Skip to main content

Van die mees outentieke en unieke wynkelders is gestrooi oor die eiland en om by elkeen ‘n draai te maak is ‘n pure plesier wat ‘n goeie lewer en nugter drywer ‘n noodsaaklikheid maak.

‘n Baie dapper navorser van hierdie onderwerp, genaamd Paul Bradbury, het al hieroor geblog en sover oorleef.  Lees gerus www.total-hvar.com.  Ek gaan nie sy harde werk oordoen nie en my bepaal by die drinkgedeelte – sonder ‘n drywer.

Al die restaurante bedien formele gebottelde wyne van die eiland, maar die huiswyn is die opsie as jy van die local tuisgemaakte wyne wil proe.  Crno vino (rooiwyn) en bjelo vino (witwyn) word per glas of kraffies voorgesit. Wees egter gewaarsku: party van hierdie huiskonkoksies kan verf strip of soms verdun met water. Dis ‘n goeie idee om eers ‘n proeglasie te vra voor jy ‘n kraffie “asyn” op die lyf loop.

Meeste van die kelners het ‘n vreeslike swaar hand en hul proeglasie is sommer  ‘n propvol rooiwynglas. Dis ‘n skrille teenstelling met Zagreb se wynaanbiedinge wat 100ml bring as jy ‘n glas wyn bestel. As my glas so vol is bestel ek maar ‘n tweede glas om darem nie te lyk of ek verniet wil drink nie.

Hier op die eiland ontdek jy die heerlikste verrassingswyne soms in ‘n stowwerige konoba (kelderverdieping), uit  my buurman se reuse houtvat op die stoep of in ‘n wynwinkeltjie waar jy opdaag met jou 2l Coke bottel en wag vir die rooipers straaltjie om die bottel te vul. So met die wag vertel die eienaar vir jou van die varieteit en sy probleme tydens die laaste oes. Jy mag ook solank proe aan al die ander wyne wat jy nie koop nie.

Dis egter by die privaathuise waar vino, Prosek en witblits Travaritsa op ‘n stuk karton, in ‘n bewerige handskrif geskryf is, waar mens inglip. Hier maak omies met knobbellitte hul eie drank.  Die roesemoes van drankbottels  word op die kombuistafel uitgestal en jy kry ‘n lekseltjie van elke soort uit ‘n gechipte shotglasie. Jy besluit op die minder gevaarlike soort en kry ‘n klein halfjack persent.  Met die uitstapslag sien jy aartappels en uie in ‘n enamalskotteltjie, met die grond nog aan dit, want dis daardie oggend uitgehaal. Jy koop van dit, want jy weet die geld wat jy spandeer vul weer ‘n ander gaatjie.

As eerste besoeker kan die name en soorte wyn mens oorweldig, want dit klink nie naasteby bekend nie. Posip, Bogdanusa en Plavac Mali is ‘n paar wat aan te beveel is as jy die gebottelde roete gaan

Die wynkelders:

Tomic Wynkelder – In Jelsa het ‘n pragtige ondergrondse proelokaal en hulle bedien ook plaaslike lekkernye as jy bespreek. Andro Tomic lyk soos ‘n Hans die Skipper en daar hang ‘n foto van hom waar hy kaal in ‘n wynvat sit met ‘n ‘n tros druiwe.

Vino Caric – In Vrboska het ook ‘n proelokaal en restaurant en dit is my persoonlike gunsteling-wyne.

Zlatan Otok – Ry deur ‘n grondtonnel na die ander kant van die eiland en hier sit die proelokaal en restaurant op ‘n mini-eiland.  Die  unieke proelokaal is onder die see en die visgeregte uit die boonste rakke.

My buurvrou Natascha (paar jaar terug tragies oorlede – bless her soul) het die heel lekkerste Prosek gemaak.  Dit is ‘n soet wyn van rosyne en jy proe die sonskyn in die die rosyne en die alkoholvlak brand jou keel. ‘n Paar te-vinnige-slukkies laat jou oopmond lag vir jou eie grappies. Net uitgelese gaste het hiervan gekry en ek moes mooi broodjies bak voor ek ‘n botteltjie kon bekom. Ek kon nog nooit weer haar eie huisprosek se smaak êrens anders vind nie.

As selfaangestelde ambassadeur van Kroatiese Prosek word elke nuwe SA gas verwelkom met ‘n glas vol ys, prosek en ‘n suurlemoenskyfie. Nog ‘n skelmstreek om besoekers ewige trou te laat sweer aan Stari Grad is die Vino omie by die seiljagte se winkeltjie. So teen sononder suiker mens al met die riva langs tot daar en op ‘n houtbankie voor sy deur drink jy die soetste rosyntjievreugde.

 Die soet alkohol kielie tot in jou keel en soos ‘n warm gloed sak die vakansiegevoel oop jou neer.  Jy staar na die oranjerooi songloed en kyk hoe die seljagbewoners wasgoed was en hul eie versnaperings geniet. ‘n Hele paar koop wyn by hom en ons oortuig hulle altyd om ook die prosek te proe.

Leave a Reply