Skip to main content

Vrouens wat losgelaat word in Istanbul verloor gou kop en later ook amper hul bearings.

Na ‘n jolige vier nagte in Istanbul is dit tyd om ons girls roadtrip in Kroasie te begin. Die “small, economic car” is al maande terug op die internet bespreek (lw www.rentalcargroup.com het wonderlike pryse) en al het die prentjies duidelik aangedui dat 4 persone en net 1 tas kan inpas is ek vol moed dat daar nooit hierdie tyd van die jaar genoeg klein karretjies is vir al die cheapskates soos ek nie en dat hul verseker vir ons ‘n groter kar gaan aanbied.

By Zagreb se lughawe slaan ek en die agent amper mekaar, by die verhuringskiosk, want sy beweer “extra full insurance” dek nie die wiele en die vensters van ‘n motor nie. Nouja na ‘n gekibbel en gedreig kom sy af met byna helfte van die versekeringskoste en oorhandig die sleutel en dokumente wrewelrig.

Hier moet ek net noem dat ons baie mooi goedjies in Istanbul raakgeloop het en dat J se mediumgrootte tas al uit sy nate gebars het na die eerste 2 dae daar. Dus is ekstra sakke en handbagasie bygekoop en ook nou deel van ons trek. Die totaal bagasie is dus: 3 groot tasse, 3 kleiner tasse, 3 handsakke (baie ruim) en ‘n bonkige rugsakkie. Die ander probleem is dat nie een van ons die Miss Twiggy prys sal wen nie.

By die parkeerplek wag die verteenwoordiger van “small, economic car” ons in en as hy mik vir die klein rooi Panda Fiat, probeer ek hom liggies stuur na die groot Volvo, maar nee… hy steek vas en sluit oop . Ons kyk vir hom, hy kyk vir ons, hy kyk na ons tasse en kyk weer na ons en ons kyk na die Panda. Hy oorhandig so vinnig as moontlik die kontrak en wys duidelik daarop dat die motor skaars twee weke oud is en nog geen skrape of probleme gegee het nie. Voor ons nog kan vra vir hulp met die tasse verdwyn hy soos ‘n skim in die dynserige straatligskemerte. Ek en M is nie die handigste girls op aarde nie en as dit nie vir J was nie het ons seker nou nog staan en tasse laai en herlaai. Dakhoogte en sonder ‘n agterruit-visie vertrek ons na die middestad van Zagreb vir ‘n oornagslapie. Die ongelukkige passasier wat agter sit word papgedruk deur die tasse wat oorhel en haar uitsig is die kopstuk van die voorste passasierstoel.

In Zagreb middestad aangekom tref dit ons dat al hierdie bagasie in die motor moet slaap, want om alles uit te pak en drie blokke ver te dra gaan nie werk nie – nie vir net een nag se slaap nie. Dis ‘n nou straatjie voor ‘n woonstelblok en die SA paranoia skop in. Ons goed gaan gesteel word; ons kan nie 3 keer loop na die woonstelblok nie. More is al ons inkopies van die afgelope paar dae gesteel! Die agent van ons oorslaapwoonstel kraai van die lag en stel ons gerus: “very safe in Zagreb, nobody steal your luggage or car”. Huh, hoe se juffrou nou? Ons kyk verlangend vir oulaas na ons bagasie en Panda voor ons aanstap.

Onnodig om te sê die Panda en al die bagasie het rustig vir ons staan en wag die volgende oggend. Nou begin die reis na Plitvice Jezera – een van die mooiste natuurverskynsels in die wereld (nee ek oordryf nie). Ek is die bestuurder en die girls moet beurte maak om te navigeer. Ek kom al ver 12 jaar Kroasië toe, maar die twee se uitsprake, van plekke se name, maak my so deurmekaar dat selfs ‘n dorpnaam wat bekend is, onverstaanbaar raak. J merk vrolik op dat sy nou uiteindelik die oorsprong van Jappafrans gevind het. Gelukkig is daar naamborde langs die pad en terwyl die twee klank dat die sweet aftap kry ek ons by die eerste bestemming – Plitvicemere.

Die volgende bestemming is Opatija in Istria en as ons vroegaand daar land begin die hele ritueel van oornagplek vind, parkeerplek met agterdog bejeen , panic oor die bagasie in die motor agter ‘n scaly gebou en opsleep van kleiner, net so swaar tasse van voor af. As ek so wegstap van die Panda verbeel ek my die klein wieletjies maak knock knees van al die gewig… Ons spandeer nog ‘n paar dae in Rovinj met sy beeldskone kerkie op die hoogste koppie, poskaartmooi straatjies en Griekse sangers wat teen die riva sing (hul skip seker gestrand oppad Griekeland toe). ‘n Dagbesoek aan die truffel-dorpie Motovun verloop amper sonder voorval. Die dorpie is ook bo-op ‘n heuweltjie geleë en hier kan jy wit en swart truffels, truffelolie, truffelpatee en selfs kaas met truffels in proe. Toe ‘n hewige reenbui uitsak duik ons by ‘n oulike restaurantjie in en ek eet natuurlik…. truffelpasta.

