Skip to main content

Om Nederland te besoek is soos om jou oumagrootjie se voorlesing uit die Hoog-Hollandsche Bijbel weer te hoor. Die tongval van ons voorvaders spring op in stegies vol daggakoppe, op trems wiegend met gryskoptantes en selfs in verwagte plekke soos die Van Goghmuseum. Die taal klink komies formeel, maar tog halfbekend.

Ons is ingeboek op ‘n boothuis op Kromme Waal, ‘n doodloopkanaal, skaars 200 meter van Amsterdam se treinstasie, regoor ‘n baie fancy vyfster hotel en ‘n klipgooi van ‘n baie kreatiewe kondoom en vibratorwinkel. Met steil houttrappe tuimel ons tasse en al af tot op ‘n piepklein bootstoepie terwyl Mirko, ons huisbaas, die deurtjie oopswaai om ‘n perfek ingerigte drieslaapplek boot te wys. Mirko en sy familie bly aan die een kant van die boothuis en ons aan die anderkant. Laatmiddag vang Mirko en sy seuntjie vis van hul stoep af terwyl ons die eende voer wat gulsig oormekaar val vir ‘n krummel of twee.

 Oor kobbelstene stap ons skemeraand deur die nou straatjies op soek na Amsterdam – die Amsterdam van reisboeke en die Travel Channel, maar deur ons oe ontvou die stad sy eie quirks en storie – in her own time. ‘n Muur is gegrafitti met: “Heb je een hond, ruim te stront”. In ‘n skemer negosiewinkel verkoop ‘n chinees daggastokkielekkers en sambrele met geslagsdele op. Op Damplein, oorkant De Bijenkorf winkel staan drie gedoekde vroue en wag vir ‘n lift?

 ‘n Wulpse koei nooi jou by ‘n kaaswinkel in en by ‘n ander winkel wei die koeie teen die dak terwyl “erg leuk” snuisterye op rye paradeer – kaassnyers, nagemaakte tulpskerpmakers en pornografiese pasta is alles te koop. Oral op die lamppale is bordjies wat waarsku:  zakkenrollers winkelen ook” – aldus houvas jou handsak!  ‘n Klein straatkroeg verkoop bier by die liters en om net na die huiswaartskerende hordes te kyk en te hoor hoe Hollands op jou oor plof bring opwinding vir toekomstige dae van nuwighede. Laatnag wieg die waterkabbels my na ‘n droomland met  koeie wat wei in die dak, muise wat potloodskerpmakers jaag; ganse wat kondoomkeppies dra en honde wat kopdoekvroue jaag.

Dag 2 begin met die uittoets van die toaster, hollandse kaas en groot skywe bloedrooi tamaties. Die koffieperkuleerder werk baie goed en vol kaffeien pak ons die dag uitgesit vir “winkelen” en rondloop aan. Skaars geroer toe trek die reuk van varsgebakte wafels ons by die eerste bakkery in. Van agter ‘n glastoonbank wink rye wafels gelaai met room, vla, vars vrugte, sjokolade en stroop ons nader en skoon vergete is die vroeere ontbyt. My wafel is pas gebak en stoomwarm, bedruip met wit en bruin gesmelte sjokolade, besprinkel met neute en mooi afgerond met roomklonte wat cholestrol in hoofletters uitroep.

Kalver-, PC Hoofstraat en Utrechtstraat asook die trendy Haarlemmerstraat is ingeryg met winkels, straatkafees en ‘n oorverdowende voeteval. Van tweedehandse kant tot die nuutste modegiere word vertoon en om net te kyk is genoeg om die kooplus klaar op hok te slaan. Francois kry ‘n sweetpakbaadjie met HOLLAND op en ek ‘n mooi grys driekwart rok met netterige kant en borduursel onderom die soom. Op openbare(nde) straathoeke staan manstoilette in die eienaardigste vorm en praktikaliteit. Dit lyk soos bouershutte sonder dakke wat in die mikrogolf gekrimp het. Dit is toegerus met nou gate vir masochistiese waterafslaanaksies. Only in Amsterdam! In die namiddag besoek ons die Sweedse winkel, Ikea, wat dwarsoor Europa en VSA al menige beginnershuis opgekikker het met die nodige.  My twee susters is glad nie bekend met die fenomeen nie en koop na hartelus gehekelde serphouers; waterdigte toiletsakke en ‘n kajuittas wat opvou so groot soos ‘n aktetas.

Anne Frank se huis is meubelloos, mistroostig en “depressing” en ‘n boottrip deur die doolhof kanale sit die dag in ‘n vroliker bui. Oral is klein aanmekaar-gelasde regophuisies met ‘n groot haak bo by die geuwel.  Die toergids vertel dat jy vroeer jare belasting betaal het op die breedte van jou huis aan straatkant  en daarom die dun vooraansigte, maar dat dit base dieper agtertoe gaan en glad nie so klein is as wat dit lyk.  Die hake op die nok word gebruik om meubels op te hys na die boonste verdiepings en daarom is die vensters ook ruim vir deurgee en aangee!

