Istanbul is 'n stad wat wydsbeen staan op twee kontinente nl Europa en Asie. Die kleure en geure van hierdie eksotiese plek oorrompel jou en jy vergeet haar voetspore op jou hart nie sommer gou nie.
My liefde vir Istanbul strek oor dertig jaar. Elke jaar maak ek seker ek sluit ‘n deel van die stad in waar ek nog nie voorheen was nie.
Hierdie keer is my verblyf skuins onderkant die Galatatoring en as die taxibestuurder middernag deur die straatjies verdwaal begin ek die besluit te betwyfel. In die voorportaal van Guesthouse Galata sit die ontvangsklerk en sy Arabiervriend al klaar met koppies whiskey. Eerstens is dit Ramadan en hulle is nie veronderstel om ooit te drink nie, maar ek vra nie vrae nie. Dis ‘n ruim woonstel met ‘n kombuis, sitkamer en ‘n kamer met oorgenoeg pakplek vir die totale prys van R300 per nag (2019).
Die volgende oggend slaan die donderweer my wakker en ‘n storm der storms bars los. Dis ‘n heuwelagtige deel van die stad en water loop soos kanale. Selfs dele van die gange is oorstroom, maar my kamer lekker knus so ek kla niks nie. Ontbyt is olywe, tamaties, fetakaas, brood en gekookte eiers. Die stofsuier werk tussenin om al die water op te suig.
Voorheen het ek altyd in Sultanahmet of die moderne deel van Taksim gebly, maar die deel wees van alledaagse dilemmas laat my sommer tuis voel.
Karaköy, Galata en alles tussenin
Steil en ek bedoel steil bulte is deel van die woonbuurt en oppad na die Galatatoring ontdek ek motoronderdelewinkels, werkswinkels, beligtingwinkels – van disko tot kandelare. My kopie is lang toue met halogeenlampe aan die een end.
In die klipstraatjie naby Galatatoring vind ek die mooiste bakkery met die singende naam Sirin Firin. Langs my sit ‘n moderne Turkse couple. Die een het krullelokke en teug diep aan haar sigaret. Haar man het ‘n Pink Floyd tshirt, vuil vingernaels en deurwinterde charisma
Net verby die toring is volop toeristesnuisterye, maar ook handige handdoeke (katoen soos in hammams gebruik word), teen baie billike pryse. Ek koop ook vir my musikale seun ‘n sitar, shakers en ‘n tamboeryn en kry op die koop toe ekstra snare en ‘n klein mikrofoon wat aan die kas van ‘n kitaar vasgesit kan word. In hierdie area is winkels wat dieselfde ware verkoop gegroepeer by mekaar. Istikhlalstraat is baie naby en hier is al die moderne winkels op mekaar gestapel. ‘n Outydse trem ry op en af in die straat, maar voete werk net so goed. Geen stad word ooit verlaat sonder nuwe oorbelle nie en my soektog hou so laat aan dat ek na nege die aand nog turkse koffie drink in ‘n hubbly bubbly winkel.
Verwaarloosde babahondjies, bruidsware en cheap skoene
Hoewel ek al talle male die Egyptian Spice Bazaar naby die nuwe moskee besoek het, het ek nog nooit die doolhof gangetjies agter en langsaan verken nie. Dit is egter belangrik om nie die Spice Bazaar mis te loop nie. Hier word al honderde jare met speserye, droë vrugte, gegeurde tees, Turkse lekkers tot seewiere handel gedryf. Dis propvol fotogeleenthede en proesessies.
Die onderdak-stegie net langsaan is gepak met alles wat ‘n troeteldier-eienaar mag benodig. Hondeleibande, muilbande, hondekos, marmotte, eksotiese vissies en slaperige wolhaarhondjies. Die verskeidenheid voëlhokke is duiseligwekkend en dit vertel dat Turke definitief graag voëls aanhou. Op die sypaadjie is een winkeleienaar besig om 37 baba-eendjies uit te tel vir ‘n koper.
Agter die Spice Bazaar is Uzumcarsi Caddessistraat en hier is ‘n ontploffing van frille, nylontrourokke, sykouse en ander troufieterjasies.
Mandjies is oorgetrek met rooi satyn, plastiekrosies en plastiektrouruikers hang in lae. Uit die dakke hang blommemeisie-rokkies met strikke en frille en hier en daar is selfs ‘n sultanpak vir ‘n page boy. Die materiaalwinkels, in teenstelling met die cheap trouversierings, het net die heel mooiste materiale vir aand- en moeder-van-die-bruidsrokke. Dit is egter maar skaars en net langsaan peul weer plastiekskoene en vals wimpers by die rakke uit. Die een modegier wat my laat twee maal kyk is wit sneakers met blinkertjies, kant en platformsole – blykbaar ook vir bruide.
By ‘n kantwinkel doen ‘n statige paar, in tradisionele Nigeriese kentiklere, aankope vir ‘n nuwe bruid. Dit is meters vol spierwit kant, geborduurde tafeldoeke en ragfyn sy.
Istiyne Park Mall en omgewing
Sowat 20 minute se ry van Taksim Square af betree jy die woonbuurte van die moderne Turk en Expats. My familielid is tans op ‘n kontrak van 3 jaar in Istanbul en bly net agter een van die grootste winkelsentrums – Istiyne Park Mall. Hierdie buurt en sentrum kon net sowel in Midstream gewees het. Op die dak parkering staan Lamborghinis en Porches ingeryg en die vroue wat inklim sleep die ontwerpersbagasie agterna. Die mees bekende ontwerpers asook internasionale afdelingswinkels staan in gelid en as jy ‘n blaaskans wil neem is Café Nero net die plek, want Starbucks is oorvol.
