Gedroogde gras en palmtakke beland op my kompashoop. Hoe dit nou by troutafels geland het is vir my 'n misterie.
Ek weet nie wie eerste dooie blare afgepluk het en dit in trourangskikkings begin prop nie. Ons is nog nie eens behoorlik oor die woestynrosiefase nie en nou dit.
Geel grasspriete en vaal pluime het oral begin underwhelm. Hier en daar beur ‘n pienk roos of antherium moedig uit, maar die res is vaal, droog en vol stof. Vir hierdie look kan hul gerus waterbotteltjies verruil vir Ventolin pompies. Iemand gaan voor die einde van die aand ‘n ernstige asma-aanval hê.
Die tendens kom al jaar of vier aan, maar is in Covidtyd weer met mening tussen die stof uitgegrawe. Ek het êrens ‘n diep verduidelik gelees van herwinning, eenvoud en volhoubaarheid. Net een probleempie: Die geld vloei en die bloemis wat die hoofpaaie se verniet vrekgoed plunder vra meer as ooit vir die installasies. Geen geld is herwin nie en hooikoorspille is duur.
Nee a bruide! Waar is jou eie stempel en persoonlikheid op die troue? Jy woon nie in die Arizonawoestyn of Namib nie. Hier is volop blomme in Suid-Afrika. Selfs jou ma se tuin het genoeg groenigheid om dinge mee op te vrolik. Jou Instagramblad is vol blomrokke en helder straatkuns, maar jy laat jou ompraat, want die laaste vier troues waar jy was het die pluime fyn gras gesif oor al die gaste en die droë varings verlep gehang uit die dak. By ‘n troue of twee is selfs spuitkannetjies uitgehaal en gras in kleure geverf. Hoekom o hoekom!
Wil jy regtig vir die volgende 25 jaar daardie pampasgrasrangskikking afstof in die sitkamer se hoek? Hoekom sit niemand hierdie droë plantgeraamtes op grafte nie? Ons is ‘n land met oorvloedige blomme en verskillende teksture, kleure en geure struike en takke. Kleur jul dag in en maak dit vrolik en stylvol.
En nou iets oor ander troufieterjasies:
Vergeet asb van houtkissies vir die ringe. Bêre dit liewer vir jou geliefde hond se as.
Het jou troue ‘n Japanese tema? Indien nie: spaar jouself die vouwerk van honderde origami voëltjies of skoenlappers.
Aanwysingsborde op gesplinterde hout is ook onnodig. Daar is net een troue by jou venue op daardie datum en tyd. Almal sal die sitplekke, die kroeg, die kos en dansvloer vinnig vind.
Die Sjinese waaiertjies: Sien my mening oor origami.
Blink strooimeisierokke is net gepas by ‘n 70’s diskotema. Gepraat van strooimeisies. Kies asb ‘n styl wat vir elkeen individueel sal pas en laat mooi lyk, tensy jou bruidegom se ex ook deel van die gevolg is. Hierdie toedraairokke is baie veelsydig, maar meisies met arms en rolletjies lyk soos deeg wat te veel gerys het. As jy regtig bang is een van hulle “outshine” jou op die dag beveel ek aan dat jy jou lelikste vriendinne kies.
En wat is dit met hangende daktuine van Babel? Druppende eksotiese blomme uit Indonesië en Bali is totaal onnodig. Meeste van hierdie blomme moet die volgende dag weg gegooi word en duisende rande beland op die ashoop.
Spandeer liewer jou geld op mooi beligting met interessante lampskerms, kandelare, kerke en feetjieligte. Dit maak ‘n magiese prentjie in die aand. O ja, as jou lus nog nie oor is vir die oerwoud nie; hang tog maar groen blare tussenin.
Mans se uitrustings:
Maak seker jou bruidegom en strooijonkers lyk nie soos ‘n boere fancy dress terwyl jy in die formeelste rok van jou lewe die paadjie afstap nie. ‘n Pak is die minimum vereiste vir die geleentheid. Los net asb die dasse gemaak van die strooimeisies se rokmateriaal. Dis nie ‘n skoolkonsert nie. Dit geld ook vir die pa’s! Ek het nounog angsaanvalle as ek onthou van die troue waar die pa die dogter (met die R42 000 rok) die kerk ingebring het met ‘n oopnek-kortmou hemp, hangbroekgat jean en sy vellies.
Maak gebruik van ‘n troukoordineeerder en ‘n goeie bloemiss. Dit kos meer, maar glo my jy wil nie die hele familie op die troudag laat rondhardloop nie. Kissies botteltjies, emmers vol blomme en aanwysings soek oor hoe die oase nou eintlik aan die houtboog vasgesit moet word is stresvol en onnodig.
Trouspyskaarte
Die gevreesde buffet:
Die gaste is nou al lankal weg van die huis en bestorm die tafel soos beeste deur ‘n drukgang. Die kos is vir ure warm gehou in die kombuis en die groen broccoli is nou bruin, die gebraaide aardappels kliphard en nie eens die bruinsous kan die skywe skaapboud red nie.
Die jackpot is ‘n aansitete waar kelners elke gas bedien. As dit te duur is probeer opskepbakke vol kos wat of die tafels geplaas word vir self skep. Laasgenoemde skep ‘n huislike en gemoedelike atmosfeer.
Dekor:
Hou by ‘n tema, maar moenie dit oordoen nie. Dis heel waarskynlik een van die duurste funksies wat jy en jou splinternuwe man gaan aanbied. Hou dit eenvoudig, classy en prakties. “Less is really more” en ‘n klassieke tydlose styl laat mens nie jare later jou troualbums wegsteek nie. Individualiteit is wie julle as egpaar is – nie elke liewe idee wat oulik lyk op Pinterest nie.