Skemeraand besoek ons The Grasshopper Restaurant wat  op die kelderverdieping ‘n delikatessen bedryf met alternatiewe lekkernye.  Chocolate brownies met bietjie dagga; muffins met ‘n knertsie dagga en selfs roomys met ‘n stopseltjie dagga.  Ons hou veilig by ‘n glasie bier elk en probeer om nie van die geure alleen hoenderkop te raak nie. Aandete is ‘n reis op die trem na Rozengracht, sowat 15 minute se uitasemstap van Leidseplein, om by Moeders te gaan eet.  Hul webwerf verkondig die volgende: “Moeders heeft een prijs gewonnen eind 2009! Time Out Magazine riep Moeders uit tot “the best Dutch restaurant” in Amsterdam!! Daar zijn wij natuurlijk supertrots op!!!”
Hollandse huisdisse soos gehaakte balle, runderhaas en ‘n Hollandze Rijsttafel word bedien.  Elke gaatjie op die mure is bedek met fotobeelde van ma’s en oumas wat al hier geeet het. Geen mes, vurk, glas of stoel pas bymekaar nie. Die voorwoord van die spyskaart vertel dat elke gas wat na die openingsaand genooi is, iets moes saambring vir die restaurant. Die egtheid en warmte van hierdie onpaar dekor omhels jou warm, sodat jy langer luier as nodig en laatnag amper die laaste trem boot toe verpas.

Voorschoten

My suster is met ‘n Hollander  getroud en op dag 4 besoek ons die dorpie Voorschoten, sowat 30  minute per trein van Amsterdam. Eerste soektog is na die kerk waar Robbie gedoop is en ook die straat waar hulle gewoon het voor hul SA dae. Deur ‘n digbebosde parkie oppad na die kerk ontwikkel oudste sus ‘n nood – na drie kindergeboortes is die knyp nie meer so goed. Sy sit net lekker agter ‘n bossie toe ‘n  diep Hollandse vrouestem na ons roep. Praat nou van jou water wegskrik. Nadat ons eers oor die kole gehaal is vir “trespassing of private property” en “foreigner” gepleit het, word ons vir tee en koekies genooi. Tante Miep wys vir ons ‘n boek met die geskiedenis van Voorschoten wat vertel dat daar ‘n groot weeshuis bestaan het en baie van die oorlogswesies daar versorg is. Terwyl Miep teemaak blaai Rika daardeur en sien dan die seuntjie met twee duifies in elke hand. Geskok wys sy die opskrif “Zelf opgefokt” vir ons en beduie dat die duifies dan muis so gehawend lyk! Na ‘n histeriese lagbui verstaan ons dat opgefokt eintlik geteel of uitgebroei beteken. Nouja…. vir die res van die vakansie het ons saans na weer voete of ander skete verwys as “zelf opgefokt”.

Miep is ‘n persoonlike vriendin van Robbie se doopkerk-priester en hy neem ons op ‘n toer deur die kerk en deur die kerkhof langsaan. Die kringetjie kindergraffies laat ons lank stilstaan en wonder oor lewens wat nooit was. Talle name op die grafte word herken as eg Suid-Afrikaanse vanne – voorvaders van die vreemde. Ons maak ook ‘n draai in die straat waar hy as kind gewoon het en neem foto’s vir die familie.

By die treinstasie is ‘n  groot Schwartzkopf advertentie, luukse krullen zonder pluis. Met ‘n kop wat graag in die misreen kroes is dit presies wat benodig word.

Keukenhof

Oppad na Keukenhof is tulplanderye met malse kleureprag.  As ons stop spring daar ‘n reenboog wydsbeen oor die horizon.  Dit breek my hart om te hoor hierdie blomme is glad nie baie gewaardeer nie, want dis eintlik die bolle wat benodig word vir uitvoer.  Die blomme word dus summier “gestroop”. Terug op die bus sit elkeen met ‘n tulp in die hare. Ek gaan myne, soos kleintyd, droogmaak in my Bybel.

Die natuurprag van Keukenhof laat pogings tot foto’s na cheap gedokterde poskaarte lyk. Die hele botaniese tuin is van middel Maart tot einde April elke jaar oop vir besoekers . Dit is oordadig plesierig beplant met bolplante so eksoties mooi in kleur, vorm en ontwerp dat jy telkens jou oe ongelowig oop-en-toemaak om seker te maak jy sien reg. ‘n Staptog tussen bome, strome en struike deur neem amper twee uur , maar dit voel soos ‘n vlietende oomblik in die blommehemel. Jy is so oorweldig deur die tulpe, hiacinte en lelies dat jy wens jou brein neem ‘n wyelens-foto wat vir ewig kan vasbrand in die geheue. Huistoe gaan tyd stap jy dikmond bus toe, want hier sou jy nog ‘n week se tonele wou inadem en nooit genoeg kry nie.

Volendam

Die laaste laaste dag behoort aan die kusdorpie Volendam, maar oppad daarheen word aangedoen by ‘n klompefabriek en “Oom Jepeto” (sommer my naam vir hom) wys hy kan ‘n klomp vinniger met die hand uitkerf as die masjien langsaan.  In Holland is klompe nog steeds regte gebruiksartikels vir tuinwerk. Die hout is sag en neem jou voet se vorm aan en dit hou ook  voete droog – die Hollanders se weergawe van ‘n “gumboot”.   Volendam met sy seefrontstraat vol pophuisrestaurante, toeristeware en ‘n opelug vis en chipswinkel wat selfs paling in seegras kan opdis. Terwyl wit candyfloss-wolke oor die dakke borrel drentel besoekers tussen klompewinkels, houttulprangskikkings en koek-koekklokhorlosies met die alomteenwoordige reuk van gebakte vis wat jou neus moedswillig kielie. As jy eet maak mossies hul tuis langs jou bord en eet gulsig soos net ‘n ongenooide gas kan wegval. Van hier af is talle boottrips na Marken, die nabygelee eiland, waar van die oorspronklike vissersmanhouthuise te sien is. Dis ‘n toeriste-slagyster en ons systap dit netjies om liewer nog langer te teug aan ‘n biertjie, afgeneem te word by die brons visserman op ‘n sementbankie en seesiek te raak van stip kyk na vier identiese seiljaggies wat dobber op ‘n ietwat ontstuimige see.

Leave a Reply