'n Rooi plastiek gorilla, woer-woer speelgoed en wereldkuns. Dit alles is Venesië se vibe. Jy kan vyfster kuier of die pizza special eet, maar jy hierdie eiland voel altyd luuks en dekadent.
Die “universe” het al vir jare ‘n stokkie gesteek voor my besoek aan die stad van gondolas, waterstrate en baie bruggies. Die eerste keer is ons halfpad oppad daarheen by Slovenie se grenspos van die bus af gegooi (dit is ‘n ander dag se storie). Die tweede maal was daar ‘n lugredery-staking. Boonop alles is Venesie letterlik 2 uur se ry van een van my geliefde dorpies, Rovinj, in Kroasie en ek het al vele male daar gedraai.
Vanjaar het ek my nie laat fnuik nie en van Zagreb af per bus soontoe gereis. Skaars ses uur met pragtige landskappe en sommer ook ‘n draai deur Slovenië. Die bus het by Mestre-hoofstasie van Venesie geland, Vandaar spring mens op die trein na Venesie, VENESIE (die eiland) en presies 8 minute later land jy reg langs die Grand Canal by San Lucia stasie. LW jy kan ook van enige Europese hoofstasie by Mestrestasie aankom – Google gerus.
Later die middag ontmoet ek my twee SA vriendinne, al die pad uit die Kaap, by ons hotel. Dis nou as ons die hotel Al Duca di Venezia kan vind. Dit neem 45 min van slangetjies-en-leertjiestap voor ek die rooi banier van die hotel sien. Struikel daar in soos iemand wat die laaste paar tree van die Camino moes gee. Dit is ‘n knus klein hotelletjie en ons het definitief die “honeymoon suite” gekry, want brokaat, fluweelrooi mure en goudbeslane kandelare glinster verleidelik in die skemerte as ek oopsluit.
Vriendinne land ook uur of wat later met stoom om die ore en bloedrooi wange – moeg verdwaal. Later vind ons uit dis net ‘n gewone trippelkamer en die derde bed hardloop heel nag op wieletjies. Nogtans bekostigbaar en fantastiese diens. Een van my medereisigers slaap met klere aan, vir vinnig opstaan soggens en een standaard kruller in die kuif.
My grootste verrassing is hoe “klein” Venesië eintlik is – ja, alles gebeur links en regs van die Grand Canal. By die Piazalle Roma doen meeste busse/ trams van die vasteland af aan en van hier kan jy letterlik stap tot by die heel laaste punt – links of regs. Waar ookal ‘n kanaal oorgesteek moet word (170 van hulle) is daar ‘n klein bruggie (400 altesaam) en verder kronkel jy deur piepklein verkrummelde straatjies om gereeld verras te word met ‘n pragtige gebou, museum, kunsgalery of koffiewinkeltjie. Meeste geboue is net van die eerste vloer af bewoon aangesien die watervlak opstoot en die grondverdiepings onbewoonbaar maak.
Vaparetto-ry: Daar is Venesië vir stappers en dan ook Venesië vir vaparetto-ryers. Lg is die waterbote wat elke paar minute by een van die “stasies” aandoen oral langs die Grand Canal. Die koste van een kaartjie moedig jou glad nie aan om onnodig hiermee rond te rits nie (€12 per rit), maar daar is ook kaartjies beskikbaar vir 1, 2 of 3 dae. Die een van drie dae kos 40€ en dagkaartjies laat jou ook toe om tot in Murano, Lido of Burano (drie nabygeleë eilande) te ry.
Venesie Kuns Biennale 2017: Die 57ste Internasionale Kunsuitstalling getiteld VIVA ARTE VIVA word gehou tydens my besoek. Dit word georganiseer deur La Biennale di Venizia. Die hoofuitstallings was oop vanaf 13 Mei tot 26 November 2017 by die Giardini en Arsenale lokale. Daar was ook vele uitstallings in die historiese gedeelte van Venesië. Meer as 120 genooide kunstenaars, van 51 lande het deelgeneem aan hierdie tweejaarlikse kunsgenot.
Elke saal, gebou of “courtyard” word gebruik vir kontemporêre kuns van die hoogste gehalte. Name soos David Hackney, Yoko Ono en Damien Hirst is non-chalant gestrooi op baniere en lamppaalplakkate.
Die kuns bekruip jou van oral – ‘n groot rooi plastiek gorilla in ‘n vyfsterhotel se venster of reuse wit hande wat vanuit die kanaal verrys om ‘n gebou regop hou. ‘n Vriendin,Marlene van Jaarsveld, het deel geneem by die Kiribati Nasionale Paviljoen, Palazzo Mora en die uitstalling is getiteld “Open Structures”. Elke vloer is gevul met beelde, moderne en selfs soms absurde kuns.
Yoko Ono het my nog nooit vreeslik beïndruk nie, maar haar kamer vol spieëls van elke grootte en vorm het my geraak – jy stap in en kyk na die spieëls wat elke deel van die vertrek volmaak en sien dan die glashouer raak met pen en papier. Die vraag om te antwoord op jou stukkie papier: “How do you see yourself?” Jy raak deel van die kuns. Marlene se deelname, in bogenoemde gebou, as deel van die Meadows Personal Structures projek is kleurvol, fyn deurdag en briljant nes sy self en ek voel sommer trots om ook ‘n SA naam daar raak te loop.
