Die drie maande in Kroasie, jaarliks, gee my die geleentheid om ook ander stede hier naby te verken. Een hiervan is Budapest – slegs 5 uur per bus van Zagreb of selfs per trein.
Dis ‘n helder Maandagmiddag as ons die Flixbus klim en met twee russtoppe voel dit soos piekniek langs die pad as ek en my busdrywer saam ‘n koffie geniet.
Ons woonstel is sorgvuldig gekies op www.booking.com om ‘n uitsig oor die Danau-rivier te hê en so na as moontlik aan ‘n trein/trem en busstop te wees.
Budapest bestaan uit twee dele nl Buda en Pest wat alkant van die rivier geleë is. Ons bly aan die Pest kant waar baie besienswaardighede is vir toeriste. Die woonstel is ruim, goed toegerus en is geleë op die eerste vloer- ‘n bonus vir die swaartasbrigade. Die eienaar is vriendelik en sag op die oog. Beter kon ons dit nie tref.
HOP ON HOP OFF:
Die Hop-on Hop off buskaartjie is geldig vir twee volle dae en sluit ‘n riviervaart in.
Laasgenoemde is ‘n groot bonus. Ons kies die laatmiddag vertrektyd en sien die stadsilhoeëte stadig verbyglip aan albei kante. Dit is ‘n pragtige sonsondergang wat die imposante parlementsgebou laat glinster in die laatmiddagson. Hier gebou oorskadu selfs die Britse parlementsgebou en al sou dit al wees wat ek sien op die vaart, sou dit ook genoeg wees.
MARKSAAL:
Vyf minute se stap neem ons na die groot Marksaal waar groente, kase, salamis en paprikarakke kompeteer met allerhande plaaslike likeure en kosstalletjies. Hongarye is die geboorteplek van goulash en elke dag word ‘n ander stalletjie of restaurant se weergawe geproe. Gewapen met gerookte paprika, gewone paprika, brandrissiepaprika asook ‘n paar houtlepeltjies vir uitskep voel ons tevrede dat die Marksaal nie teleurgestel het nie. Daar is natuurlik ook ‘n groot salami gekoop na vele proesessies. Op die boonste vloer loop ons die mooiste geborduurde tafeldoeke en bekraalde brilhuisies raak – trousseau vir ‘n dogter en ‘n brilsakkie vir een van my 7 leesbrille.
BUDA – KASTEEL, VISSERMANSBASTION EN MATTHIASKERK:
Op dag twee neem die rooi bus ons na die Buda-deel van die stad. By die onderpunt van die kasteel oorval eetlus ons en ontdek die heerlike Hongaarse weergawe van ‘n vetkoek (platgeslaan) genaamd Lángos. Dit word bedien met gerasperde kaas en roomkaas wat veroorsaak dat jy al jou kwota kaloriee vier maande vooruit eet. Hier vergaap ek my aan die Matthiaskerk se mooi geskilderde mure en die Kasteel se kunsuitstallings. Elke vloer verteenwoordig ‘n fase van die Hongaarse kunsgeskiedenis en enigiets van die romantiese tot die absurde skuur skouer met gemak. Die Vissermansbastion bied die mooiste uitsig oor die stad, maar hierdie tyd van die jaar vra hul ‘n onnodige toegangsfooi so ek loer maar van die kant af en neem nog steeds lekker fotos. Dit is ‘n bloedige warm dag, wat my vir die eerste keer in my lewe, laat krap in ‘n asdrom vir ‘n leë koeldrankbottel om water te tap by die fonteintjie.
SKOENE OM TE ONTHOU:
Dag drie is die program net so vol, want na al ons gedraal in die Marksaal op dag een het die program bietjie deurmekaar geloop. Vroegoggend (dis nou rondom 10:00) neem on Tram no 2 wat al langs die rivier af loop en klim by die Parlementsgebou af, neem nog foto’s en stap dan terug na die skoene teen die rivier. Nie gewone skoene nie, maar ‘n gedenkuitstalling van tientalle pare skoene gegiet in yster wat rivierwaarts wysMeer as 70 000 Jode is vermoor in Budapest tydens die Tweede Wêreldoorlog en een van die gewildste maniere was om hulle te laat aantree op die wal van die Danau-rivier. Hulle moes eers hul skoene uittrek en is dan geskiet sodat hul direk in die rivier kon val en afdryf met die stroom. Die skoene is later weer verkoop as dit nog in ‘n goeie toestand was. Een van die aangrypendste besoekplekke in Budapest.
