Ons het die hele kwartaal lank geoefen aan die Kersfees Hallelujaliedjies en die eeue oue Kersverhaal.
Liebendal se plaasskooltjie huisves presies 22 kinders van Sub A tot Standerd 5. Ek is in Sub A, maar loop al vir twee jaar weg skool toe so ken al die liedjies uit my kop.
Daar is elke week tuinbouperiodes waar elkeen aan sy groentetuin moet werk. Die oefentye veroorsaak klomp verkorte periodes en Josef se tamatieplantjies ly erg hieronder. Twee van die Wyse Manne bewerk saam ’n lappie wortels, maar dit gaan definitief nie die Kerstafel haal vanjaar nie. Maria (ek) woon naby die skool en gaan gee namiddae my kool skelm water.
Drie dae voor die konsert word alle tafeltjies en banke stoorkamer toe gedra deur die skoliere. ’n Lelike geveg breek uit toe een van die engele halfhartig dra.
Daar word ’n draad gespan so ent van die swartbord af – in die breedte van die klaskamer en juffrou se lakens word mooi omgevou en vasgewerk sodat dit kan oop en toe gly.
Dis die aand van die groot konsert. Die hele toneel van Jesus se geboorte daag op in kamerjasse, serpe om die kop en skapiekartongesiggies. Groot Fanie is die boom en is toegepak van die blare – kop tot toon. Sover hy loop val die blare af en juffrou hardloop agtterna om te red wat te redde is.
Juffrou is ook die seremonievrou en verwelkom alle ouers, op hul eie huisstoele, baie hartlik.
Oom Karel, die voorvatter van die ouers, spreek ook sy dank uit aan almal wat vanjaar help verf, omploeg en gereeld vensters ingesit het. ’n Paar boekpryse word oorhandig vir mooi lees, goeie somme of sommer net omdat jy in die skool was.
Die gordyne gaan weer toe en die agterste ligte van die klas word afgesit. Net twee bedlampjes brand op die vloer as die skape handeviervoet inkom. Een skaap (Bennie) gaan sit op die lusernbale, maar juffrou beduie van die kant af dat skape nie sit nie.
Voor die bale staan ’n houtwiegie en as Maria en Josef instap met die baba Jesus trap Josef Maria se japon vas. Dit geskied nie sonder ’n baie vuil kyk nie, maar gelukkig is baba Jesus ongedeerd en kan veilig in die wiegie geplaas word. Dit gebeur alles terwyl juffrou die verhaal van die geboorte voorlees.
Kinderkerskonserte is baie woorde, gebare en dan nog liedjes sing ook. Die props wil nie saamwerk nie en soms vergeet die gordynman sy taak.
Die herbergier is Pieter wat sy eie woorde opmaak om te verduidelik dat die hotel nie plek het nie. Hy wys ook sommer so skrams na die lusernbale toe en laat die gaste verstaan dis al slaapplek. Joseph tel stry op en sê hy verkies ’n bed, maar Maria kalmeer hom en hulle settle lekker in.
Rus is maar min en Maria wil nog ’n doek omruil toe verskyn die engele met lang versies – vir maande geoefen. Die skape het intussen onrustig begin raak en een (Bennie) maak asof hy wil beenlig teen die bale.
Skaars is die engele weg of die Wyse Manne daag op met mirrors, wierook en ’n baie onduidelike woord. By die tyd het Maria genoeg gehad van al die onderbrekings en gaan sit sommer op die vloer.
Die aand word afgeeïndig met Stille Nag en Maria moet die eerste versie sing. Sy slaan ’n “blank” en sing haar eie woorde. Gelukkig val juffrou saam in en wys dat die hele skool en ouers moet saamsing.
Almal stap die verhoog af en daar verlate in die krip bly baba Jesus lê. Moeder Maria is nêrens te vinde nie.




