Skip to main content

Dis Maandagoggend halfvyf, die son sit reeds hoog en dis warm. Die soort warm wat die Kroate Lucifer’s breath” noem. Ek neem die ferry na Split en dan eens begin die busrit Mostar in Bosnië Hercegovina.

Volgens die skedule net drie en ’n half uur, maar met doeanebeamptes, rye en rye toeriste neem dit toe heelwat, soos in nog drie uur, langer.

Ons ry deur ’n paar hartseer dorpies vol koeëlgate, bouvalle en rommeltuine met die kwik op 42C.

As ons die stowwerige strate van Mostar inry twyfel ek sterk oor my wysheid om die reis aan te pak. Pension Most sit op die rand van die historiese deel van die dorp en met ’n vriendelike ontvangsdame en lugreëling voel die eenvoudige enkelbedkamertjie soos vyfster.

Laatmiddag stap ek na die antieke gedeelte en as ek die eerste klipstraatjie, minarette en kleurvolle stalletjies sien, besef ek vir die soveelste maal:  skoonheid is oral om ons – as jy net die moeite wil doen om dit te vind.

Mostar is geleë in die Hercegovina gedeelte van die land.  Die Turkse invloed is geverf op elke deur, geskink in elke koppie koffie en uitgestal op elke sypaadjie.

’n Nou loopstraatjie kronkel in die rigting van die Neretvarivier, oor die asemrowende Mostarbrug en verder oor die skuinstes van die oorkantste wal waar geboue verbete vasklou aan die bult se hange. Daar is ’n doolhof van nog meer straatjes, stalletjies en restaurantterasse met die heel mooiste uitsig op die beroemde brug.

Hierdie brug is gelaai met geskiedenis en avontuur. Manne oefen tot 20 jaar lank voordat hulle kwalificeer om die hoogte van 24m af te spring. Daar is selfs ’n jaarlikse Brugspringdag op 30 Julie waar brawe manne met die aanmoediging van skares, groot orkeste en wapperende vlae die sprong aandurf.

Soos dit maar met geskiedenis gaan is hier  00k goeie, maar meer slegte herinneringe. Die brug is lank terug deur Suleiman die Grote aan die dorp geskenk om die twee dele alkant van die rivier te verbind. Dit was hierdie dorp se trots en spogstuk. Toe die oorlog tussen Serwië en Kroasië uitbreek was daar ’n poging van Serwië om hierdie land ook in te palm en Kroasië was nie tevrede hiermee nie. In 1994 skiet Kroasië die brug aan flarde tot groot harteer van Mostar se inwoners. Die aanslag het misluk en Bosnië Hercegovina het nie deel van Serwië geraak nie. In 2004 word die brug herbou en weer oopgestel as oorwinningsimbool.

Die aandskemer se stap oor die brug is een van my all time beste herinneringe. Die lug in skakerings van pienk en diep pers geverf en selfs ’n springer in ’n Speedo wat vir genoeg aanmoediging wat om vir die skares die dieptes in te spring. 

Oral teen die paadjie is die mooiste Turkse koffie en teestelle uitgestal in koper, silwer en gekleurde stene. By die een winkel maak die eienares haar eie prentje met ’n glasie tee in die hand, geborduurde kopdoek, swaar grimering en ’n diensmeisie wat elke nou en dan nog tee bedien.

Ek draai by ’n versteekte straatjie in en ontdek ’n moskee en ’n baie ou fontein. Onder lê die rivier gesprinkel met die aandliggies van restaurante en ’n pot malvas op die voorgrond.

Donkeraand drink ek Mostarbier, eet spinasie-en-kaas-bürek op ’n klein balkonnetje wat oor die rivier leun. Die dekor is geroeste plaasimplemente, ’n oorlogsmasker en ’n gehekelde truitje in ’n raam. 

Erens op die agtergrond sing ’n iemand Una Lady.

Die volgende dag is dit tyd vir my busrit na Sarajevo. Eers moet ek nog ‘n draai deur minlike Mostar stap. Die son glinster soos kristalle op die rivier as my oggendrestaurant daaroor leun.

Ek loer vir oulaas in by die koperwinkel en kies twee handgemaakte Turkse koffiekoppies en ‘n potjie vir suikerkblokkies. Oppad na die busstop loer ek by ‘n juwelier in en koop ‘n brug “charm” vir my armband.

As die taxi my kom haal is ek hartseer oor die kort tydjie in hierdie pophuisdorpie vol kleur, geskiedenis en die beste burek in die Balkan.

Leave a Reply