Skip to main content

Dit het my baie gewroeg en misverstande besorg voordat ek die hoogte- en laagtepunte van Kroatiese etiket ietwat onder die knie gekry het. Heel aan die beginjare van my besoeke was ek vas oortuig dat daar 'n geheime kode is vir inwoners van Hvareiland wat glad nie gedeel word met inkommers nie. Winkelure was een van my eerste frustrasies.

Hier is ‘n paar handige MOET-WEET inligtingsbrokkies vir die gas wat vir die eerste maal besoek aflê

OM TE GLIMLAG OF NIE

Winkelassistente, bakkerybedieners, kelners en burokrasie is dit eens dat mens nie glimlag as jy iemand bedien nie. Werk is ernstige sake.  Ek eenmaal vir ‘n kelner gevra hoekom hy so ernstig lyk en sy antwoord was kort en kragtig: Im working not here for smiling.

Vreemdelinge word met groot agterdog bejeen as hul te breed glimlag in die openbaar of selfs net ‘n plaaslike inwoner te luidrugtig groet. Wees dus stil en op jou plek.  Vra net die nodige en moenie aanstoot neem as jy ‘n stug kyk kry nie. Dis nie jy nie, dis hul werksgesigte.

Dis natuurlik ‘n heel ander saak as jy ‘n Kroat in die veiligheid van sy of haar eie huis besoek.  Die sterkste Witblits word jou in die hand gestop enige tyd van die dag of nag.  Die eetgoed word uitgebring en jy mag nie vertrek voordat jy van hul eie groente/ droë vye en wyn geproe het nie. Dis ook nie baie lank nie (gewoonlik na die derde sopie) en die manne begin sing acapella en slaan jou goedhartig tussen die blaaie.

KOFFIEDRINK HET MIN MET KOFFIE TE DOEN

Jy kan die kleinste koppie ekspresso bestel by ‘n cafebar en daaraan sit en teug vir drie ure terwyl jy heerlik skinder of politieke nuus uitruil met ander. Niemand sal jou wegjaag of daarop aandring dat jy nog iets bestel nie. Die cafebars bedien geen kos nie, so jy is welkom om ‘n croissant of bürek by die bakker te gaan koop en hier te eet saam met jou koffie.

KOFFIEBESTELLINGS

Gepraat van koffie…. Om die regte koppie koffie te kry is geen ligtelike taak nie.  Ekspresso is omtrent die enigste straight forward opsie. Cuppucinos kom in ‘n kleine koppies met net ‘n bol skuim en bitter sterk.  Koffie met warm melk verstaan die kelner as ekspresso met koue melk.  Waar is die melkbekers, hoe groot moet die koppie wees ens. Cafe Latte word white coffee genoem en in ‘n groot glasbeker bedien (maklik genoeg).  My Kroaties is ‘n paar keer ingespan met rampspoedige gevolge.  Die oplossing vir my is dus ‘n dubbel cuppucino in ‘n latte beker en ekstra warm melk apart.

Cafebars is egter anders en daar word niks van jou verwag nie. Dit beteken egter nie dat jy hul moet afskeep nie.  Baie van hierdie kelners werk tot 18 ure per dag in seisoen en ‘n blykie van waardering kan een dalk laat glimlag.

GRATIS INTERNET VIR DIE PUBLIEK

Alle besighede se rekenaars is direk verbind met hul weergawe van SARS (om seker te maak VAT word korrek verwerk).  Die nasie het ‘n ernstige aversie teen belastingbetalery, maar dis ‘n heel ander blog.  Jy kan vra vir die internet kode en inskakel, maar wag… dis by hierdie kode waar dinge soms skeefloop. Dit kan die Russiese Morse kode na Graad 1 skrifsessies laat lyk. Dit neem meestal twee of meer kelners om dit te help ontsyfer.   Die gesittery met ‘n koppie ekspresso kan voordelig wees vir digitale Nomads of sommer net middeljarige vroue wat huistoe verlang.

DIE KUNS OM BLOMME TE GEE OF NIE

Vir ons is dit normaal om op te daag by iemand se verjaardag of huis met blomme. Blomme sê base geluk, ek is lief vir jou of baie dankie in SA.

Daar is ‘n piepklein bloemistewinkel in Stari Grad en ek is ‘n baie gereelde, ongewone kliënt.  As ek instap is Marina besig met begrafnisgerwe of kranse (reuse grotes). Vir ‘n dorpie met net 2000+ inwoners dood daar besonder baie.

