Kurkposkaarte, sangria en pastei de nata. Wat meer kan mens oor droom in 'n stad?
Portugal: Die susters was alweer opstraat en hierdie keer was Portugal die keuse. Nou laat ek sommer uit die staanspoor bieg: Portugal was nog nooit op my wenslysie nie en ek het dus maar sleepvoet begin navorsing doen. Wel onnodig om te se ek is uitgeboul.
Reisplan: Lissabon, Porto, Pinhao in die Dourovallei, Aveiros, Obidos en Sintra. Die idee is dat ek van Split, Kroasie af aansluit by die susters (van SA af) in Lissabon. Alle vlugte mooi gekoordineer en hulle sal my inwag op die lughawe. Wel… die hele Europa het daardie aand donderstorms en ek land in Munich sonder ‘n verdere aansluiting voor die volgende oggend. Dit klink miskien na ‘n klein probleempie, maar nie as jou twee susters rigtingbedinges is en glad nie worry waar ons verblyf is nie. Na vele oproepe tussen my en ons land lady in Lissabon stuur sy ‘n taximan om hulle te gaan onderskep.
Probleem 1: Hulle sal definitief nie hul name soek op ‘n plakkaat nie – wag dan vir my. Probleem 2: Taximan weet nie hoe hul lyk en as hy hul nie vind nie sit hul tot volgende oggend by die naaste koffiewinkel. Stuur paar fotos van die twee aan, maar op meeste is hul verdwerg agter reuse roomyse of groot mengeldrankies. Bid maar die man gebruik sy verbeelding. Na 2 uur vind hulle tog mekaar en hy neem hul veilig na Historical Apartments Lisbon.
Lissabon se woonstel is lieflik , dis nou as jy na 5 verdiepings daar aangehyg kom met oorgroot tasse. Dit is naby die Largo do Carmoplein en op die hoek is die fraaiste driehoekgebou met drie tafeltjies vir koffie. Saans is die plein vol restauranttafels gepak en bedags speel eksotiese seuns musiek. Ons is skaars 15 min se stap van die hoofbesienswaardighede (middestad), maar met bulte en ouderdom kortasem dit maar kort-kort.
Die eerste aand gaan verken ons die waterfront restaurante en maak kennis met Kod fish pies – te heerlik. Twee en ‘n groot bier is oorgenoeg vir aandete. Ons vind ook per ongeluk een van die hoof restaurantdistrikte in Barrio Alto, maar is nou propvol en luister net musiek wat oral uitborrel. ‘n Angolees herken die Afrikaanse aksent en omhels ons skuins voor twaalfuur die nag.
Op die Rossio-Plein is die mooiste sardientjiewinkel, dit lyk soos ‘n kruis tussen ‘n sirkustema en merry-go-round, genaamd Mundo Fantastico da Sardinha. Hier kan jy ‘n blikkie sardientjies koop met jou geboortejaartal op en as ons klaar op die mooi stoel gepose het stap ons aan na die materiaalwinkel. Nie een van ons kan naaldwerk doen, maar verkyk ons aan die eg Portugese materiaal met teeldrukke en sardientjieblikke op. Middagete reg oorkant die Santa Justa hyser is ‘n 2l Sangria en diepgebraaide garnale. Die hyser was gebou vir die rykes om van die heuwels af ondertoe te kom in ‘n era lank verby. Ons kyk maar net van ‘n afstand af, want vir daardie rye sien niemand kans nie.
Belem: As jy nie Pasteis de Nata eet in Portugal nie het jy die hele doel van hierdie land gemis. Ons Uber nou oral lekker en bestuurder laai ons voor die beroemde Casa Pasteis de Belem-winkel af. Toue staan straataf, maar sitplek binne is meer bekombaar en ons eet lank en lustig. Daar naby vind ons ook die standbeeld van talle ontdekkers/seevaarders en die Belemtoring, op die Tagusrivier, wat histories as die amptelike ingang van Lissabon gesien is. Die Hieronymites Klooster en kerk is ook in die buurt, maar daar is ook stalletjies en die eerste kurkaankope word gedoen. Enige iets word hier van kurk gemaak – handsakke, skoene, brilhuisies en self poskaarte. Kom gou agter dat dieselfde kurkitem se prys kan wissel – tot 200% duurder party plekke.
