Skip to main content

Ek en 'n vriendin kuier in Poland en het eers 'n draai gemaak in Warsaw. Vroegoggend klim ons op die vinnige trein (EIP Express) van Warsaw sentrale stasie na Krakow Glowny en binne twee uur en 33 minute is ons daar.

Hierdie keer het ek ‘n Airbnb bespreking gedoen en Enjoy! Apartment in die ou stad doen sy naam gestand. Daar is twee slaapkamers met groot persgordyn-leefareas en ‘n lieflike kombuis. Ons bly ‘n paar minute se stap van die groot markplein, ou Joodse kwartier en een van die hoof tremstasies. Naby is ook ‘n lieflike park met amandelbome wat wit oorgetrek is van die bloeisels.

As die laatmiddaggloed alles ligpienk verf stap ons na die Markplein. Groot en majestieus is nie juis indrukwekkende woorde om dit te beskryf nie. Een kant van die plein staan talle perdekarre met wulpse jong meisies wat nooi. As jy instem skuifel ‘n minder aantreklike drywer êrens uit sy café-stoel en kom neem jou op ‘n vinnige toertjie. Die mooi meisies ry darem saam en gesels lekker in Engels.

Ons stap reg rondom die plein en maak ook ‘n draai by die Cloth Hall (Sukiennice) in die middel van die plein. Hier is pragtige geborduurde pashminas, babuscka-poppies en amber juwele. Hierdie gebou dateer uit die Renaisance era en word beskou as een van die oudste “winkelsentrums” in die wêreld. Aan die kant van hierdie gebou lê n groot brons kopbeeld genaamd Eros Bendato vir jou sylangs en loer. Dit is die werk van die bekende Poolse kunstenaar Igor Mitoraj. Die  St Mary’s Basilica op die plein is ‘n rooi baksteengebou en die dak binne begroet jou met ‘n geverfde sterrehemel. Die Tartare het die oorspronklike kerk geplunder, maar in 1320 is dit van die fondamente af herstel. Elke uur word die tyd met ‘n beuel aangekondig, maar halfpad onderbreek ter nagedagtenis aan die beuelblaser wat in die nek geskiet is omdat hy die stad te laat gewaarsku het teen die Mongoolse inval. Hierdie kerk is ook die beginpunt van daaglikse staptoere deur die stad of ou Joodse kwartier.

Die Oskar Schindler enamelfabriek huisves twee museums nl ‘n tak van die Historiese Museum van die Stad Krakow en ook die Museum van Moderne Kuns langsaan. By eersgenoemde kan jy deur verskillende kamers loop en die hartseerverhaal van die Joodse uitwissing beleef wat deur middel van video-onderhoude, foto’s  en kameruitstallings uitgebeeld word. Daar is ook baie slim dekor en selfs kamers wat die Joodse Ghettos ‘n realiteit maak.As ons uitkom stap ‘n ortodokse Jood en ‘n Katolieke non gesels-gesels verby.

Die Kontemporêre Kunsmuseum langsaan het ‘n ry sementfietse en Andy Warhol word vereer deur ‘n aparte uitstalling.

Later stap ons na die Ghetto Heroes Square met reuse brons stoele – elke stoel verteenwoordig 10 000 Jode wat na die gaskamers vervoer is. Een is mooi toegehekel en die ander lyk verlate en depressing – soos die tragiese verlede self.

‘n Daguitstappie na die Wieliczka soutmyne sowat 30 minute buite die middestad is ‘n groot hoogtepunt. Jou mond hang oop as jy sien wat mense met hul hande en net perdekrag kon vermag oor vele verdiepings. Ons daal met meer as 800 trappe af en  stap deur 3km  se gange, verby reuse houtkonstruksies en oral is net sout. Die vloere, die mure en selfs die kandelare is van soutkristalle. Daar is 20 kamers ondergronds waarvan die St King Kapel die indrukwekkendste is. Die beste nuus is egter dat die hoë inhoud sout in die lug baie goed is vir borsprobleme. Die perde wat gebruik is om die sout te help vervoer het nooit die lig gesien nie. Hulle het vir jare onder die grond gewoon, maar volgens die toergids is hulle soos goud (sout) opgepas, want sonder hulle was arbeid nie moontlik nie. Hulle was definitief hulle sout werd.

