Skip to main content

Dis Covid-19 grendeltyd en behalwe die gebrek aan drank, word die haarsalonne en skoonheidsalonne ook verklaar tot kiemopgaarders. Dit word oornag gesluit tot verdere kennisgewing.

Grendeltyd en highlights werk nie saam nie. Nee, hare is goed wat groei en vroue se obsessie met strepe verander in sewe kleurkolle laer af as gewoonlik. Blond groei in skakerings uit. Skielik sien jy wie al vir jare nie meer blond is nie en baie mans voel hulle het ‘n foutiewe model gekry. Muisvaal en ‘n sportmotor lyk nie goed saam nie.  

Desperate kliënte versamel in Clicks se haarkleurgange. Opgevoede dames skouer ander vir die blondste boksie op die rak. Tussen Baby Blonde, Light Ash Blonde en Caramel Blonde kan baie dinge skeefloop.  Die probleem is dat hierdie kleure gemaak is vir volle aanwending en as jy weer sien het jy amberkleurige wortels, kerriegeel tussengroeisels en spierwit punte. Verder voel jou hare net duskant ‘n klapperhaarmatras en jou eens glansende blonde fyn strepies is nou in skakerings van pampoen, gouestroop en Jigwit.

Die rooikoppe se mans ontdek hulle is toe al die tyd met  vaalbruin meisies getroud wat boonop alles nog grys strepe ook deurslaan. Weereens Clicks toe.  Nou hier vang die fan toe die beetslaai.  Rooi is niemand se maat nie. Daar is enige iets van Berry Red tot Mahogany en Purple Haze.  Elkeen meer rooi as die ander.  Jy vergeet om Vaseline om haarlyn te smeer en die handskoene werk nie lekker nie.  Vir twee weke loop jy rond met rooi blertse tot teen jou wenkbroue en  hande wat lyk of beetseisoen aangebreek het.

Swartkoppe met gryshare is ‘n spesie heel op hul eie.  Vir weke het ek vroue op straat gesien met ‘n perfekte wit streep in die middel wat oor tyd al breër geraak het.   Die slape het ook begin fade en selfs die haarlyn het wit kolle ontwikkel op onwaarskynlike plekke. Net soos rooikoppe is swart haarkleur ook nie gemaak vir die ongeoefende hande van die gemiddelde opgesmukte vrou nie. ‘n Mens kan wel tydelike kleure haarsprei koop vir donker haarlyne wat wit vertoon, maar die belangrike woord hier om te onthou is…. tydelik.  Enige vrou in haar oorgangsjare sweet en spreiers dam enige ouderdom beet. As jy weer sien wiggel daar ‘n swart straaltjie oor jou voorkop.

Haarverlengings wat uitgroei is ‘n heel ander spookstorie.  Toutjieskop is ‘n vleiende beskrywing vir hierdie voorheen onbekende verskynsel.  Meeste verlengings is van sintetiese materiaal gemaak en begin boonop nog koek.  Tot voëls vlieg nader. As jy weer sien lyk ‘n perfekte ontvangsdame, van 6 maande gelede, soos ‘n rastameisie in ‘n snyerspakkie. 

Haarsnitte en modieuse kapsels groei vinnig uit en tussen luiperdkolle en verslonsde slierte help stomp naels ook nie om die saak te verbeter nie.  My eie poging om twee hande vals naels te bewimpel het uitgeloop op vingers wat vir dae aanmekaar vasgegom was. Dus maar stomp afgesny en sommer die velletjies self afgekou.

Dan is daar nog ‘n geheim waarvan min mans bewus is.  Wakse en wikse in skoonheidsalonne.  Meeste dink hul meisies/vroue is sonder armhare en  skaamhare gebore.  Nee, toe nie.  My bolip wat so mooi blink skyn in die sonlig moet weekliks onthaar word anders ontstaan daar donsies wat  kos kan versamel. Modegiere vir hare meer ondertoe is ook in sy peetjie, want die brazilian lyk nou soos ‘n stekelbaardbrak en die kojak lyk meer na Ant Stienie – kan selfs krullers insit as jy sou wou.

Wie ookal gesê het skoonheid vergaan, maar deug bly staan het duidelik nog nooit ‘n vrou ontneem van haar haarkapper en skoonheidsdeskundige nie.  Met die lockdown ramp van Covid19 het skoonheid en deug sommer in die eerste drie weke by die venster uit gewaai.

Leave a Reply