Dubai is die modernste, blinkste en nuutste stad wat ek al gesien het. Dit lyk of iemand al die wildste en duurste argiteksdrome van die wêreld versamel het en hier kom strooi het oor die dorre woestyn.
Nie dat jy eintlik agterkom jy is in ‘n woestyn as jy op die hipermoderne hoofpaaie ry en oral oases van waterkanale, palmbome en natuurskoon tussen die paleisagtige geboue opduik nie. Die middelman van elke hoofpad is versier met kleurvolle blomme. Een oggend nog alles rooi en wit vars blomplante en die volgende oggend pienk en pers. Oornag is alles uitgehaal en nuwes oorgeplant.
Wel rondom is nog steeds woestyn en dit beteken sandduine. So… ons bespreek ‘n woestynsafari-rit vir ‘n bietjie afleiding van al die oorweldigende oorvloed. Ons word voor ons deur opgelaai in ‘n 4X4 Prado deur ‘n drywer wat soos die “computer analyst” van Beautiful in Beaufort-Wes lyk. ‘n Vaal mannetjie sonder ‘n kopdoek en met ‘n effense geil sweetruikie. Hy lyk maar stug en onindrukwekkend en al my visioene van ‘n Arabiese Ridder op sy 4X4 is daarmee heen. Oh well, dit was in elk geval ‘n spesiale aanbod so ons klim maar in.
Die stad stop in die middel van nêrens en voor ons uit lê die dorre vlaktes van die Verenigde Emirate. Hier en daar ‘n bossie, ‘n verweerde boompie en te veel sand.
Die eerste stop is by ‘n curioshop-cum-algemene handelaar. Hulle bied rakke vol tjek-kopdoeke, sjokolade en viltkameeltjies te koop aan en o ja roomys ook. Die plekkie is hopeloos te klein vir al die safaritoeriste (alle verskillende safaritoere se voertuie stop hier op dieselfde tyd). Stoei vir ‘n doek en hol vir die bakkie raak ‘n ernstige tydverdryf vir 20 minute.
Computerman praat niks en ons ry houtgerus saam – waar is die duine dan? Skielik swenk hy links van die pad af en begin ref oor ‘n stukkie rowwe terrein. En net daar voor ons duik rye en rye golwende sandduine op. Skielik kry ons drywer lewe. Hy gooi die bakkie in sandduinrat en daar trek ons! Dit bokspring, gly en seil duin-af en duin-op. Sy spesialiteit is blykbaar om al op die skerpste randjie van die duin te ry en dan te kyk na watter kant ons die vinnigste kan afduik voor die enjin weer begin groffel en greun vir die volgende oprit.
My sus Rika doen al die rit vir die derde keer in haar lewe, maar gil en vloek die heel hardste van almal. Die ander meisies wat ook in die bakkie is verstaan nie eens Afrikaans nie, maar hul lag dat die trane loop vir haar – dis nou as hul nie gil dat die trane loop nie.
Ek ontdek die wonderlikste ding van myself! Ek absoluut “love” die gebokspring en swenkseilery oor die duine en hits net vir computerman aan. Dis nou tot ‘n handsak my van agter tref. Ons drywer lag dat net swart tabaktanne wys en besluit daar en dan om te ry tot ek bang raak. Maar nee! Ek het my roeping gemis. In my volgende lewe kom ek definitief terug as ‘n jaagduiwel. Toe my twee susters hees gegil is, soos twee ou damganse, kom ons tot stilstand op een van die hoogste duine.
Sandduin ry is ‘n adrenaliensport waarvan jy of wil vlug of veg vir asem om nog te gil.
As die son sy laaste strale gooi oor die woestyn hou ons stil by die Bedoeinkamp. Hier wag die heerlikste fees op ons. Japattas, gebraaide skaap en slaaie. Almal sit op groot kussings langs rye kniehoogte tafels. Die oop verhoog is in die middel en bestrooi met juweelkleurige kelims. Rondom alles is stalletjies vir opdress soos ‘n Arabiese familie; henna-tattoeëring, sandkuns, kelimverkope of om die hubbly bubbly te rook.
Ek oortuig die susters om my te volg. Die klein rietvertrek is toe van die manne en hul rook, maar ek druk deur en kry ‘n pyp en tabak vir ons al drie saam. Met die eerste trek skop my asma in, maar ek gee nie op nie en teug aan. Susters kry ook gou die trick en daar sit en rook ons toe soos drie ou gypsietantes dat die rookwolke staan en manne oopmond toekyk.
Na ete kom die bellydancer op die verhoog. Sy het volop heupe, ‘n magie maar geen ken nie. Met die gewriemel van klokkies en chiffon dans sy in die maanlig terwyl die tromme al vinniger slaan. Ons is vooraf gewaarsku om nie saam te dans nie, maar na al die kos is die kanse maar skraal. Laastens kom ‘n man met ‘n baie wye hoepelrok op die verhoog. Hy tol in die rondte en die rok tol saam. Al wyer en wyer en hoër en hoër tot dit tot by sy nek draai. Hy is ‘n meester met die tolletjierok en almal klap hard saam hande op maat van die musiek. Die klimaks is as die rok se liggies skielik aangeskakel word en soos ‘n reuse zwerm vuurvliegies swymel en draai deur die louwarm woestynnag.
Wat ‘n middag, wat ‘n aand, wat ‘n wonderlike ervaring om aan die bopunt van Afrika êrens in die woestynnag weg te stap met die klanke van sitars en tamboeryne in jou ore. Die volmaan bloedrooi op die horizon en ‘n paar verdwaalde kamele wat in die maanskyn le en herkou.