Die susters lief ‘n winkel en laatnamiddag oortuig ons die uberman om ons na ‘n winkelsentrum te neem. Wat is dan nou lekkerder as om ‘n ander land se waspoeier en blikkieskos te bekyk?
Alfama was op my “moetlysie”. Dit is die oudste deel van Lissabon. Vol geskiedenis, uitkykpunte, steil straatjies en Fadomusiek. Dit is ‘n feesnaweek en sover ons kronkel teen die steiltes af is stalletjies en musiek. By een stalletjie proe ons ‘n Pasteis de Nata shot – smaak maar soos ‘n melktertjie.
Ons, of liewer my, missie vir die aand is om ‘n Fadomusiek te vind. Een restaurant is reeds vol, maar die eienaar lei ons na sy vriend se plek toe en as ons deur ‘n swart fluweelgordyn loop sing die musikante al lustig. Miskien moet ek net hier noem dat Fado nou nie almal se cup of tea is nie – sulke hartseer volksliedjies van verlore seemanne, liefdes en trane. Gewoonlik rondborstige vroue wat sing, maar hierdie aand sing daar ook ‘n verfynde man wat graag sy kuif agteroor gooi. As hy onverwags lostrek agter my sus Rika hop sy van die skrik en dit vat myself en ‘n kelner om die twee susters te laat bedaar van die lag.
As jy graag al die Portugese eetgoed op een plek wil vind is die Time Out Mark die regte plek. ‘n Sondagbesoek is baie bedrywig, maar al die kosstalletjies en lekkernye maak dit die moeite werd. Die keuses is amper eindeloos en so ook ‘n soektog na ‘n sitplek. Rugbyveldgrootte en oorvol. Ek bestel per abuis ‘n 2 liter sangria wat R300 kos, maar ons deel met ‘n Franse paartjie en na die derde sluk vergeet ek skoon van die glipsie.
Een van ons missies is om op die beroemde trem no. 28 te ry. Die is alewig oorvol, maar gelukkig is ‘n ander een (no.24), wat vir meer as 23 jaar in onbruik was weer afgestof en geolie en ons ry te heerlik heen en weer teen nie net steil bulte nie, maar ook steil pryse. As ek ‘n hele muur vol grafitti sien spring ons af by die Compolide tremstasie. Die monde hang oop vir die mooiste kunswerke op die mure. Die straatkuns in hierdie stad is van die beste al ooit gesien. Jy kan ‘n spesiale toer neem om almal te besigtig – glo my jy sal nie teleurgesteld
Almal is altyd gaande oor Hollande se blou teels, maar Lissabon (soos die res van Portugal) verras met die heel mooiste teelwerk. Hierdie teels het ‘n sinkbasis en staan bekend as Azulejo en kom in enigiets van groen, blou tot oranje voor. Geboue is oral van bo tot onder geteel ter beskerming van die pleister.
Die laaste dag in Lissabon word daar uitgewyk na die fabriekswinkelsentrum sowat 40 minute aan die buitewyke sit. Dit is maar effens underwhelming, maar as ons die braaisouskoning van Suid-Afrika, Jimmy van Jimmysouse en sy vrou Linda raakloop kuier ons lekker in Afrikaans en ruil nommers uit. Lissabon is lieflik in elke liewe opsig. Die kos is smullekker, die sangria buitensporig sterk, die besienswaardighede anders interessant en die 7 heuwels begaanbaar met Uber en ‘n trem of twee.
wees nie.




