Skip to main content

Die brandweer in enige Kroatiese dorp het vele take en net een daarvan is brand blus.

Oor die afgelope 20 jaar was daar al heelwat insidente met die brandweer van Stari Grad. Net een daarvan het met brandblus te doen gehad.

Die eerste ontmoeting was tydens die huis renovasie.  Daar moes ystertrappe gemaak word om na die dakkamer te gaan en na vele navrae en verwysings blyk Dinko, ‘n brandweerman, die beste sweiser te wees op die eiland van Hvar. Hy werk sommer in die brandweerstadie aan sy projek. Die trappe is nie 100%  simmetries nie, maar niks in ‘n 500jarige huis is nie. Mens kan brandweersweiser ‘n  soort van ‘n piromaan noem wat sy eie brande kan blus.

My tv besluit een oggend om net wit sneeuvlokkies te wys en dit nogal in die middel van die somer.  Na vele navrae vind ek die “tegnikus” tussen ‘n kakofonie van stukkende ketels, baie elektriese koorde en nog heelwat stukkende tv’s. Sy fooie sluit inspeksie in, maar drie verdiepings na die dak is nie enige leer se taak nie.  Na een of twee afspraakmisverstande kom Niksa drie dae later aangestap met twee brandweermanne en hul lekker lang leer.  Dit is blykbaar algemene gebruik om die brandweer se hulp in te roep vir hogere geboue. Dit is egter belangrik dat die brandweerpersoneel self hul apparate hanteer.

Drie jaar gelede is ek weer op die dorpie as die Wêreldsokkerkompetisie aan is.  Nou om te sê Kroate is sokkerbetotteld is ‘n lelike eufimisme.  Op elke plein en in elke liewe Cafe/Bar of restaurant is ‘n tv so groot soos ‘n rusbank geïnstalleer. Die Kroatiese span is ook van die begin af in top kondisie en wen elke wedstryd.  Elke keer as die eindfluitjie geblaas word met nog ‘n oorwinning gaan die brandweer se alarms af en word altwee die brandweervoertuie se ligte geflits vir ‘n goeie 15 minute.  Teen die kwarteindstryd skiet hulle “flares” die lug in en die aand van die eindstryd  jaag hulle op en af in die dorpie met loeiende sirenes en diskoligte, terwyl die kelners van elke liewe restaurant in die see spring. Kroasië verloor, maar niemand gee om nie.  Hulle het soos kampioene die stryd uitgetree.

Skaars ‘n week na die groot sokkeropwinding  skakel ek oudergewoonte my skottelgoedwasser aan voor ek gaan slaap.  ‘n Halfuur later word ek wakker van verstikkende rook wat na plastiek ruik. Ek, wat gewoonlik nie baie vlugvoetig is nie, hardloop my buurvrou se drie stelle trappe in rekordtyd uit.  Sy is dadelik op die telefoon om die brandweer te bel.

Hier moet ek dalk net noem dat my huisie in die ou historiese deel van die dorp is en nie bereikbaar te motor of brandweerwa nie. Watwou! Binne 10 minute kom ‘n klein Noddy  rooi vragmotortjie aangejaag wat deur die nouste stegie beur en op die kerkplein parkeer. Dit is al vaalrooi deur die son gebrand en definitief ‘n ouer model.

Drie verruklike brandweerseuns klim uit. Die spiere bult en die kuiwe is selfs halftwee in die nag  vars gespyker met gel. Ek verskyn in die onvleiendste nagrok ooit asook sonder grimering en is so dankbaar dat hulle sal my nooit weer sal herken op straat nie.

Die skottelgoedwasser se brand word met ‘n miniatuur brandblusser uitgeblaas en ek wonder nou nog oor die vragmotor. Hulle was seker maar nie lus om met die brandblusser drie blokke ver te stap nie.

Die brandweer in Stari Grad het vele take en doele – net een van hulle is brande blus.

Leave a Reply