SZIMPLA KERT RUïNEKROEG:
Na soveel hartseer besluit ons op iets wat die gemoed sal verlig nl. een van die bekende “ruin pubs” in die stad, Szimpla Kert, waar ook toevallig ‘n straatmark die Sondag gehou word. Hierdie kroeë het ontstaan in geboue wat eintlik gesloop moes word en ‘n is deesdae een van die hoogtepunte van die Budapest naglewe (of dag in ons geval). Alles en ek bedoel ALLES in hierdie kroeë, wat uit ‘n hele gebou vol vertrekke bestaan, is herwin. Geroes, gespuitverf, getimmer en aanmekaar geflans – alles hier bymekaar om ‘n fantasiewêreld van die weggooigoed van gister te laat herlewe. Nog ‘n hoogtepunt van die dag.
Later loop ons nog Langos raak in die Karavan Street Food Court net langsaan en maak seker ons verloor nie onnodig ‘n gram op hierdie vakansie nie.
TEE BY DIE NEW YORK CAFE:
Oppad terug na ons woonstel gaan maak ons ‘n draai by die New York Café. Die woord “café” is in hierdie geval ‘n groot eufimisme. Prag en praal begroet ons by die deur en op die maat van ‘n vlytige klavierkeurspel neem ons plaas onder Venesiese glaskandelare en goudbeslaande pilaarboë. Dis ‘n regte koek-en-tee plek vir die rich & famous en omdat ons nie een van die twee is nie, eet ons maar bolle roomys en kyk die koek met verlangende oë agterna – het juis niks geëet by die vorige stop.
Naby ons blyplek het ek die vorige dag ‘n klein kroegie/eetplek gesien wat my fassineer het en ek wil nog vir oulaas daar gaan fotos neem. Die vloer van die For Sale Pub (dis die naam) is vol houtsaagsels gegooi en elke stukkie muur of pilaar is toegeplak met boodskappe wat besoekers op hul plekmatjies geskryf het. Boodskappe is al bo-oor ander boodskappe geplak en terwyl jy teug aan ‘n Hongaarse bier lees jy van mense se drome en wense oor die hele wêreld heen. Na al die geproe en geeet voel ons dis die verkeerdste tyd om die oudste “thermal bath” in Budapest te besoek.
BADTYD:
Die hele stad is besaai met hittebaddens (thermal baths) en Szechenyi bad- en spa is ‘n reuse kompleks met kleiner, groter en heel groot warmbaddens, saunas en ‘n paar lewensredders met oorywerige fluitjies. By die deur word ons ingewag deur ‘n vrou wat op haar jare seker ‘n tronkbewaarder was – gespierd en getooi in wit. Daar word ‘n houthokkie aan ons toegeken en ‘n armband wat dit kan oop en toesluit. Die idee is definitief dat jy al hier by die hokkie moet begin sweet en drie middeljarige, volgestopte vroue sukkel ‘n ronde halfuur om die swembroeke oor natgeswete lywe aan te kry.
By die eerste saal is ‘n lang swembad waar ‘n paar lustelose swemmers plas. Ons verken verder en soos ‘n toneel uit ‘n Hongaarse kunsfliek sit daar 10+ figure roerloos in ‘n warm bad. Ons kan sommmer sien hier is nie plek vir ons nie en stap maar aan na warm poeletjie nommer drie – nog steeds binnenshuis. Gelukkig is hier trappies en ons probeer so grasieus, soos wat mens kan beweeg met 20kg ekstra, instap in die borrelende waters. En was dit nou lekker! Ons dryf saam met nog hangboude tannies en boepie-omies en voel so tuis dat ons glad nie wil uitklim nie. Maar waar is die groot buite-swembaddens dan? Later volg ons ‘n paar jongmense en daar in die pragtige somerson le die mooiste swembaddens ooit. Dit lyk soos ‘n waterpaleis. Drie reuse-reuse swembaddens met heerlike warm water. Een het skaakborde in en mans hang in diepe konsentrasie oor elke skuif. Gelukkig is hier buite ook nie veel kompetisie vir ons nie en daar word gedryf en geplas tot ons oumensvingers het. Budapest is nie Budapest sonder ‘n besoek aan hierdie pragtige, ouwêreldse kompleks nie.
Hierdie stad het my oorrompel my sy bekostigbaarheid, bohemian gevoel en vele fasette van leef en laat leef.




