Skip to main content

Vroegdag is ek en die seuns uit by die deur met die soveelste halfwas-kaart , warmgoed en ‘n sambreel. Ja dit sous hier in die Loire-vallei. Van die Franse somer sien ek net op die weerkaart – daar na Nice se kant toe.

VlerkeWings

Die mikpunt is ‘n dorpie so 24km van Samur (ons het natuurlik ‘n paar kwinkslae uitgedink oor hierdie naam) met die naam van Allonnes en meer spesifiek Brian-sur-Allonnes, ‘n argeologiese “site” waar elke jaar ‘n Middeleeuse fees gehou word. Bo verwagting verstaan ons die padkaart perfek en kom binne ‘n halfuur by die bestemming. Al tussen rye bome deur tot diep in ‘n woud. Dis waar die fees vandag is. Dit het ‘n groot houtboogingang tussen twee dubbelverdieping houtgeboue en twee tannies met lang rokke en med-evil kopdoeke verkoop die kaartjies, bonjour en roep ‘n Engelse gids nader. Hy maak half verskoning dat dit ‘n regte “village” fees is en nie ‘n professionele gedoente nie. Ons kan nie blyer wees nie en neem dadelik ‘n foto saam met hom. Sy kortbroek steek so half uit onder sy bruinerige kaki-oorjurkie.

Die fees word amptelik geopen met ‘n feesbestuurder in gestreepte sokkies en puntleerskoene wat onder sy kopdoek sukkel om die bril in posisie te hou vir die toespraak se lees. Hy word luid toegejuig en swaai swierig ‘n swaard rondom sy ronde magie.

VlerkeWings

Oral in die woud staan opslaan houtgehuggies met tipiese handwerk uit die middeleeue. Mandjievlegters, houtsneewerkers, ystersmede, ‘n kruiekwak en selfs ‘n vrou wat die kinders leer om daardie eienaardige ketting “outfits” te maak wat die soldate op ‘n stadium so graag gedra het. By een stalletjie staan ‘n man in opkrul-leersandale met ‘n groot skaapvel om sy skouers en sy vriend die soldaat het al sy leerborsstuk en skild aangegord.  Vroue en mans in kostuums maak gereed vir die straatoptog. Dan is dit sulke tyd en beervelle, skaapvelle, kettingharnasse en ysterskilde staan in gelid vir die straatvertoon.

Heel agter loop so vyfstuks musikante wat sekerlik gereeld ‘n zol of twee rook. Hulle maak die mooiste musiek met antieke instruments – een is ‘n skaap se pensvel wat toegebind is en wat vol wind is, hy druk op die sak en dan kom daar klanke uit die nou nekkie.

Die seuns geniet al die antieke speletjies soos pyl en boogskiet, bylgooi en spiesgooi en die 2 Euro-stukke vlieg vir elke poging. Maar wie kla – ons het “fun”. Die omie wat help by die pyl-en-boogskietery lyk soos een van die karakters in Braveheart wat sommer al heel aan die begin van die fliek afgemaai is. Terwyl hul skiet en gooi “pose” ek saam met ‘n soldaat of twee en maak sommer vir fun die grote met die rooi outfit bietjie skrik en word beloon met ‘n bylswaai in my rigting.

VlerkeWings

Middagete is roosterkoeke wat in pizza-oonde (lyk altans so) gaargemaak word en dan met Nutella (sekerlik nie baie middeleeus), roomkaas, gerookte worsies of vark van die spit gestop word. Dit smaak heerlik en die sous drup sulke strepe oor ons kenne. Dit word afgesluk met heerlike Rosé wyn van die omgewing en verder vasgestamp met ‘n soetigheidjie.

VlerkeWings

Die poeding van die dag is iets tussen ‘n pannekoek en ‘n roosterkoek – goudbruin gebak en dan in strooisuiker gedoop. Dit word verder bedrup met aarbei of sjokoladesous of as jy nog dapperder wil wees, met rum wat geflambé word. Net om seker te maak ek verloor nie ‘n gram nie, kies ek aarbeisous en rum.

Later is dit tyd vir die vegters/soldate op perde om hul vegterskuns te wys. Almal gallop in ‘n lang baan af en moet verskillende take uitvoer. Die eerste een is om soveel skilde (op pale) as moontlik om te slaan met die lans.

Die volgende vaardigheid is om die ringe, wat bo aan ‘n houtbalk hang, af te haak met die lans en laastens moet elke vegter kyk hoeveel koppe hy kan afslaan van elke paal. Gelukkig is dit net haarkapperkoppe met pruike op wat staangemaak is op foamolite stutte. Pierre de Br’ien (by ons sommer Pierre de Bruyn) is die ster van die dag en doen al die toertjies perfek en baie pronkerig. Na ‘n lang gesoek vind ek die seuns weer by die ystersmid se werkswinkel – tussen ‘n skare mense wat hul hom so fassinerend vind. Francois koop ‘n ystermessie vir sy Pa en Paultjie se pa kry ‘n ysterslang wat om ‘n droë houttak krul. Ek het soos gewoonlik ‘n oorbelstalletjie raakgeloop en alhoewel dit te veel “bling” vir die middeleeue is, gooi ek alle finansiële bekommernisse oorboord en koop ‘n mooi paar met turkooisblomme en blink steentjies.

Laatmiddag drentel ons traag uitgang se kant toe en loer nog vir oulaas by elke stalletjie of werkswinkel in. Die son loer waterig deur die hoë bome en dis tyd vir huistoe gaan. Vir ‘n hele dag lank was ons drie deel van die middeleeuse mense, kos en dinge en was die werklikheid net ‘n vae skim.

Leave a Reply