Ek is al persoon wat blomme koop vir my eetkamertafel en slaapkamerpotjies. Nou en dan trou iemand en dan lyk die rangskikkings kleiner, maar nog steeds baie formeel en meestal wit. Geen goed wat wip en spring nie.’n Paar jaar terug is my buurvrou baie siek en ek haas my na die blommewinkel.  Ek oorhandig later die blomme en  die volgende dag is sy oorlede.  Blomme vir siek mense is blykbaar baie bad luck.  Ek was nie seker of ek moet huil of skaamkry nie. Die verleentheid laat my nog steeds in nagsweet uitbars.

DRANK VOOR TIENUUR IN DIE OGGEND

Jy mag nooit nee se vir ‘n sopie al is dit ook net skuins na brekfis.  Hierdie drankie het gewoonlik 40% of meer alkohol in. Dis nie mooi maniere nie.  Kinders drink ook wyn aan tafel, maar verdun dit darem met water.

WINKELKASKENADES

As daardie tannie agter die kasregister begin slaan beter jy gereed wees vir sakke pak.  Bewaar jou siel as jy nie vooraf die aantal sakke neersit wat benodig gaan word vir jou ware nie. Sak in die hand koes en gryp jy vervaard om alles so vinnig as moontlik in te pak. Jy moet spoed en stamina hê. Skielik mis mens Pick ‘n Pay se sleepvoetpakkers.

Permanente inwoners kry voorkeur en word aangemoedig om voor jou in te druk by die till. Jy staan beteuterd rond met jou mandjie tot al die dorp se tannies en ooms geholpe is.  Soms tref jy dit gelukkig om een te uitoorlê met spoed, maar die gesug en arms swaai agter jou rug  is werklik nie die moeite werd nie.  Jy word vir dae daarna nog aangegluur omdat jy drie items wou betaal en die man agter jou in die ry net een bier! Sonder kleingeld en te groot note kan nog verdere vuil kyke veroorsaak. Bewaar jou siel as jy ‘n hand vol kleingeld onder die assistent se neus hou dat sy self kies. Die ander kliënte se vermoede word bevestig dat jy ‘n vreemdeling is.  Kruideniersware  aankope is soos ‘n wedstryd. Jy moet sielkundig en fisies fiks wees en dan kan die uitslag nog steeds teleurstellend wees.

VERTALINGS VIR DIE VOËLS

Die eiland is 80% afhanklik van toerisme en vanaf Junie tot Oktober wemel die dorpie van kuiergaste.  Die toerismeburo van elke dorp doen baie moeite om gratis konserte en uitstallings te hou, maar o wee, niemand dink daaraan om die somerprogram in Engels te vertaal nie. Jy as toeris ontdek dus vermaak per ongeluk of deur groot skares agterna te sit. Daar word al vir meer as 50 jaar ‘n internasionale langafstand swemmarathon gehou, maar selfs hier word die prysuitdeling in Kroaties gedoen.

SIEKTES SKUIL IN ONGEWONE PLEKKE

Klein kindertjies dra dwarsdeur alle seisoene skoene. Dit vermy ernstige siektes en sou jy dalk nalaat om die skoeisel aan te trek sal vele tannies jou vermaan met vingerwysings na die kale voete. Dit is ook doodsgevaarlik om in ‘n vertrek te sit waar ‘n venster en ‘n deur gelyktydig oopstaan.  Die slegte trek kan tot allerlei noodgevalle lei.  Ekself sit nou al 16 jaar in sulke trekke en is nog perdfris. Ek neem dus aan dis net die fynbesnaarde Kroatiese konstitusie wat nie vars briesies kan hanteer nie.

Gepraat van winde:  Die winde het elk ‘n naam en die gevreesde Bura kan tot geestelike onstabiliteit of selfs selfmoord lei. Alles natuurlik gerugte, maar niemand waag ‘n kans op ons dorpie nie.  Hulle bly binnenshuis en skuil teen enige onnodige trekke, winde of gerugte van winde.

VLOEIBARE KERKTYE

Kerktoe gaan beteken nie noodwendig jy moet binne in die kerk wees nie.  Die klokke beier al van Sondagoggende sesuur af om te nooi, maar die oorgrote meerderheid van kerkgangers dwaal in en uit die kerkgebou en staan buite en gesels of rook terwyl die priester binne wierook swaai, kruise maak en gebede opsê. Hier is jy in die kerk as jy net naby genoeg aan die deur staan. Die mans is nie baie lief vir kerk nie, maar as dit jou saint se naamdag is, is al wat man is voor in die optog deur die dorp met neergeslane oë en buitengewone ootmoed.

Daar is nog ‘n hele doolhof van gebruike en rituele, maar meeste vind gelukkig buite seisoen plaas so gaste word heelwat verdwaasdheid gespaar.

Leave a Reply