Ons ry laatmiddag terug van Motovan, maar kibbel heelpad oor die regte roete. Party mense sweer hoog en laag dat hul van die plekke herken en ek se die pad se oppervlak is dan hobbelrig wat vroeër vandag so mooi geteer was. Later stop ons vir aanwysings. Ons het wel die regte pad gevind, maar ongelukkig in die verkeerde rigting gery en amper in Slovenië geland. Die terugdraai beloon ons met die mooiste reënboog wat die oor die hemelruim span en oral word nog gestop vir fotos van ou huise, mooi plaaslanderye en pophuiskerkies op heuwels.

Die Panda gedra haar uitstekend en as ons na 467km in Split land is sy reg vir ‘n bietjie ferry-ry. Jy parkeer jou motor so vroeg as moontlik in die ry en as die ferryman die teken gee mag almal inry. Ons skommel vir twee ure lekker tot in Stari Grad, Hvar-eiland. Om een of ander rede land ons alewig donker by ‘n plek, maar hierdie keer is ek vol bravade, want ek ken die dorpie, dis my tweede tuisdorp en ek weet waar elke hoekie of hobbeltjie is.

Jy moet buite die klein nou straatjies aan die buitewyke van die dorp parkeer, maar al ons locals weet jy kan met ‘n baie nou (en ek bedoel nou) straatjie ry tot op die kerkplein en eers jou bagasie aflaai voor jy die motor gaan parkeer. Heeltemal afshowerig ry ek voort – ek ken mos die wereld.

Die volgende oomblik gggrhhhrssskrrrtssshhh iets onder die motor en so met die terugratpoging raak die geluid nog meer vreesaanjaend. Dit klink of die hele onderstel van die Panda afgeskeur word. Ons sit vir ‘n oomblik gevries en spring dan uit. J is weereens die mees buigsaamste en loer handeviervoet onder die motor in.

Die volgende oggend is J weer handeviervoet met die selfoonkamera onder die motor in en tussen haar en ‘n paar gesoute Kroatiese omies besluit hulle die skade is nie so groot nie. Die metaalpyp is nou wel losgeskeur en hang op die grond en die uitlaatpyp brul soos ‘n V8-enjin, maar verder is dit nie te erg nie, aldus die verdere terugvoer van A, dis nou J se man, vir wie ons die fotos en verduidelikings aan gewhatsapp het na Suid-Afrika. Ons besluit om liewer nie die agentskap in te lig nie.

Ons vra rond vir hulp by ‘n onwillige buurman en as die ander twee girls die dag by Zlatni Rat, Bol se strand gaan deurbring, begin soek ek na ‘n motorwerktuigkundige. Die eerste een praat glad nie Engels nie en wys met ‘n 180 grade armswaai na die 20+ geroeste bakkies, lorries en motors wat hy nog moet herstel. ‘n Kroat wat in Australië grootgeword stap nader en sien hier moet hy uithelp. Hy ry voor my uit na die volgende mechanic. Dis’n enkelgarage sonder ‘n deur – gesaai met blikke, oliekolle, moere, boude en meer rommel as parte en o ja ook ‘n put. Die man is nêrens te vinde en die Aussie roep ‘n paar maal hard na hom. Hy kom sleepvoet aangedrentel in sy wessie en sê dat sy ma baie siek is en hy ons nie kan help nie. Gelukkig is George ‘n man wat nie vinnig nee vir ‘n antwoord vat nie en verduidelik dat ek ‘n “local” van die dorp is. Net daar sê Rade hy sal my help – so oor twee ure as hy klaar sy middagslapie geneem het.

Klokslag 2 uur later stop ek weer voor Rade se werkswinkel. Hy het intussen sy buurman wat drie woorde Engels verstaan ook opgekommandeer om te vertaal en die geselskap aan die gang te hou. Toe ek noem dat dit ‘n huurmotor is en ek groot moeilikheid gaan kry oor die skade, is dit asof daar lig opgaan in albei die manne se oë en hul spring weg met mening. Enige Kroat sal werk dat die sweet tap as hul ‘n instansie wat “onnodig” jou geld vat kan uitoorlê. Terwyl ek rustig vir ‘n paar ure op ‘n olieblik sit en facebook lees buig Rade die metaalpyp weer plat, las sommer twee stukkies metaal in waar dit kraak en sweis dit mooi vas onder die motor. As ons die motor aanskakel brul dit nog en hy skud sy kop – sak weer af in die put en sweis ook die gat in die uitlaatpyp toe. Ons aldrie klap mekaar op die skouers en wens oor en weer geluk met die goeie handewerk en die totale koste van 200 Kuna (ongeveer R385). Twee dae later word die motor teruggegee by die motorverhuringsmaatskappy – gelukkig die keer by Split lughawe. Die sweet tap my af toe die agent om die motor loop en onder dit inloer met ‘n langsteelspieel. Met ‘n tevrede kopknik teken hy die kontrak met ‘n groot regmerk – geen skade, alles is in orde! Gelukkig het ek geen wiele of vensters gebreek nie.

Leave a Reply