‘n Ander uitstalling genaamd “homeless” het strukture uit perspeks en blik. Dit gee ‘n diep weergawe van hierdie wereldwye dilemma. Daar is ‘n aftiklys tydens die besoek en ons ry die hele lengte van die kanaal op ‘n vaparetto op die tweede aand. Begin by die Ponte degli Scalzi (Bridge of the Barefoot) naby die treinstasie en gly onderdeur die Rialtobrug en die groot houtbrug Ponte dell’ Accademia. Jy kry ‘n kykie in die lewens van Venesiane met tafels wat gedek word, stoele wat weer opgepof word en op een villa se stoep dans ‘n bruidspaar geruisloos saam met die gaste getooi in aandklere. Geboue se liggies dobber op die water en as jy weer terugdraai weet jy hoekom jy eenmaal hierheen moes kom.
Natuurlik moet jy bo-op die Rialto-brug uitkom en wel vir ‘n paar redes: selfies in die middel van die brug met die pragtige kanaal en sy grasieuse bote agter jou/ die Rialto Mercator (mark) waar jy enigiets van Muranoglas-sleutelhouers, maskermagnete met hansworsklokkies tot groter leermaskers kan laat maak volgens jou eie gelaatstrekke en sommer net omdat almal daar foto’s neem.
Vroegoggend neem jy waar hoe Venesiane kibbel by die vis- en varsproduktemarkte. Reel no 1: Moet aan niks vat nie! Wys waarin jy belangstel en handelaar sal dit met graagte vir jou uithaal. Reel 2: Vergeet vir ’n paar dae dat alles duur is en eet iets by die restaurantjies teen die kanaal. Jy is dalk net een keer in jou hele lewe daar so waarom wil jy nou broodrolletjies in jou hotelkamer afwurg? Ons tref een van die restaurantjies teen “happy hour” en kry ‘n glas heerlike Prosecco gratis. Vonkelwyn, pizza en gondolas wat geruisloos verbywieg – wat meer kan ‘n mens begeer?
San Marco-plein is ook een van die doendinge. Die reuse plein is besaai met Pakistani’s wat elektriese woer-woergoedjies in die lug laat opvlieg, cafebars met strykorkeste en sulke duur drankjes dat selfs die water jou sooibrand gee. Dus luister jy maar in die verbyloop, neem baie fotos van die pragtige frescos op die buitemure van die St Mark’s Basilica en as jy gelukkig is sien jy ‘n bruid oor die plein hardloop (‘n bekende ritueel).
Ons dwaal weg van die plein na die strate so ‘n entjie op bekend as Le Mercerie, verder af in die rigting van Canareggio is Strada Nova. Dis die area en strate vir die groot koop ondervinding en as jy nog net van Louis Vuiton, Max Mara en Dolce & Gabanna in die haarsalon se omgekrulde tydskrifte gelees het is dit die plek om neus teen die ruit loop. Elke ontwerper se winkeluitstalling is ‘n skildery op sy eie en as ons skoorvoetend die D&G winkel instap verwag ek enige tyd ‘n stywelip verkoopsdametjie wat ons die deur gaan wys. Gelukkig is daar ‘n oulike, fynbesnaarde seun wie se ma seker ook nie by die winkels koop nie. Hy ontvang ons vriendelik en sprak g’n sprook oor die nommertjies wat ons duidelik nie gaan pas nie.
Later oor ‘n glasie Aperol Spritz (die nasionale drankie van Italianers) sien ek ‘n fietse dame verbydartel met D&G van kop tot tone. Ek kyk met nuwe respek na haar gade – hy is so pas R30 tot R100 000 armer.
Daguitstappie na Murano, Burano en Torcello: As ‘n mens nie die notas goed lees nie, betaal jy onnodig weer 20€ vir hierdie trippie (onthou jy kan jou dagkaartjie van die Vaparetto gebruik). Murano, die Venesiese glas-eiland, is ‘n groot teleurstelling aangesien die toergids ons almal in ‘n groot, warm stoor injaag en ‘n Italianer vining drie springende glasperdjies uitblaas. Verder word jy deur ‘n trog na die fabriek se uitstallokaal gejaag – alles is pragtig, maar waar sit mens nou ‘n meterhoog glashanswors in jou huis sonder om kommin te lyk?
Burano is definitief ‘n hoogtepunt. Straatjies vol Smartiebokskleur-huisies staan styf teen mekaar – ook alkant van ‘n mini-grand Canal. Die storie after die kleurvolle huisies is dat die vissermanne (wat hierdie eiland bewoon) hul huisies so verf om dit makliker uit te ken as hul in storm en reën huiswaarts keer. Ek dink dis eerder as die wyn praat. Hier is die heerlikste visrestaurante, maar ons tyd is beperk (die drukgangtoer) en as jy klaar teen elke moontlike kleur huisie gepose het kan jy ook na hul bekende kant- en linneprodukte kijk. Regte outydse sakdoekies met voorletters, baie lelike gehekelde laslaprokke en “made in China” kantsambreeljies te kies en te keur. Gelukkig huil ek liewer in ’n tissue.
Die laaste eiland,Torcello, is baie gewild vir troues, maar behalwe drie of vier verlate restaurantjies is hierdie werklik ‘n mors van tyd. Kon liewer langer in Burano gekuier het…