Dis ‘n Vrydagaand en ons soek ‘n restaurant wat Joodse kos bedien, want dit is Shabat in die Joodse kwartiere. Die Klezmer Hois restaurant voel soos iemand se privaat eetkamer en sit stampvol families wat eet, lag en kuier. ‘n Klein orkes met ‘n trekklavier, viool en basviool speel eg-Poolse tradisionele musiek en ek en vriendin sê vir mekaar waarvoor ons elkeen die week dankbaar was.

Die volgende dag doen Vriendin die staptoer deur die ou Joodse kwartier, maar my skoene het my voete so verrinneweer dat ek mooi stil gaan sit by die pragtige koek-en-roomyswinkel genaamd Café Spitalna, reg oorkant ons woonstel. Dit begin reën en ek eet die grootste, dekadentste stuk koek op die uitstalling asook twee ekstra-groot cuppucinos. My idee van toer. 

Koop vir my ‘n pragtige handgeverfde botterbakkie met daisies en swaeltjies en ‘n baie oordadige wolonderbaadjie gedoente waarin ek, nou met “hindsight”, ‘n bietjie na ‘n dubbelbed oorgooideken lyk.

Ons meisies is lief vir ons aandetes en vat weer die pad na die ou Joodse kwartier op aand drie. ‘n Kuierplekkie ,wat goed sal pas in ‘n 1955 fliek, wink ons nader. Dit is vol ou tafels, prente, doilies en deurmekaarstoele. By die tafel langsaan drink ‘n verliefde paartjie klein glasies deurskynende vloeistof saam met hul bier en ons bestel dadelik ook daarvan. Wel, nodeloos om te sê dit was skoon vodka. Hier drink die Pole dit soggens, saam met koek en ook as voor en nagedagtenis. 

Later vind ons ‘n restaurant wat propvol is, maar ons staan breed in die ingang en hulle moet maar ‘n tafel gee. Die dekor is die Poolse weergawe van boeresjiek met kandelare en mandjies vol kunsblomme. Daar is selfs ‘n verhogie vir ‘n ‘n orkes, maar die is lankal huistoe. Ons drink nog Vodka en as ons vir ons eie grappies begin lag is dit tyd om langsaam huistoe te stap. Deur spookstrate vol stemme uit die geskiedenis  en hier en daar ‘n groepie tipsy tieners.

Die laaste dag se kuier is by die groot kasteel op die koppie. Ek het die boomerang app baasgeraak op my foon en ons waai serpe en trap dansies om huistoe te stuur – natuurlik tot groot embarrassment van ons kinders. Vanaf die kasteel het jy die mooiste uitsig oor die stad en Vistularivier. Later verwilder ‘n streng sekuriteitspolisieman ons wat as enigste toeriste nog ronddraal.

Teen die heuwel af staan drie priesters met Bybels onder die blad en een teug lustig aan sy McDonalds melkskommel, terwyl die ander twee hewig redekawel oor kerksake reg onder ‘n loodglasvenster met Moeder Maria en baba Jesus.

Krakow is Joods, Krakow is Katoliek en enige ander geloof ingemeng. Krakow het ‘n pynlike verlede, maar almal het hul lesse geleer uit vele oorloë en leef in vrede saam.

Soos altyd vlieg tyd as jy jouself te veel geniet. Ons was nie eens by Auswitczh nie. Dit is egter ‘n hele dagreis ver en daar was te veel mooi rondom ons. Krakow is op my lysie as weer-besoekplek.

Leave a Reply