Skip to main content

Hvareiland is besaai met wegkruipstrandjies en lieflike baaie vir swem, sonbrand of sommer net slaap onder die sonsambreel.

So sit die drie susters, seun en niggie  ook af Zarace strand toe vir ‘n dag van speel en plesier in die son.  Dis die mooiste perdeskoenbaai met drie huise en twee restaurante vir seekos, pizza en Ozucsko Limun.

Die susters het nie een ‘n lyf om eens in ‘n palazzobroek te verskyn nie, maar Hvar is ver van Suid-Afrika en almal wil ‘n bietjie swem. Eers vind een haar swembroek vol vismotgate en daar moes inderhaas ‘n nuwe een gekoop word. Nommer twee weier om haar bene te vertoon en trek ‘n fietsrybroek onder die swembroek aan. Sweet tap haar af – kon net sowel ‘n duikpak gedra het, maar nee ydelheid is ‘n lelike ding. Wel ek, nommer drie, trek toe myne ook aan en vind dat die klein dun goue lyntjies nou skielik  groot breë  voetoorgange geraak het met al die gerek en optrekkery oor die bulte.

 

Ons koop twee strandsambrele, maar die sukkel om al drie te “oorskadu” dus draai jy maar soos ‘n spithoender in die rondte sodat elke boud ‘n paar minute uit die son kan kom. Die view oor die baaitjie is asemrowend. Bootjies dobber op die deurskynende water en kinders baljaar in die heerlike louwarm water. Ons familie het ‘n plekkie gevind om uit te span en fietse niggie en seun draf ligvoets die see in.

Die son is so warm dat ons susters die oseaan moet nader vir ‘n lafenis. Probleem nommer een: daar is geweldig baie klippe op hierdie strand en oseaanbodem en om sommer net ligvoets in te dartel is glad nie moontlik nie. Probleem nommer twee: As jy die water slaan begin die ligte brandertjies jou wieg en net daar verloor jy balans. Ousus plons met ‘n slag in en dit kos ‘n jeugdige reddingspan om haar drywende plakkies te gaan red. Ek sit en lag natuurlik baie hartlik op die strand. Hoe moeilik kan dit dan nou wees om in die water in te stap met grasie? Wel na nog 10 minute van vasbyt in die versengende hitte stap ek ook maar seewaarts. Kinders en susters juig so dat die res van die strand opkyk en my vordering nou stip dophou. Het jy al ‘n paar kort drilbene probeer lank en slank hou in ‘n te klein swembroeK?

Eerste skerp klip steek my voet en daar val ek ook karplaks in die vlak watertjies. Lê soos ‘n gestrande walvis daar en maak toe maar of ek in elk geval net bietjie in vlakkigheid wou sit. Ousus het intussen besluit sy het nou genoeg gebaai en wil graag opstaan en uitklim, maar nee… dinge loop ook hier skeef. Elke opstaan veroorsaak dat Newton se wet van swaartekrag oorwin en dan val sy maar weer terug in die water. Hoe meer ons en sy natuurlik lag, hoe moeiliker raak die oefening. Haar laaste (en suksesvolle) poging is ‘n handeviervoet-kruip tot by die handdoeke.Net om ook die twee strandsambrele met een trefslag om te val.
Intussen probeer seun vir my leer snorkel. Nou laat ek nou net eers verduidelik: Ek steek nie eens graag my kop onder die water as ek stort nie. Was-was-was so met die sjampoe en spoel dan blitsig af. So snorkel? Duikbril oor die oge & neus en skielik is alles toegewasem. Lig die bril vir asem (het vergeet van die mond) en probeer weer. Ek kan niks sien nie. Vrouens wat so warmkry in hul oorgangsjare behoort glad nie te duik nie.

Dit is die eerste keer in sy hele 17jarige lewe dat sy ma saam met hom swem en hy is vas oortuig dat hy my gaan touwys maak in die fynere kunsies van op-die-bodem-loer. Nou probeer hy ook die mondstuk, maar huh-uh dit sal nie werk nie. Kop onderwater, asemhaal en kyk – nee daardie drie goed kan glad nie saam gebeur nie. Hy is later so moedeloos met my en skreeu: “Ma jy is die ongemaklikste mens wat ek ken!” Kan jy nou meer en al die tyd dink ek, cooler as ekke is daar nie…

Ek plas maar nog so ‘n bietjie in die voorste vlaktes rond en klim uit om my wonde te gaan lek. Al drie susters is gelyk “depressed” oor die toestand van hul lywe, onvermoë om nog soos in die jongdae goedkeurende kyke te kry en ergste van alles oor die feit dat ons nie meer ons kinders se heldinne is na dese nie. Sit nog so ‘n rukkie swetend onder die blerrie flimsy sambrele en gaan eet toe maar elkeen ‘n pizza by die strandrestaurant. 

Leave a Reply