Skip to main content

As stoere NG meisie is ek nie so op datum met Rooms Katolieke kerke en hul gebruike nie. Een ding is egter seker... Ek love die bling, beeldjies en reuse skilderye van laasgenoemde. Dit voel so effens of ek uitmis in ons vaal kerke. Ja ek ken die hele verhaal, maar nogtans.

In Stari Grad, Hvar het ek die voorreg om reg langs Svete Stepjan Kerk te woon.  Dit is een van die bekendste landmerke in die historiese deel van die dorp. Om so naby te bly het ook nadele. Verbeel jou ‘n kerkklok wat elke uur op die uur alle slae slaan van sesuur in die oggend tot snags twaalfuur. Menige besoeker het al met verslaapte hare my kamer ingestorm oor die gebeier.

Die kerk het ‘n Art Deco boustyl met die mooiste houtwerk en skilderye van baba Jesus en Moeder Maria.  Die groot kandelare voor se kerse brand dwarsdeur die dag. Daar is talle ikone en natuurlik ook die rye ongemaklike bankies. Dis nou wel nie ‘n restaurant nie, maar hierdie bankies moedig nie getalm aan nie. Elke nou en dan gaan vertoef ek so bietjie daarbinne en luister na pragtige gewyde agtergrondmusiek .

Dalk is dit my verbeelding, maar my timing is minder suksesvol. My instap is gewoonlik in die middel van ‘n klein biduur, seremonie of Susters wat blomme rangskik. Maak nie saak hoe suutjies ek instap nie of probeer wegsmelt in die agtergrond nie – ‘n fronsende gesig sal omkyk. Hier moet ek net noem dat Kroate enige tyd van die dag in en uit beweeg by kerke. Dit is dus nie net ek wat nie my tyd ken nie.

Eenkeer het ek ingestap met ‘n sakkie marktamaties, ten aanhore van die pragtige koorstemme en asof Satan homself in daardie sak was skeur dit in twee en die een tamatie rol tot voor die priesterdirigent se blink skoene.

Ek bekyk ook al lankal die bieghokkies en in plaas daarvan om by kyk te hou besluit ek een stil Maandagoggend om dit uit te probeer. Wel, dit is definitief nie ontwerp vir vroue wat by die Plus Size afdeling shop nie, want toe ek in is vind ek dit baie beknop en benoud en wil dadelik weer uit. Net om te besef ek sit vas. Bene vorentoe, maar niks, lyf halflyf uit, maar bene sit nog vas. Visioene van myself met die hokkie om my soos ‘n skilpaddop laat my nog meer stres. Natgesweet wriemel ek die bene skuins en ontsnap die kleine hokkie.

So met die uitklimslag trap ek op ‘n baie kwaai Suster se tone wat my in Kroaties vermaan en ongedurig weer die bieghokkie in sy regte plek skuif. Sy waai my met ‘n handgebaar die deur uit voor ek kan vra of daar verskillende groottes hokkies is – syself en die burgemeester is bv groter as ek.

Die volgende paar dae slaan die hele priester/susterpersoneel hul oge afwaarts as hul my sien. Met twee insidente agter my naam hou ek toe maar wyd van die kerk vir ‘n week of twee.

Leave a Reply