Skip to main content

Kroasie het my weer herinner wanneer tamaties in seisoen is, dat dit ok is om 'n 'n Speedo kuier al is jy 70 en dat kommunikasie soveel meer as woorde is.

Dis Julie, dis somer en Croatia Airlines land op ‘n bewend-warm Split Lughawe om 12h40. Die lughawe is die beste opsie (net mooi in die middel) as jy die Dalmatiese Kus van Kroasië wil besoek. Twee en ‘n halfuur se vlug vanaf Londen of Frankfurt en siedaar Split se lughawe doem onder jou op.

Kroasie is soos die Franse Rivera 50 jaar terug – nie oorbenut, oorbebou en vuilgevat deur gulsige toerismehande nie. Dit beteken dat daar nie ‘n vloot van withandskoentoergidse staan om jou die wonders van die land te laat ontdek nie.

Jy stap by die  lughawe gebou uit oor ‘n onindrukwekkende parkeerterrein en vind die plaaslike bushalte en… dis waar die ongelooflike avontuur van reis teen die Adriatiese See begin.

Die buskondukteur sweet in sy vessie elke keer as die bus hortend tot stilstand kom vir nog passasiers, maar jy is lig en vrolik want Trogir lê net 5km van die lughawe. Hierdie dorpie met sy pragtige ou straatjies wemel van seiljagte, visruik-seekosstalletjies en genoeg roomys om enige Eskimo groen van jaloesie te laat. By Trogir se toerismekantoor vind die vriendelike dame binne 7 minute vir jou die beste kamer in die dorp – lugreëling; en-suite badkamer en ‘n bak vol yskoue vye op die spieëltafel.

Laatmiddag drentel jy saam met almal langs die Riva (waterfront) en doen wat Kroate doen – drink ekspresso of ‘n biertjie of drentel met ‘n roomys al langs die skemerwater tot dit tyd is aandete.

Die volgende oggend klim jy honderde trappe uit in die St Barbara Kerk en word beloon met die mooiste uitsig oor Trogir, Ciovo en tot sover as die eerste gebou van Split self.

Split:  Die Docletian Paleis slaan jou asem weg en so ook die groot snye pizza te koop naby die waterfront. Nou straatjies kronkel jou deurmekaar en as jy weer sien het jy al drie keer die vismark gesirkel. Nie dat noodwendig sleg is nie, want hier sien jy visse, seekatte en seegediertes wat nuwe betekenis aan Fruite de Mare gee.

Naby die veerboothawe is ‘n heerlike vars vrugtemark en Made In China stalletjies wat Bellville stasie na ‘n weeshuispiekniek laat lyk. Ook hier wentel vroegaand-aktiwiteite om die Riva en wie nie stap, babastootwaentjie stoot, fietsry of draf hierlangs nie het nie die “art of living in Split” onder die knie nie.

My eerste eilandstop is Hvar – so een uur en 50 min per veerboot (ferry). Stari Grad is die ankergooidorpie hier en terwyl ‘n veerbootwerker sleepvoet sy klapperhaarmat uitdra vir die passasiers & voertuie stap die voetgangers aan wal. Wat sal die vervoer wees? Die ou geel skoolbus, die geroesde ou Valiant of die swartroktannie met die verweerde rooms/ sobe teken? Ek dink aan onse eie Valiant Swart en besluit as hy sover kon kom met die kar kan ek seker ook 2.5km ver ry met hierdie geroesde weergawe.

Hvar-eiland is ongeveer 67km in lengte en 4km in breedte en veral bekend vir laventel, uiters skoon lug en reenlose dae. Talle dorpies polkadot die kuslyn en geen kuiertjie is voltrek as jy nie ten minste Hvar Town, Jelsa, Vela Stineva en Sucuraj gesien het nie. ‘n Dagtrippie deur ‘n ou enkellaan grondtonnel neem jou na Dol en Zlatan Otok waar die heerlikste wyn gemaak word van wingerde wat so hoog soos Tafelberg se hoogste piek groei. Daar is ‘n onderwater wynproe-lokaal of jy kan op die stoep sit en ‘n glasie pro terwyl jy met jou voete in die water skop en borde vol wyngestoomde mossels verorber.