My kuier by die familie is ‘n heerlike bederf met franse wyne en sushi uit ‘n Japanese restaurant. Laatmiddag kom sny tuindienste gou die gras – net soos by die huis.
Kadiköy – Die Asiatiese gedeelte
Istanbul staan wydsbeen oor Europa en Asië. Ons neem ‘n boot van Karaköy om hierdie deelte te gaan verken. Vrydae is tradisioneel markdag en ons tref straattafels, sypaadjie-uitstallings vol kleur en geur. Strate le ook hier effens teen die skuinste op met antieke winkels, nagemaakte Doc Maarten-skoene en gedroogde vye met dadels in. My aankope is ‘n piepklein metaalpannetjie vir Turkse roereiers en ‘n koperbeker met ‘n lang handvatsel vir Turkse koffie brou.
In ‘n straat met ‘n kleurvolle sambreeldak en parafienblikstoele sit die manne ernstig gewikkel in ‘n backgammon kompetisie. Hulle speel vir geld en geur van koffie, tabak en testosteroon bedwelm jou sintuie.
Laer af in die straat is rye vistoonbanke, groente en vrugtemarkies en een spesialiseer is verskilllende olywe en dolmades. Ek ontdek die lekkerste granaatsap reduction en koop summier 3 botteltjies vir huistoe neem.
By die sjokoladewinkels draai ek kwylend rond, maar neef is baie gesondheidsbewus en ek koop net vyf stukkies marsipan.
Die beste van hierdie kant van die dorp is dat alles omtrent 30% goedkoper is as aan die Europese kant. Wat is dan nou lekkerder as om te se: “ek pop net gou oor Asië toe vir inkopies.
‘n Instagram Oomblik – Balat
Balat is woonbuurt waar die Armeniërs hul jare gelede gevestig het en voorheen was dit ‘n plek van twyfelagtige aktiwiteite. Vandag is dit egter een van Istanbul se heel mooiste dele met reënboogkleur geboue, baldadige sambreel afdakke en trappe wat kleurvol geverf is en vol Instagrammers pose vir die perfekte foto.
Ons foto-oomblik is voor ‘n roosboogdeur en as ons bult-op stap staan vyf politiemanne soos ‘n stillewe voor ‘n reuse swart en wit graffittimuur.’n Bruid, bruidegom en ‘n fotograaf kom in ‘n straat, vol roomyskleur koffiewinkels, afgestap en ons drink cuppucinos op ‘n piepklein stoepie. Die sanetizer ruik na suurlemoen en ons koop elk ‘n bottel oorkant die straat by ‘n algemene handelaar.
Naby die St Stephens Ortodokse Christen kerk loop ons ‘n moderne groep vroue van Libië raak en pose sommer saam vir ‘n foto. Elke hoek en draai het fotogeleenthede en hierdie woonbuurt is definitief enige fotograaf se droom.
Eminüno se huisware-mekka
So breek my laaste kuierdag aan en ek moet ‘n paar ure vol maak. Ek vat weer die pad in die rigting van die Spice Bazaar en ontdek die gedeelte regs van die ingang, meer in die rigting van die Galatabrug.
By ‘n vorige geleentheid het ons die huiswarewinkels net deur die taxi se venster gesien en hierdie keer maak ek seker dit glip nie weer verby nie.
Ek los my groot tas by ‘n koffiewinkel en die eienaar knip nie ‘n oog om dit te ontvang nie – ten spyte van vele tereuraanvalle en bomontploffings.
Hierdie straatjie is enige gemiddelde Turkse huisvrou se droom. Enamelpotte, ysterstowe, teestomers, braaidromme en bamboeshoutplanke hang uit dakke, en pak sypaadjies toe. Ek vergaap my behoorlik aan die oorgrootte koper teestomers en potte met kolelaaie, stoompotte en stookketels. Geen fancy muzak en verkoopsdametjies wat op spykerhakke verveeld rondstaan nie. Hier is verkoop ernstige werk, want die verkoopsman is ook die eienaar en dikwels die ook vervaardiger.
Elke winkeleienaar is altyd bereid om te onderhandel vir ‘n goeie prys en wat jy ookal koop word mooi toegedraai in bubble wrap en met ‘n tevrede glimlag oorhandig. Jy en hy gaan as vriende uit mekaar.
Van my vele hoogtepunte ten opsigte van eet en drink:
- Hafiz Mustafa – tee en koekwinkel nie ver van die Blou Moskee nie
- 360º Restaurant in Sultanahmet – heel mooiste uitsig, maar moet vroegdag bespreek.
- Cemberlitas Hamami – een van die heel oudste washuise in Istanbul. Gaan geniet ‘n namiddag daar en laat skrop jou skoon.
- Egiptiese Speserybasaar vir tee, versuikerde vrugte en die heel kleurvolste lekkergoed
- Sirin Firin koffiewinkel en bakkery naby Galatatoring.
- Grand Bazaar – hier moet jy bargain vir alles.
- LW Turkse handdoeke baie duurder in die groot basaar – koop liewer in Galata by een van vele winkeltjes.
- Arasta Bazaar – saans speel ‘n Turkse orkes en die dansende Dervishes tol al in die rondte.
- Istikhlalstraat – vir alle moderne klere, skoene en juwele.




