Die kleiner dorpies tussen Lissabon en Pinhao slaan jou tussen die oe met kleur, speserygeure en warmbloedige portdrankies.
Ons huur ‘n motor vir 12 dae en ry met behulp van Google Maps flink uit Lissabon. Sommer dadelik op die tolpad na Porto. Daar word een of twee maal probeer om op die kleiner paaie te vorder, maar êrens het die Portugese verkeersowerhede by Engeland gaan afloer en verkeersirkels heeltemal oordoen.
Porto:
Ons nader die verblyf in Porto vanuit allerhande grondpadafdraaie en ontmoontlike straatjies, maar uiteindelik waai die gasvrou vrolik onder in ‘n haarnaaldbog. Natuurlik is daar Port as verwelkomingsdrankie en gasvrou wys ook waar die naaste kafee en goedkoopste restaurant is – letterlik ‘n spoegie van die voordeur af.
Ons besluit op die geel hop-on hop-off bustoer en ry vir die lekkerte sommer paar keer heen en weer. Jy kan weliswaar die kleinerige middestad van Porto per voet verken, maar die busroete neem jou ook langs die see en tot by die hawe en maak ‘n laaste stop by Gaia (waar port al vir eeue gestoor word). Dit gee jou ‘n goeie oriëntasie van Porto en om die toer mooi in te wy klim ons naby die beroemde boekwinkel, Livraria Lello, af. ‘n Toegangskaartjie is 5 Euro , maar as jy ’n boek koop trek hulle dit af. Jare voor die Harry Potterboeke het JK Rowling in Porto gewoon saam met haar man en die trappe in haar boeke is geskoei op hierdie boekwinkel se slangetjieleertjie-trappe. Daar is voorlesings en beelde en ‘n magdom boeke. My vonds van die dag is ‘n geillustreerde boek oor Frida Kahlo. Dit is in Portugees geskryf, maar so mooi met pop-up beelde, blomme en huise.
Die stasiegebou het blou teelwerk wat verhale uit die geskiedenis uitbeeld van vloer tot dak en oral maal toeriste om dit te bewonder. Buite skel ek mooi op Afrikaans as ‘n ongeskikte taximan ons nie wil huistoe neem nie.
Dag 3 dwaal ons al met die groot inkopiestraat, Rua de Catarina af en besoek die bekende Café Majestic waar kelners jou bedien in strikdasse met koekporsies fyntjies gerangskik op die bord. Ek neem nog talle blouteelkerke en art deco geboue af. Ons is traag om aan te beweeg, maar daar wag nog baie om te sien.
Pinhao:
Pinhao dorpie lê in die Dourovallei – bekend vir port en wyne. Die vallei omhels die Tagusrivier en dit is selfs moontlik om vanaf Porto ‘n bootvaart tot hier te doen. Ons ry egter heerlik in ons karretjie en kom laatmiddag in die klein dorpie aan. Dit is een lang hoofstraat wat parallel met die rivier lê en soos gewoonlik is dit weer trappe op na die verblyf. Die hoogtepunt hier is die lieflike wynplase/kelders en Port wat oral bedien word. Ons besoek die moderne Quinta do Bomfim en vind uit dat Port in wit, rooi en rosé te proe is. Port is ‘n soetwyn wat gefortifiseer word met brandewyn of ekstra alkohol – dus ‘n goeie skop in. Oorkant Pinhao kuier ons ook by Quinta das Carvalhas vir nog proe en rondsit op die diep rusbanke. Die volgende op die lys is ‘n modderige reënpaadjie na ‘n ander wynplaas hoog op teen die heuwels, genaamd Quinta do Jalloto. Die familie verbou nie net port nie, maar ook olywe en dit is ‘n interessante proekombinasie. Dis ‘n pragtige klein plekkie met die mooiste Instagram-uitsig oor die vallei. Kontoerlyne en wingerde omsoom die heuwels soos groen kantvalletjies. Laatmiddag klim ons op ‘n boot en vaar al deur die vallei met wingerde en ‘n arend of twee wat stil in die hemel rondsweef. Die bootsman ontferm hom oor drie middeljarige tannies wat natreën en meer letterlik meters van ons motor af vas.
