbloot, so asof ek nie hier hoort nie en my “gut feeling” is ook heeltemal reg, want binne die volgende twee blokke word daar twee maal opmerkings na my geskreeu, piepie ‘n dronk man amper op my voet en ry ‘n baldadige
takhaar met sy fiets liggies in my vas. Die geboue in hierdie agterbuurt is meestal vol graffitti gespuit en alles ruik na ou kos en galsterige olie. Ek is egter honger en voel ek moet die eerste aand die towerkern van die stadjie vind anders gaan dit die res van my verblyf hier verdof.
Oppad na die oudste gedeelte van die dorp is die straatjies vol restauranttafeltjies, kelners met swart voorskote en hier en daar nog ‘n oop winkeldeur. Ek sit vir ‘n rukkie by ‘n straatkafee met rooi geruite tafeldoeke om eers my “bearings” te kry en so deur ‘n slukkie of twee wyn vind ek die landmerke een vir een op my hotelkaart. Om my voete snuffel ‘n maer, pikswart hond en as die straatvioolspeler ‘n hoë noot vat tjank hy lustig saam. Albei klink ewe vals en ek besluit om aan te skuif na vroliker geselskap. Groot is my vreugde as ek later ‘n klein restaurantjie vind met groot ysterpotte vol aartappel-goulash en hoenderbredie. ‘n Wynglas is hier ook 150ml groot (weet nie wie die idee in die Hongare en Slovene se koppe geprent het nie) en as ek my tweede glas vra kyk die restauranteur my bekommerd aan. Min weet hy ek is ‘n meisie wat self my eie blikbekertjie Vaaljapie elke aand saam met die werkers op die plaas gedrink het. Jy kan maar se ek is ‘n produk van die dopstelsel, maar ek is nie lus om die inligting met hom te deel nie, en skuif maar later na die waterfront (langs die rivier) vir ‘n derde glasie 150ml.
Hier, langs die walle van die Ljubljanicarivier kook dit behoorlik. Die cafe/bars, restaurante en roomysstalletjies sit ingeryg soos blink krale en oral staan duisende tafeltjies met jongmense wat kuier, gesels en vir ure lank aan een “drink” drink. Plek-plek sit daar my ouderdom mense ook, maar almal is in pare of groepe en vir die tweede maal die aand voel ek uit my plek. ‘n Baie eienaardige gewaarwording, want ek reis al vir soveel jaar en is dikwels op my eie, maar iets aan die mooi tonele langs die rivier laat my verlang na geliefdes en wonder oor die wysheid van wegstap uit dit wat vir mens bekend is. Dis nie altyd lekker om jou jouself alleen, in vreemde plekke en situasies te verplaas en te midde van duisende mense eensaam te voel.
Gelukkig sit Dave, ‘n voornemende bruidegom van Londen, in die middel van die voetpaadjie in ‘n ballerinarokkie, wit visnetkouse met swart beenhare wat deurbars, ‘n kroon op die kop en engelvlerkies gereed om al wat verbyganger is te vermaak. Hy knoop met almal geselsies aan en vra dadelik sy vriend om ons af te neem. Hy trek nog ‘n stoel nader en ek en hy ruil wyshede oor die huwelik uit terwyl sy jong vriende ons van drinkgoed voorsien. Daar sit ek toe, middeljarige vrou van die suburbs, tussen 22 bachelor-partygangers en wys hulle dat dit moontlik is om nog steeds na 20 jaar ‘n wonderlike, individuele lewe te hê as ou getroude vrou.
Alleenreis het hobbels in die pad, eensaamaande en soms verdwaalde paaie, maar niks kom by die onverwagse vreugdes van vriendelike vreemdelinge en rivier-cafebars in die skemeraandlug.