Swem op Hvar-eiland is ook nie ‘n gemiddelde aktiwiteit nie. Die skoonste, heerlikste warm water waarin jy sommer direk van die rotse af inplons. Geen sand wat aan die tan lotion vasklou en skaaf waar nie geskawe moet word nie. Hier is meer klippe as in die res van die wêreld wat dit geraadsaam maak om swemskoene in te pak (of by die talle stalletjies plaaslik te koop), maar as jy eers in die water is, is alles vergete en jy dobber ure lank in jou eie reuse Adriatiese spa! Elke groterige strand is gekit met strandsambrele en stoele te huur en daar is selfs cocktails en hul die weergawe van ‘n takeaway: cevapcicic in ‘n pitabrood.

Die baaiers is ook verfrissend om te aanskou. Van die 86jarige Teta Maria tot die wulpse jong dorpsmeisies swem almal saam.  Niemand gee om hoe hul lyk in ‘n baaikostuum nie. Somervakansies is kort en die helende soutwater van die Adriatiese is vir almal om soveel as moontlik te geniet.

Saans drentel jy deur Stari Grad se strate en hang besluiteloos rond voor storieboekrestaurantjies met name uit vergange dae. Antika se baas Bosko groet vriendelik vanaf sy bankie voor die deur en bied ‘n knertsie aan vir die pad vorentoe. Later sit ons aan by Jorin Podrum en lees voorin die spyskaart dat William en Wallace Simpson ook eenmaal vir ‘n hele week lank in die hawe was en elke aand hier kom eet het.

Goed genoeg vir ‘n geabdikeerde koning – goed genoeg vir my. 

Die volgende aand sing die dorp se beroemde Klapa (mannekoor) in die Petar Hektorovic paleis – Petar Hektorovic is een van die literêre helde van Kroasie en sy somerhuis (paleis) versier die middedorp van Stari Grad. Hier swem visse lustig tussen visdam en see en ‘n lieflike tuin sorg vir pragtige agtergronddekor op hierdie sangaand. Die burgemeester maak spiets, die toerismehoof verwelkom almal en ‘n mooi plaaslike maagd lees die geskiedenis van Stari Grad. Hierna sing die Klapa die krieke en die skare stil. Ek herken die slagter in die middel voor en agter staan die burgemeester homself – nou netjies getooi in pikswart broeke, wit hempde en rooi bande om die mae – sing is ernstige werk.

Soggens koop jy sjokolade croissants by Pekarna Paris en Ivana ken jou al so goed – sy het die pakkie opgemaak voor jy nog gevra het. Dan gaan eet jy jou aankopen en drink jy koffie op die stoep van een van die talle Cafe Bars. Jy sit daar saam met die jong ma’s en hul stootwaentjies, die ou omies in hul onderhempde en ‘n paar tannies wat net “gou” iets by die winkel moes kry. Net hier verstaan jy die woord “Pomaalo” baie goed.  Relax, more is nog ‘n dag…

Te gou glip die dae hier onder jou uit en skielik is dit die laaste aand voor jou vertrek. Teen hierdie tyd ken jy al jou bure langsaan, oorkant en ook twee huise verder. Almal kom groet: Davor is ‘n sokker “scout” vir Bosnië se nasionale span en drink heelaand in sy donkerbril, Speedo en bandana; Natasha is die sleutelbewaarder van elke huis in die straat en ook die amptelike nuusbulletin. Teta Maja is 89 jaar en hou al vir 56 jaar lank hier vakansie . Sy het al ‘n Tweede Wêreldoorlog en die Bosniese burgeroorlog oorleef – tog val ‘n glimlag maklik om haar oë. Sy verstaan niks wat ek se, maar ons gesels ure lank dmv handgebare, glasies klink en buurman wat tolk speel.

Vroegdag terug oppad terug Split toe. Te gou, te vinnig het die dae verbygeglip. Ons vaar uit die hawe en ‘n stukkie bly agter, want hierdie dorpie het my ingetrek in sy daaglikse leefspoor. My weer laat onthou wanneer tamaties in seisoen is en geleer die slagter en die burgemeester sing albei beautiful. ‘n Split sekonde teen die Adriatiese Kus word ‘n leeftyd van memories.

Leave a Reply