Aveiro:
Die volgende dag ry ons Aveiro toe wat ook teen die kus le onderkant Porto. Hier is lang kleurvolle bote wat deur kanale vaar en dit word die Venesie van Portugal genoem. Ons bly in die Aveiro Dock Apartments, ‘n pragtige woonstelletjie in die hartjie van al die aksie. Ook hier is dit reënerig en ons probeer ‘n Tuk-Tuk dorpstoer – duur en definitief nie die geld werd nie.
Oppad vanaf Aveiro na Obidos ry ons by die pragtige dorpie, Costa Nova langs. Streepsuiker-houthuise al langs die strand is styf teen mekaar gerangskik met oordadige gestreepte mure en malvas wat oral by vensterbanke uitloer. Dit was vroeër jare vissermanshuise, maar vandag gesogte vankansieverblyf. Rooi, geel, blou, groen – streep op streep. Ons neem fotos, koop yskasmagnete en drink koffie voor die reis hervat word.
Obidos:
Obidos is een van my hoogtepunte van die hele Portugese reis (en daar was BAIE hoogtepunte). As verjaardaggeskenk vir die susters het ek by die Literary Man Hotel bespreek wat paar tree van die dorpie se stadspoort sit. Elke muur van die hotel is vol boeke gepak wat gelees en gekoop kan word. Ousus die leser is in die sewende hemel en ons kry haar met moeite weer op straat.
Die dorpie lyk soos ‘n prentjie op ‘n gevorderde legkaartboks. Een klein klereboetiek se hele deur en venster is versier met kunsrose en ‘n pienk fiets vol mandjies blomme. Dit is ‘n skildery van spierwit mure en potblou vensterrame. Elke winkeltjie het die mooiste keramiek, vars groente of juwele en ons koop elkeen ‘n vriendskapsring. Dit het rondom steentjies en jy moet drie wense wens as jy dit aansit. Elke keer as ‘n steen uitval sal ‘n wens waar word. Dis nou wat ek goeie verkoopstegniek noem. Daar is ook kersielikeur in sjokoladedoppies en weereens sardientjieblikkies met skilderagtige prentjies op. Oral pop restaurantjies uit en die klein dorpie oorval jou met sy kreatiwiteit en kultuur.
Sintra:
Sintra is ons laaste besoekpunt voor ons terugkeer na Lissabon. Die hele dorp sit teen ‘n steil bult en die pad na die middedorp is ‘n eenrigtingstraat. As jy dus verkeerd ry moet jy ‘n sirkelroete ry wat jou elke keer 10 minute neem. Onnodig om te se… ons sirkel ‘n hele paar maal, want die gasheer van ons verblyf antwoord nie sy foon en ons is swak met kaarte en aanwysings. Parkering is ‘n nagmerrie, maar ons wurm by ‘n gaatjie in en strompel oorverhit na ‘n restaurantjie naby Google Maps se idee van ons verblyf. Gelukkig vind die gasheer ons en help die tasse opstoei tot in die woonstel. Waarom kies ek alewig verblyf op die hoogste vloere is ‘n vraag wat gereeld op die trippie gevra is. Weens ‘n glips, in my datums van bespreking, is die woonstel kleiner en ek slaap op ‘n matras op die vloer. Dit is egter weereens baie sentraal en ‘n klipgooi van al die lekker winkeltjies en restaurante. Hier ontdek ons gebreide serp/mantels in die mooiste kleure en ook ‘n pragtige jongman wat ons van die straat af nooi na sy restaurant. Hy pose laataand ewe ordentlik tussen die tantes en gee geduldig sy Instagramnaam vir ons.
Die Sintra Kasteel lyk soos ‘n regte egte kinderboek-illustrasie: rooi, heldergeel en vol torinkies, versteekte gange en hoekies. By een van die uitkyktorings laat ek my afneem in een van die nuwe gebreide serptogamanteltjies. Later sien ek ‘n tapyt rooi blomme onder ‘n boom en ‘n klein seuntjie wat dwarrels jaag deur die blare.
Te gou is ons tyd verby en ons slaap nog vir oulaas in Lissabon.




