Skip to main content

Daar le soveel plesier in die verkenning van jou eie omgewing. As obsessiewe snuffelaar en reisiger kan ek net soveel genot put uit ‘n verskuilde koffiewinkel in Loopstraat as een in die Marais distrik in Parys. Die Kaapse Skiereiland is oorlopenstoe vol geurige koffiewinkels, ontbytplekke en sit-en-kuierplekke.

April 2023

Die lys van favourites wissel van jaar tot jaar, maar party bly stapel kuierlekkertes. Hier is my lys vir vanjaar en dit kan nog langer raak soos die maande aanrol.

Lily’s, Beach Road, Mouille Point

Dit het binne en buite tafels wat saamsmelt en jou voortdurend verseker van ‘n pragtige uitsig op die see.  Die ander beste uitsig is die mense wat hier uithang. Daar is altyd een of twee besigheidsmanne in ontwerperspakke, op ‘n selfoon of laptop. Hulle praat gedemp en niemand jaag hul bloeddruk op nie. Oudmodelle, trustfonds kinders en oorsese gaste skuur skouer en wag geduldig vir ‘n tafel.  Die kelners is gaaf, effektief en ken hul spyskaart.  Die koffiekeuses is groot en om te kies nogal moeilik. Die restaurant is heeldag oop, maar my lekkerste kuier is soggens as ‘n vars seebriesie inwaai.

Our Local in Kloofstraat, Kaapstad

Wel hier is nie ‘n uitsig nie, maar die groen/vintage dekor teen  geroeste sinkmure, as jy die versteekte deur vind, is ‘n visie op sy eie. Daar is ‘n lang tafel in die middel met afskortings en ook individuele tafels wat meer snoesig is vir kuier.  Die satsuka is mondwater lekker en die koffie van die beste.  Ek was al eenkeer daar wat die wannabe model\kelnerin te cool was om ons behoorlik te bedien, maar oor die algemeen is die kos en diens puik. Wees gewaarsku dat Saterdagoggende rye mense het wat wag vir tafels.

The Blue Café, Brownlowstr, Tamboerskloof

Sypaadjiekoffie op sy beste op die ruim, groot stoep.  Dis ‘n buurt bymekaarkomplek en  almal gesels met almal. Die local bergie, die verbygangers en soms ook ‘n bekende wat verbyry. Oor ‘n koppie cupppacino raak jy deel van Tamboerskloof se gemeensaamheid. Die kafee gee jou iets van alles en jy voel die hartklop van die Kaap hier.

Truth Coffee Roasting, Buitenkantstraat Kaapstad

Hierdie is ‘n bittereinder wat elke keer op my lysie verskyn. Dit is ‘n paar jaar terug, deur die New Yorker, gekroon as die beste koffiewinkel in die wêreld. Die koffie is tot kuns vervolmaak en word ook hier gerooster, gemaal en vars gemaak – elke koppie koffie enig in sy soort.  Die kelners is hip en happening en dra leervoorskote afgerond met stukkende horlosies en pluiskeile. Dit baie sitplek en elke nou en dan is daar selfs’ n vintage kleremark in die aand. Hul varsgemaalde koffie is my eerste keuse vir die huis plunger.

Sonny & Irene, Kloofstraat, Seepunt

Redelik onlangs oopgemaak en as jy hou van art deco dekor gekruis met ou Hollywood en lekker ontbyt is dit ‘n besoek werd. Net langsaan is ‘n lieflike klein bakkery en hierdie gebak is ook beskikbaar in die restaurant.  Dit is een van die min restaurante wat ontbyt, middagetes en aandetes bedien. Ek gaan sak hoofsaaklik weg in die diep stoele om die dekor te waardeer en seker te maak my ontbyt daag nie op sonder ‘n mimosa en ‘n cortado nie.

Heaven, Burgstraat,  Kaapstad

Om goeie koffie te kry in ‘n kerk is my idee van hemel op aarde.  Die barista is gesout in sy taak en is nie onwillig om nou en dan sy jongste rapliedjie vir jou impromptu te rym nie.  Een van my fav kunstenaars, Henk Serfontein, is ook dikwels daar vir koffie, maar ek het nog nooit die moed gehad om myself voor te stel nie. Ek bewonder  sy mooi kunstenaarshande so op ‘n afstand oor kerkkoffie en die wydste verskeidenheid musiek denkbaar.

The Egghead, Kloofstraat, Kaapstad

As jy graag in ‘n 70’s droom wil instap is dit die American Diner vir jou.  Met ‘n sportsmotor vir ‘n koffiemasjien en okerkleur leer dinette hoekies  druk jy in klein gaatjies in saam met millenials tot die plaaslike ouetehuis inwoners.

Van transistor radios tot vintage leeslampe versier die absolute juweel.  Die kos is tipies Amerikaans, maar die koffie so internasionaal geurig soos kan kom.

Origin Coffee Roasting Café, Hudsonstraat, De Waterkant

Sommer net vir sy siersteen warehouse look, uitstekende koffie en koffiegereedskap te koop. Dis naby al die ander lekker plekke in De Waterkant – ‘n wegsteek woonbuurt juweel. Die koffie is seriously goed en jy kan dadelik sien die baristas ken die kuns van maal, brou en skink..

The Strangers Club, Braemarstraat, Groenpunt

‘n Ou herehuis is omskep in ‘n koffie/ontbyt/middagete restaurant.  Jy staan tou vir ‘n tafel teen 10:00 soggens, maar as jy eers binne is, is daar vele vertrekke om te verken.  Die ontbyt is aan te beveel en natuurlik is die koffie uit die boonste rakke. Aan die agterkant van die gebou is ‘n winkel met Afrika en Suid-Afrikaanse produkte en een van die vertrekke binne het die mooiste linneklere en kaftans.  Jy skuur skouer met brandmaer modelle en oud-celebs, want die film studios is in die omgewing.  Gaan vroegoggend en teug aan ‘n geurige espresso terwyl die buurt se inwoners instroom.

Jean Deli, Klein Roosboom, Durbanville

By die aangesig van die dekadente koeke vergeet mens skoon dat jy eintlik ontbyt wou eet. Hier kan jy koffie, ontbyt en middagete. Jy kan selfs jou eie piekniekmandjie opmaak en in die wingerd op draadtuinstelle of ‘n kombers kuier.  Dan is daar ook die wynproelokaal met temagrotte vir langbeen wynproesesssies. ‘n Bottel Klein Roosboom, bekroonde wyn pas by enige geleentheid.  Dis maklik om ‘n hele dag hier te spandeer tussen al die opsies.  As gaste uit die Noorde of oorsee kom kuier is dit my heel eerste keuse om die Kaap af te show.

Alchemy Koffiewinkel, Welgemoed

Dis my local dive wat die heel beste koffie in die Suidelike Halfrond self rooster, maal en puik brou.  Logies dat jy ook jou koffie-aankope hier kan doen. Dis skaars 5 min se stap van my huis en die trooskoppie wat my dikwels deur ‘n besige dag trek.

Ten slotte:  Al bogenoemde koffiewinkels/ restaurante het ook dekadente eetgoed en meestal wynlyste ook.  Begin dus met die beste koffie en as jy nie haastig is nie… werk deur die menus vir pure baldadigheid.

Leave a Reply